ʼn 29-jarige ma van vier het Woensdag in die landdroshof in Mbibane, Mpumalanga verskyn nadat sy glo die geboorte van haar seun verberg het.
“Annah Bapela se pasgebore baba het ʼn paar dae lank in ʼn puttoilet oorleef,” het brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, gesê. “Bapela het glo op 20 Desember 2014 gekraam terwyl sy by haar kêrel gekuier het. Sy het in die aand wakker geword en die kind in die puttoilet gaan wegsteek.”
Die vrou het glo na die voorval weer gaan slaap en gemaak asof niks gebeur het nie. “Die pa van die baba het Sondag ʼn kombers in ʼn emmer gesien wat agter die puttoilet gestaan het,” het Mohlala bygevoeg. “Hy het Bapela se niggie gekontak en Bapela het Dinsdag aan haar niggie gesê sy het die kind weggesteek omdat sy al reeds drie ander kinders het waarna sy moet omsien.”
Die niggie het die polisie ontbied en reëlings is getref om die baba uit die put te haal. Volgens Mohlala is die seuntjie dadelik hospitaal toe geneem. “Hy sterk aan in die hospitaal.”
Bapela se saak is tot 6 Januarie 2015 uitgestel sodat sy regsverteenwoordiging kan bekom. Borgtog van R1 000 is toegestaan.
Genl.maj. Meshack Nogwanya, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gesê die regering maak voorsiening vir diegene wat nie finansieel kan oorleef nie en het bygevoeg dit is nie nodig dat vroue babas in puttoilette hoef weg te gooi nie.
Dis die Keer Wanneer ek vir die Here Vra Waarom moet sulke Slegte Vrouens Kinders kry. Ons Baba kleinkind is op 12 Des 2014 gebore en STERF op 13 Des 2014. Waarom Here WAAROM!!