Gautengse polisie is op soek na die kêrel van die ma wie se kinders se liggame verlede Woensdag geblinddoek in ʼn vlak graf aangetref is.
Die ma het intussen haar kinders geïdentifiseer.
Maroela Media het vroeër berig die twee kinders se liggame is geblinddoek en met hul hande vasgebind in die stuk veld agter die Slovoville-begraafplaas in ʼn vlak graf deur ʼn verbyganger aangetref.
Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê die kinders is in September in die Kagiso-nedersetting as vermis aangemeld.
“Die polisie het die saak ondersoek en toe agtergekom daar is ʼn negejarige seuntjie en agtjarige dogtertjie dáár [en nie in die Soweto-omgewing nie] as vermis aangemeld. Hulle het toe die saak van daar af opgevolg en die ma het die kinders gister kom identifiseer.”
Die kinders het volgens Makhubele dieselfde klere aangehad as waarin hulle vermis geraak het. Hy sê die ma se kêrel is die laaste keer by die kinders gesien toe hy hulle voor hul huis in ʼn motor gelaai het.
Hy het dieselfde tyd as die kinders verdwyn.
Die polisie ondersoek sake van moord en ontvoering.
Ek hoop hulle vang die gemors en sluit hom vir 80 jaar toe. Die angs wat die kinders moes deurgaan is hartverskeurend. Sielsiek mens.
Die man word ook vermis. Wonder of hy nog leef.