Ma met kinders herenig danksy op-en-wakker polisievroue

Ma met kinders herenig (Foto: SAPD, Oos-Kaap)

Twee kinders, onderskeidelik twee en vyf jaar oud, is met hul ma herenig danksy op-en-wakker polisiebeamptes van die Oos-Kaap.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê sers. Xoliswa Xhanti van Walmer-polisie, ʼn koördineerder by die slagofferondersteuningsentrum, was op 4 Junie op pad na die kinderhof, toe sy ʼn man op die N2-snelweg sien loop het met twee baie jong kinders.

“Sy was egter agterdogtig en sy het hulle voorgekeer,” het Naidu verduidelik. “Sy het hulle na Walmer-polisiestasie geneem en terwyl hulle die man ondervra het, het hulle bepaal hy is die pa van die kinders.”

Xhanti was egter steeds agterdogtig en sy het die man en kinders na ʼn huis in Motherwell geneem wat hy as die gesin se huis uitgewys het. “Die familie het die pa se verduideliking bevestig en die kinders is saam met die pa by die huis gelos.”

Kapt. Karen Nel, ook van die Walmer-polisiestasie, het vroeër die dag die kinders by die polisiestasie opgemerk en sy het daardie aand op sosiale media gesien iemand van Jeffreysbaai is op soek na die kinders. “Na bewering het die pa drie dae tevore die kinders sonder toestemming van hul ma weggeneem. Kapt. Nel en sers. Xhanti het Dinsdag die saak by lt.kol. Crystal McClean aangemeld en sy het hulle dadelik na Motherwell gestuur om die kinders te gaan haal.”

Die kinders is versorg en met hul ma herenig. “Die vroulike beamptes het die kinders gebad, vir hulle skoon klere aangetrek en vir hulle kos, snoepgoed en speelgoed gegee voor hulle aan hul ma terugbesorg is. Sy was baie verlig en dankbaar om weer haar kinders te sien,” het Naidu bygevoeg.

Naidu het gesê alle kinders moet veilig wees, goed versorg word en geliefd wees. “Een van die belangrikste take van die polisie is om kinders te beskerm. Elke beampte en lid van die polisie moet verstaan dat dit sy of haar plig is om kinders te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

skerwe ·

hoekom het die media nie gegons van die kinders se “ontvoering” nie? kan mm ons vertel? was hulle dan nie as vermis nie aangemeld nie?

Hennie ·

Hierdie polisievrouens was duidelik wakker en op ‘n beter vlak as die vier van Edenpark polisiestasie in Alberton, waar hulle oorval was deur rowers hierdie week(by die polisiestasie!!)

Gesiggie ·

Baie goeie optrede van Sers Xoloswa… well Done… bly dat die kinders weer veilig is by hul Ma… ons land het meer mense soos hul nodig om ons kinders te beskerm.. Great Job

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.