Ma ontvang meestersgraad namens oorlede seun

Gerbrandt Kotze. Foto: Johette People Photography (Verskaf aan Maroela Media)

Wanneer Gerbrandt Kotze (26) se naam vanaand by die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch uitgelees word, sal dit nie ʼn jong student nie maar ʼn emosionele en trotse ma wees wat in haar seun se plek oor die verhoog stap.

Amanda Kotze sal namens haar seun dié graad ontvang nadat hy oorlede is twee weke voor sy ouers ingelig is dat hy sy MSc-proefskrif geslaag het.

“Daar is maar baie emosies betrokke. Ons is ongelooflik trots op hom, maar die lekkerste sou wees as hy sélf sy graad kon ontvang. Dit is beslis emosioneel, maar ons voel geërd om dit namens ons seun te kan doen,” sê Amanda.

Gerbrandt is op 28 Mei vanjaar oorlede, net meer as ʼn jaar nadat hy met kolonkanker gediagnoseer is. Sy begrafnis is ʼn dag ná sy verjaardag gehou – hy sou op 1 Junie 27 jaar oud geword het.

Gerbrandt, wat van die Paarl af kom, was ʼn meesterstudent van dr. Rehana Malgas-Enus van die RME-Nano-navorsingsgroep in anorganiese chemie aan die Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Amanda vertel dat hy die afgelope twee jaar weer by hulle in sy ouerhuis in die Paarl gebly het en van daar heen en weer universiteit toe gery het. “Toe hy met sy meestersgraad begin, het sy pa gesê hy moet sommer weer terugtrek huis toe, dan kan hy so ʼn bietjie geld spaar. Ouboet het ook in hierdie tyd teruggetrek en wat ʼn kosbare tyd was dit nie vir ons om vir oulaas almal saam in die huis te kon wees nie.”

Amanda sê Gerbrandt het in 2016 begin sleg voel en was telkemale by die dokter om die probleem te probeer vasstel. “Ons het nooit gedink dit is iets ernstigs nie en hy is maar met goed soos griep gediagnoseer. Die dokters kon nooit heeltemal die vinger plaas op wat presies fout is nie,” sê sy.

Gerbrandt Kotze (heel links) by sy ouers, Amanda en Gerhard, ouboet, Dawid, en sussie, Elizabeth. Foto: Johette People Photography (Verskaf aan Maroela Media)

Die volgende jaar het Gerbrandt egter sieker geword en baie ongemak ervaar. Dit is toe dat hy met kolonkanker gediagnoseer is. Die kanker was teen daardie tyd in ʼn gevorderde stadium en het reeds na sy lewer versprei.

Gerbrandt het ʼn reeks chemoterapie ondergaan en moedig teen sy siekte baklei, terwyl hy steeds ondanks die naarheid en tamheid sy studie voortgesit het. “Gerbrandt het wonderlike uithouvermoë gehad. Hy het gelééf ondanks sy diagnose. Dit het nie die vreugde in hom geblus nie,” sê Amanda.

Sy sê Gerbrandt se studieleier het hom ook aangepor om sy studie klaar te maak en nie tou op te gooi nie. “Party dae was hy siek en moes hy rus, en ander dae het hy net sy werk gedoen. Hy het hom nie laat onderkry nie. Ons het die erns van sy siekte besef, maar ʼn pad geloop waar ons net op die Here vertrou het.”

Gerbrandt het egter nie op die behandeling gereageer nie en het in Mei in ʼn hospitaal in die Paarl gesterf. “Gerbrandt het nooit gekla nie, so niemand buiten ons het regtig ooit geweet hoe siek hy gevoel het nie. Hy was baie dapper. Toe hy begin agteruitgaan het, het dit vinnig gegaan. Hy het nie ʼn bitterlike lyding gehad nie.”

Dit is veral Gerbrandt se onwrikbare geloof wat uitstaan wanneer sy oor haar seun dink. “Hy was baie lief vir die Here. Wanneer ons oor die dood gesels het, het hy gesê hy leef nou hier op aarde vir Christus en in die hemel sal hy met Christus leef.”

Sy sê Gerbrandt het graag gelag en was lief daarvoor om vir ander mense poetse te bak. “Hy was intelligent en nuuskierig. Hy het vreeslik baie gelees – veral outobiografieë van mense wat deur tydperke van swaarkry moes gaan, het hom gefassineer. Hy kon oor alles gesels, van politiek tot chemie. Ek voel nou sommer dom sonder hom, want hy het my altyd op die hoogte gehou van alles!”

Gerbrandt Kotze (links) by sy ouers, Amanda en Gerhard, ouboet, Dawid, en sussie, Elizabeth. Foto: Johette People Photography (Verskaf aan Maroela Media)

Gerbrandt se droom was om kinders uit minderbevoorregte gemeenskappe te help en by hulle ʼn liefde vir wetenskap te kweek. Hy het ook daarvan gedroom om eendag ʼn kinderhuis te begin en só behoeftige kinders te help.

