Ma, kinders brand in huis dood

Die huis waarin drie lede van ‘n gesin in ‘n brand gesterf het. (Foto: Verskaf)

ʼn Ma en haar twee kinders het Vrydagaand in hul huis in Katlehong aan die Oos-Rand doodgebrand nadat hulle deur die vlamme binne die gebou vasgekeer is.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-ramp-en-nooddienste, sê die stad se nooddienssentrum het omstreeks 20:55 ʼn oproep ontvang dat ʼn huis in die Dikole-gedeelte van Katlehong in ligte laaie was. “Brandbestryders van die Palm Ridge- en Zonkizizwe-brandweerstasies het hulle onmiddellik na die toneel gehaas,” sê Ntladi.

By hul aankoms het die hele dak van die HOP-huis reeds ingegee en vlamme het by die vensters van die slaapkamer uitgelek. “Mense op die toneel het gesê dat die gesin steeds binne vasgekeer was,” sê hy.

Die huis nadat die vlamme geblus is. (Foto: Verskaf)

Nadat die vlamme geblus is, het brandbestryders die verkoolde liggame van ʼn vrou in haar 30’s en twee seuntjies, onderskeidelik drie maande en vier jaar oud, in die slaapkamer gevind.

“Die toneel is gefynkam deur die polisiebeamptes teenwoordig. Die oorsaak van die brand sal deur ʼn formele ondersoek vasgestel word, maar daar word tans vermoed dat dit veroorsaak is deur ʼn elektriese verwarmer wat nie gemonitor is nie.”

Lede van die publiek kan 011 458 0911 skakel vir enige lewensbedreigende noodgevalle in die Ekurhuleni-gebied. Die nasionale tolvrye nommers (10177 en 112) kan ook gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet piet ·

Hulle seker weer gehaas en n dag later opgedaag so gaan mense dood onnodig .

piet piet ·

Ons moet ophou belasting betaal en dit aanwend in ons eie buurte vir beskerming en noodsaaklike dienste soos n eie kliniek ,brandweer,vullisverwydering die stadsraad en regering kan dan doen wat hulle mee goed is en dit is niks.

Anna Theron ·

Ek stem volkome saam, ons moes lankal opgehou het om ons moordenaars te voed en te klee en grand motors te gee en aan ons eie beveiliging te bestee, maar ons wil mos nie hoor nie, en bly hoop dit sal beter gaan, maar dit sal nie onder die ANC met ons beter gaan nie, wees gewaarsku !

Andrea ·

As jy my kan vertel hoe ek kan ophou belasting betaal, sal ek bly wees en dit dadelik doen. Ek werk vir n groot maatskappy en belasting word maandeliks afgetrek voor ek (en al die ander duisende werknemers) my salaris ontvang. Hoe stop ek dit?

piet piet ·

EK praat van erfbelasting ons stig n belasting betalers vereniging en open n rekening ons betaal as ons diens ontvang of geen diens geen geld.

Cherokee ·

Andreas, ek het al ophou vra wat jy nou vra. Die ophou belastingbetaal storie duik met gereelde tussenposes op en dit sop onmiddellik wanneer ek vra dat dieselfde kommentator ‘n handboek uitgee oor hoe werknemers hul werkgewers gaan oortuig om nie belasting af te trek. Nou sê piet piet hy praat van erfbelasting. Daar staan geen woord van erfbelasting geskryf nie.

piet piet ·

Cherokee,n goeie begryper het net n halwe woord nodig of hoe werk julle dan in natal.

Rebekah ·

Dit is koud hierdie winter, so ‘n ma sal probeer om haar en die kinders warm te hou. My hart is seer vir hierdie gesinnetjie. Rus sag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.