‘Ma’ in hof vir ontvoering 18 jaar gelede

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. Argieffoto

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy die drie dae oue Zephany Nurse 18 jaar gelede uit haar bedjie in die Groote Schuur-hospitaal ontvoer het, het Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Adv. Bonnie Currie-Gamwo is die staatsaanklaer terwyl Reaz Khan namens die beskuldigde sal optree. Die vrou, wat teregstaan op aanklagte van ontvoering, mag nie geëien word nie, ten einde die nuwe identiteit van die meisie te beskerm.

Regter MJ Dolamo het gelas dat die verhoor op 22 Februarie sal begin en na verwagting tot 10 Maart sal aanhou. Die vrou sal ook teregstaan op aanklagte van bedrog en oortreding van die Kinderwet. Die vrou het na bewering op 30 Maart 1997 die baba ontvoer.

Volgens die klagstaat het die vrou die baba se ma bevriend en haar oortuig om die baba vir ’n wyle vir haar te gee sodat die ma kan slaap. Personeel het later die ma, Celeste, wakker gemaak om haar in kennis te stel dat haar baba verdwyn het.

Ondanks ʼn landwye soektog is die kind eers vroeër vanjaar opgespoor in dieselfde skool as haar jonger biologiese suster. Die meisie se biologiese ouers het die hofverrigtinge bygewoon sedert die beskuldigde se inhegtenisneming in Februarie.

Die beskuldigde is tans uit op borgtog van R5 000. Haar borgtogvoorwaardes is onder meer dat sy nie kontak met die kind mag hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.