Ma in privaat hospitaal danksy publiek se hulp

Shanei Norris en Reanei (Foto: Verskaf)

Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wat in Maart in ʼn ongeluk betrokke was waartydens haar eenjarige dogtertjie gesterf het, is in ʼn privaat hospitaal opgeneem danksy die publiek se hulp.

Shanei se familie en vriende het ʼn trustrekening opgestel om geld in te samel sodat sy in ʼn privaat hospitaal opgeneem kon word. Sy is ná die ongeluk in ʼn staatshospitaal opgeneem waar die behandeling aanvanklik aanvaarbaar was, maar omstandighede het versleg toe sy na ʼn gewone saal oorgeplaas is.

Noelene van Blerk, ʼn vriendin van Shanei, het Sondag aan Maroela Media gesê sy is Vrydag in ʼn privaat hospitaal in Vanderbijlpark opgeneem. “Sy word baie goed versorg in die hospitaal. Dokters sal Maandag X-strale neem om Shanei se fisiese vordering te bepaal,” het sy gesê. “Ons sal eers daarna weet of sy in die hospitaal moet aanbly of moontlik na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas moet word. Een ding is seker, sy het baie fisioterapie nodig.”

Maroela Media het vroeër berig Shanei en haar babadogtertjie, Reanei, was op 23 Maart in ʼn botsing in Drie Riviere betrokke. Reanei is op slag dood, terwyl Shanei met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is. Shanei se regterbeen en regterarm is gebreek, haar milt moes verwyder word en sy is geopereer vir ʼn skeur in haar lewer wat inwendige bloeding veroorsaak het.

Van Blerk het gesê Shanei sukkel steeds met haar geheue ná die botsing en hulle het die besluit geneem om haar steeds nie oor Reanei se afsterwe in te lig nie. “Sy kan soms nie eers onthou wat die oggend met haar gebeur het of wie by haar in die hospitaal gekuier het nie, so ons is nie seker hoe sy die nuus sal verwerk en of sy later sal onthou dat ons dit met haar gedeel het nie. Sy verwys soms na Reanei, maar het nog nie na haar gevra nie.”

Van Blerk het gesê Shanei is sommige dae hartseer, maar sy weet self nie hoekom sy hartseer is nie.

“Op die gepaste tyd sal Reanei se pa en Shanei se ma saam met ʼn sielkundige of ʼn berader vir haar die nuus vertel.”

ʼn Gedenkdiens is vroeër vir Reanei gehou waar haar pa, ander familie en almal wat vir haar lief was finaal kon afskeid neem. Die hele diens is op foto’s en video opgeneem sodat Norris êrens in die toekoms daarna kan kyk indien sy wou.

Van Blerk het gesê die fondsinsameling duur voort omdat hulle die herstelpad nog lank kan wees en veral omdat Shanei fisioterapie gaan benodig.

Vir meer inligting oor Shanei se vordering of die trust-besonderhede waardeur geld vir haar mediese onkoste ingesamel word, besoek die Facebook-groep Mommy Shanei of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Adriana ·

Dit is verskriklik.Troos is egter dat die kleine dingetjie in die Hemel is.

Cherokee ·

Sy het die hemel betree deur reg bo-oor al die menslike dramas en gruwelikhede te stap! Sonder om enigsins daardeur beïnvloed te wees of daaroor te komkommer! Mag dìt vir die pragtige Shanei nie net ‘n troos wees maar ‘n versekering dat sy haar meisiekind weer gaan sien en gaan kuier! Shanei… mag die Hand van die Koning oor die konings, die Heer oor die here, op jou wees, jou vertroos en jou blymoedig stem. Mag die Here jou seën!

D P J ·

Ma sal baie hulp benodig om die dood van die dogter te verwerk en die lang tyd wat sy verloor het. Sterk te daarmee en mag die Heilige Gees met jou wees. Wat by mense onmoontlik is is by God moontlik.

Oom Kalahari ·

Hierdie is ‘n baie hartseer storie en om geheue verlies te he en nie eers weet dat jou baba oorlede is nie bly hartseer. Hopenlik sal Shanei nou die nodige diens en aandag kry op haar pad tot herstel en wens haar alle sterkte toe en medelye met die verlies van haar baba. Ook alle dank en seeninge vir al die mense en instansies wat finansieele bydraes gelewer het om dit moontlik te maak vir Shanei om goeie behandeling te kan kry asook ‘n spesiale dank aan Noeleen haar vriendin wat haar so goed bystaan.

Sarel Strydom ·

Die finansiele hulp wat sy ontvang bewys net weer daar is nog baie goed in hierdie ou deurmekasr wereld. Sterkte vorentoe.

Tony ·

Dankie Abba Vader vir soveel goeie mense nog op hierdie aarde. Dankie Maroela vir die terugvoering

jessica ·

Waar is die baba se pappa, niemand se niks van hom nie, of tel hy nie as haar pappa nie??? dis vreeslik sad

Nettie ·

@J/Jessica: Reanei se pa word wel vermeld in die berig – daar word gesê dat hy en Shanei se ma haar later, saam met ‘n berader van Reanei se dood sal vertel en ook dat ‘n gedenkdiens gehou is, waartydens hy en ander familie/mense wat vir Reanei lief was of haar geken het, finaal afskeid van haar kon neem. Moet mense altyd so krities en negatief wees?

Hannelie ·

Sterkte aan Shanei wat nog in die hospitaal moet lê en ook aan Reanei se pappa en ouma wat die nuus aan haar mamma moet oordra. Dit sal nie ‘n maklike taak wees nie. Maar sy het gelukkig ‘n goeie vriendin en familie wat haar gaan ondersteun. Ons bid vir haar.

Alida ·

Dit is ‘ n skande dat die staatshospitale nie in staat is om pasiente te versorg nie. Almal het nie familie en vriende wat kan help met privaathospitalisasie nie. Voor 1994 was alles nog reg. ALLES HET IN DUIE GESTORT DANKSY ANC.

Gestremde ·

J en jessica. Reanei se pa word wel genoem. Kyk liewer vatse positiewe insette julle kan vind as om fout te soek. Alle sterkte aan die familie en mag hul berusting vind met die pragtige dogtertjie se afsterwe.

GM ·

Dis so hartseer. Almal hoop vir die mamma se herstel, maar ek dink op die ou einde gaan daardie mamma voel dit sou beter wees om nie te herstel nie. En ek bedoel dit nou glad nie op ‘n ongevoelige wyse nie. Dis net wat ek sou gewens het as ek in haar skoene moes wees en my kinders het nie oorleef nie. Mag sy en haar naasbestaandes krag van Bo ontvang om hul verlies te verwerk.

Jenny ·

Wens so ek konook help. My hart is so seer vir die familie. Trane sit maar vlak as mens die berig lees. Baie baie sterkte vir die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.