Ma leer loop ná botsing waarin baba sterf

Shanei Norris en Reanei (Foto: Verskaf)

Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie in Maart vanjaar dood is toe hulle saam in ʼn motorongeluk betrokke was, maak goeie vordering en leer weer om te loop.

“Sy beweeg al meer en raak al meer onafhanklik,” het Tracey Norris, Shanei se suster, Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Tracey vertel dat Norris steeds in ’n rolstoel is, maar danksy rehabilitasie kan sy haarself in en uit die rolstoel help en weer dinge vir haarself begin doen. Norris kan haar bene ook weer byna reguit maak nadat haar bene ʼn geruime tyd in ’n 90°-posisie gebuig moes bly. Haar bene is ná die ongeluk met penne gespalk en was in dié posisie gelig. Sy het ook nou ’n voetspalk wat die spiere geleidelik strek.

Shanei Norris kuier oor naweke by familie. (Foto: Facebook)

Volgens Tracey is Norris onlangs na ’n meer onafhanklike saal in die versorgsingsentrum geskuif waar sy voltydse behandeling ontvang nadat sy en Reanei, haar dogtertjie, in Maart vanjaar in ’n motorongeluk betrokke was.

Tracey vertel dat Norris steeds met haar geheue sukkel, maar dat dit ook met tyd en oefening verbeter. Sy vertel dat Norris deesdae dinge kan onthou wat ʼn mens ure vantevore vir haar vertel het. Sy kan ook nou haar kamer in die versorgingsentrum op haar eie vind. Maande gelede was dit nie moontlik nie. Tracey sê dat roetine haar help onthou.

Shanei Norris leer loop. (Foto: Facebook)

Tracey en haar broer, Mark Norris, neem Norris elke week vir suurstofbehandeling deur middel van ’n Ozone-masjien. Dié behandeling help ook beslis met Norris se geheue, meen Tracey. Sy verduidelik dat die masjien Norris met suiwer suurstof behandel wat deur haar brein geabsorbeer word.

Norris weet steeds nie van Reanei se dood nie. Sy kan onthou dat sy ’n dogtertjie het en noem soms dat sy na haar baba verlang, maar vra nooit om haar te sien nie. Tracey sê dat dit kompleet is asof die brein die trauma van die ongeluk uitgeskakel het.

Norris gaan kuier naweke by haar broer of suster en al is sy nie altyd gretig om Maandae terug te keer na die versorgingsentrum nie, bly sy “positief en glimlag”. “Sy het baie wilskrag,” sê Tracey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KG ·

Ek is opreg dankbaar dat dit beter met Shanei gaan en dat sy so goed vordering maak.

Spark Plug ·

Weet enige iemand hoe kan ons in aanraking kom met die dame…dit breek n mens se hart

Pro Ozone ·

Daar is ñ FB blad Mamma Shanei waar gereeld updates gegee word. Sy verbeter al meer na sy begin het met die Ozone behandeling. Ek is so bly vir hulle! Dis wonderlike nuus!

Blommie ·

Bitter dankbaar dat sy vordering maak, bly sterk.
Spark Plug gaan kyk op facebook, vir mommy Shanei.

Gesiggie ·

Ek is baie bly dat dit al beter gaan met jou Shanei… ek voel baie jammer vir die Mamma die dag as sy dalk weer sal kan onthou… die grootste skok om te hoor dat haar pragtigge dogtertjie Reanei nie meer daar is. Alle sterkte aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.