Ma, kleuter wreed in huis vermoor

Die Manho-gesin (Foto: Facebook)

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn 32-jarige vrou en ʼn tweejarige kind Maandag grusaam in hul huis in Die Poort naby Stilbaai in die Wes-Kaap vermoor is. Die vrou se man en negejarige seun het op hul liggame afgekom.

Alfred Manho en sy negejarige seun het omstreeks 16:45 by die huis aangekom en sy vrou, Annemique (32), en hul tweejarige dogter, Almique, se bebloede liggame daar aangetref.

Volgens kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, kon die pa en seun eers nie toegang tot die huis kry nie omdat die voordeur van binne gesluit was. Alfred het sy seun deur die venster laat klim om die deur van binne oop te maak. Hulle het met die intrapslag in die huis op die gru-toneel afgekom.

Alfred en sy seun het Annemique se liggaam op die kombuisvloer aangetref. Sy het verskeie steekwonde gehad. Almique se lewelose liggaam is in ʼn bad water gevind.

“Albei slagoffers is later deur nooddienste op die toneel dood verklaar. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van hul dood bevestig,” sê Pojie.

Volgens Pojie het die polisie onmiddellik die 72 uur-noodplan geaktiveer om alle moontlike hulpbronne en gespesialiseerde eenhede en kundiges te mobiliseer om die toneel vir leidrade te fynkam.

“Die ondersoekspan het onverpoos deur die nag gewerk, wat uiteindelik gelei het tot die inhegtenisneming van ʼn 32-jarige inwoner van Die Poort.

“Dit is nog te vroeg in die ondersoek om meer gedetailleerde inligting bekend te maak omdat dit nadelig vir die saak kan wees.”

Die verdagte sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiekommissaris in die Wes-Kaap, het die ondersoekspan geloof vir hul toewyding en harde werk wat tot ʼn spoedige inhegtenisneming gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Toy ·

Ai dit is hartseer, hoekom nou so iets doen. My simpatie aan die familie.

Misky ·

Bitter hartseer en watse bedreiging kan ‘n tweejarige nou inhou. Hoop die skuldige sal swaar gestraf word. Innige simpatie met die pa en in besonder die jong seun wat sy ma so moes aanskou.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met die familie. Dit is grusaam en hoe moet die arme 9 jarige kind dit verwerk. Wanneer en waar gaan al hierdie gruweldade eindig?

Di ·

Ek is sprakeloos! Al hierdie onsinnige moorde op onskuldige mense ruk letterlik handuit. Hoekom op dees aarde vermoor jy ‘n onskuldige 2 jarige kind, MONSTER

Pietertjie ·

Ek wonder of daar ‘n 72-uur plan geaktiveer is met die onlangse reeks plaasmoorde.

Oujongvrou ·

Dis nou onnodig Pietertjie. Wat het die dood van n ma en haar kind te doen met plaasmoorde. Ons hier in die weskaap het polisie wat hulle werk doen. Dis die verskil

Skappie ·

Watter skok moes dit nie vir die man en seun gewees het nie. Mag die skuldige wat dit aan hulle gedoen het, gevang word. Sterkte aan die gesin en vriendekring. Mag onse Liewe Heer julle styf in Sy arms vashou in hierdie moelike tyd wat vir julle voorle.

Oujongvrou ·

Weskaap polisie, hats off to you. Van ons 4 jr terug hier gekom het vind ek polisie wat altyd help en beleef is en hulle werk doen. Hoe vreeslik traumaties vir pappa en seun om hulle geliefdes so te moet aantref. ????????????

Chantel ·

Hoe siek kan mens wees om ‘n weerlose kind so dood te maak. Innige simpatie aan die gesin.

ES ·

Wat vir my vreemd is, is dat die voordeur van binne gesluit was. Het die moordenaars die huis agter hulle gesluit toe hulle uit was? Dis baie vreemde gedrag…

Karina ·

Cele, jy behoort baie vinnig iets aan hierdie moorde begin doen. Anders moet jy jou hoed vat en koers kry ‘n ander land toe. Innige simpatie aan Pa en Seun, wat ‘n trauma moes dit nie, veral so jong kind, gewees het om sy Ma en Sussie in sulke afgryse te vind nie. My hart huil vir julle. Gebede vir sterkte en krag van onse Liewe Hemelse Vader om julle deurdie tydperk van rou te ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.