Ma in hof oor baba in drein

Die drein waar die babaseuntjie gevind is (Foto: Verskaf)

Die 19-jarige ma wat glo haar dag oue babaseuntjie in ʼn stormwaterdrein in Beaufort-Wes in die Wes-Kaap gelaat het, het Donderdag vlugtig in die dorp se landdroshof verskyn.

Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die polisie, sê die jong ma word deur klagtes van poging tot moord en kinderverwaarlosing in die gesig gestaar.

“Die saak is tot 15 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek en die vrou is vir voorlopig vrygelaat,” sê hy.

Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskermings en seksuele oortredings in Beaufort-Wes wat die saak ondersoek, het vasgestel dat die ma vroeër geboorte aan die baba in ʼn plaaslike hospitaal geskenk het.

Die babaseuntjie is Maandagaand deur twee tieners, Anke Batt (15) en Renaldu van der Nest (15), in ʼn stormwaterdrein in Voortrekkerstraat gevind. Hy is na die plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

Anke en Renaldu saam met Baba Moses (Foto: Verskaf)

Die ma is Dinsdag in Richmond in die Noord-Kaap by ʼn familielid se huis opgespoor en in hegtenis geneem.

Anke en Renaldu se ma, Lizette, het op sosiale media om hulp en skenkings vir die seuntjie gevra. Sy wil soveel moontlik goed bymekaar maak sodat die baba darem goed het wanneer hy ontslaan word. Hy gaan glo in sy ouma se sorg geplaas word.

Die hospitaalpersoneel het die seuntjie intussen “Baba Moses” gedoop. Party verwys ook na hom as Gift.

Maroela Media het vroeër berig die baba was toegedraai in ʼn kombers en in ʼn rooi plastiekdrasak gevind. Hy is vermoedelik by die gleuf in die drein afgegooi en het ʼn val van twee meter oorleef.

Die baba het vermoedelik ongeveer vier uur lank in die water gelê voordat hy gered is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wondermaarnet ·

Ek het baie, maar hou dit liefs uit die media voor ek vervolg word.

Persheks Adri ·

Wie doen sulke goed met jou eie kind? Ek verstaan nie dat hulle haar los nie dis onmenslik verby! Hoop van harte sy gaan SWAAR gestraf word!

Daar’s soveel mense wat nie kinders kan hê nie en kan jy sulke mense!

Kremetart ·

Een wat uit ondervinding weet dat haar en die kind se lewe niks werd is nie…

Daleen ·

Waar was die welsynswerker toe die baba gebore is het hulle die ma die opsie van aanneming gegee…. O nee vergeet ek nou dis mos nog ‘n staatsdepartement – wat voor1994 baie goed gewerk het maar wat in vandag se tyd glad nie meer bestaan nie LET WEL agv die wonderlike ding genaamd REGSTELLENDE AKSIES Mnr die president….

johanf ·

Dankie, Anke, Renaldu en moeder, Lizette,
In kort, ń swaar tronkstraf, met sterialisasie vir haar…. Sy het bewys sy is onbevoeg…..
Vrygelaat, hoekom…..? Jan 2021 is sy weer swanger……
Mag die kind in pleegsorg geplaas word…..

Maggies ·

So sy is nie ge- arresteer nie. Nét vlugtig in die hof verskyn. Nee wat mense ek gee nou moed op met ons regs stelsel. Daar is nie ‘n regs stelsel in Suid-Afrika nie. Dit is alles net skyn.

Cecilia ·

D hof moet daai vrou beveel om heeltemal gesteriliseer te word. Sodat sy nooit ooit weer d voorreg sal he om kinders in d lewe te bring nie. Sommer d pa ook want waar is d lafaard?

Riaana ·

My woorde is op…. Ons het siek mense op planeet aarde regtig!!!

MoederMamma ·

Moenie met semantiek speel nie. Sy het nie die baba in die drein “gelaat” nie, sy het hom gegooi en hy het blerrie ver geval. Ek kan nog verstaan as jong ma’s paniekerig raak en hul babas los waar iemand die kleinding kan vind, maar hierdie geval is net wreed.

LiveAndLetLive ·

Liewe hemel.
Hoekom het sy hom nie net in die hospitaal gelos nie.
Hoe gooi jy n mensie wat jy 9 maande gedra het en vasgehou het in n drein af??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.