“Sy studieleier het ʼn projek by die universiteit begin waar hulle na minderbevoorregte skole toe gegaan het of kinders van dié skole na hulle laboratoriums toe laat kom het om hulle só blootstelling aan hierdie vakgebied te gee. Gerbrandt het haar hiermee gehelp. Ek dink dit is hoekom hulle so lekker saamgewerk het. Hulle het albei ʼn hart vir mense en vir die akademie gehad.”

Dit is met dié einste ingesteldheid wat Gerbrandt sy onverwagte kleinsus alte lekker bederf het, vertel Amanda. “Toe Gerbrandt aan die einde van sy hoërskoolloopbaan was, het ons ʼn weggooibaba in pleegsorg ingeneem en sy is steeds by ons. Vandag is sy tien jaar oud en in gr. 4. Sy was mal oor Gerbrandt en hy het haar vreeslik bederf – eintlik het albei boeties,” sê sy met ʼn glimlag.

“Vandag verstaan ons eintlik hoekom ons haar gekry het. Ons weet ons moet aangaan, vir haar.”

En vanaand, wanneer sy Gerbrandt se MSc-graad trots ontvang het, sal die familie dié groot prestasie op die mees gepaste manier moontlik gaan vier. “Ons sal agterna beslis ʼn groot sjokolademelkskommel gaan drink. Dit was Gerbrandt se gunsteling en dit is beslis hoe hy hierdie oomblik sou vier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Marinda Hattingh ·

Julle hele gesin is ñ inspirasie op soveel vlakke. Baie sterkte, ek wéét julle word spesiaal gedra.

Johann cb ·

Dit is ontsaglik hartseer, maar tog so dapper! Sterkte aan die hele gesin!

Philippus Janse van Rensburg ·

Niks wat met liefde en toewyding gedoen is, gaan ooit verlore nie. Dit wat in Christus gebeur het, bly die besit van Sy koninkryk bly en sal tot voordeel daarvan die koninkryk verryk. Julle is nog in die hand van hom wat gesê het dat hy dood was, en nou lewe! Wees verseker van Sy sorg.

Onnie ·

Wat ‘n inspirasie is julle nie! Dis hartseer maar terselfdetyd blymoedig om die artikel te lees.

Mariaan ·

Sjoe dis omtrent hartseer…ek sou dit beslis nie so dapper kon hanteer nie…hoekom n mens so ver bring in studies en liefde vir die lewe…en hom dan wegneem…ek verstaan die geloof hier gladnie…mense soos die is NODIG op aarde…jammer vir jul familie

Sophia erasmus ·

Dis so ‘n wonderlike eer en nalatenskap. Hoop duisende jong mense sal leer by Gerbrant en sy familie. Julle staan uit in ons land…van die beste gesinne. Sterkte vorentoe.

Verwonderd ·

Baie geluk met sy prestasie. Hoop julle het die melkskommel geniet. Dis lieflik om te lees van soveel trots te midde van hartseer.

ChrisMari ·

Wat n dapper jong man. Self met M besig en weet wat dit verg om dit te voltooi. Dankie ook aan die studieleier – agter elke suksesvolle M of PhD staan n inspirerende studieleier! Hartseer, maar inspirerend.

m ·

sooo hartseer. baie jammer om te hoor. baie sterkte en seen vir julle.

Diefie ·

Baie geluk met jul seun se se sukses. Die voetspore wat hy nagelaat het, sal altyd by jul bly en in wie se lewe hy was. Vanaand kan jy met trots sy MSc graad ontvang met ‘n traan in julle oë. ‘n Mooi dag vir julle

hannelie ·

Sjoe my hart is seer., ek kan net dink hoe sy ma moet voel, ek was bevoorreg om my seun se gradeplegtigheid by te woon, en het self ‘n traan weggepink van trots.
Maar hoe moet jy as mamma voel wat die krag gehad het om self op die verhoog te stap. Baie geluk met Gerbrandt se graad. Ons dink aan julle.

Nadia ·

Dis nou ‘n mooi storie. baie jammer oor julle verlies maar dra sy naam verde voort met trots.

Hanlie ·

Wat ‘n pragtige storie. Sjoe, hy is so spesiaal in wat hy bereik het. Mamma ontvang met trots sy graad en weet dat julle ‘n baie spesiale en geseende familie is. Hanlie

Marie ·

Sterkte Amanda! Julle kan met reg baie trots wees en Gerbrand se nagedagtenis eer. Sy nalatenskap beteken baie vir ons land!!

Magaretha van heerden ·

Soveel mooi herrinneringe en ook die pyn. Ons dink baie aan julle en weet Hy sal die troos gee. Julle kan so trots wees op die pragtige kinders wat julle groot gemaak het.

Charms ·

Baie geluk met Gerhardt se prestasie.Mag jy en jou gesin skitter op sy onthalwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.