Ma oorhandig haarself ná sy kinders vergiftig

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Ma (27) het haarself aan die polisie oorgegee ná sy rotgif in haar twee kinders se kos gesit het.

Maroela Media het vroeër berig die pa het sy twee kinders ʼn week gelede in hul ma se huis in Stinkwater in die noorde van Pretoria dood in die bed aangetref. Die dogtertjie was sewe en haar boetie twee.

Konst. Herman Moremi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het rotgif langs die bed gekry waar die kinders met komberse toegedek was asof hulle slaap.

“Terwyl sy met die polisie in die aanhoudingselle gepraat het, het sy erken dat sy inderdaad rotgif gebruik het om haar kinders te vergiftig, maar sy het glo ook haarself probeer doodmaak deur die gif te eet,” het Moremi gesê.

“Sy het die gif glo in die kos gesit en hulle al drie het die kos geëet. Sy was verbaas dat sy die gif oorleef het en het weggehardloop na Bela Bela waar sy twee dae weggekruip en toe teruggekeer het,” het Moremi verduidelik.

Sy het glo in die nuus gehoor dat sy gesoek word in verband met die moord van haar kinders.

Twee aanklagte van moord word ondersoek. Sy sal Maandag in die Moretele-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lollie ·

Verskriklik! Waar kom naasteliefde in as jy sulke wrede dade aan jou eie bloed kan doen? Sy is nie normaal nie. Geen straf sal vir haar hard genoeg wees nie

ken benoni ·

Die kinders is seker as pione gebruik, klink of daar probleme aan huis is!
Sy het seker aandag gesoek. Bring terug die galg!

marous ·

Verskriklik dat die lewe so erg geraak het dat mense dit as uitweg sien. Depressie en angs en geen hulp nie. Hoe sal ons regtig weet wat in mense se gedagtes aangaan as dinge so hopeloos word dat die lewe meer weersinwekkend as die dood is?

Debs ·

Ek is nie n mens wat oordeel nie, maar dit gaan my verstand te bowe wat n mamma kan dryf hom haar kinders aan wie jy lewe skenk ! weer te neem. Ai dis hartseer

Nettie ·

Ja, Daisie, Daisie …. de Melker, wat haar twee mans en seun vergiftig het, die 2de vrou wat ooit in SA gehang is – 30 Desember 1932.

Tanya ·

Liewe vrou, wat die naam ma nie werd is nie. Ek het my pragtige blondekop dogtertjie byne 3 jaar terug verloor in ‘n motor ongeluk en ek sou enige iets doen om my prinsessie net weer eenkeer in my arms vas te kon hou. Net om haar weer eenkeer in haar bed te sit en ‘n soentjie te kan gee. Net om haar weer eenkeer winkels toe te kan vat om vir haar te koop wat sy wil he. Net om weer eenkeer ‘n partytjie vir haar te kan reël, net om weer eenkeer haar armpies om my nek te kan voel, haar lyfie in die nag langs myne. Om net weer eenkeer haar naam te kan roep en haar stem te kan hoor se, “hier is ek mamma”. Ja, my kind is op die ouderdom van 3 jaar uit my lewe gevat en dit is rou. Daar is nie een sekonde van die dag wat ek nie aan haar dink nie en jy, wat jouself ‘n ma noem, gaan staan en vermoor jou kinders. Ek is woendend en so hartseer hier waar ek sit. En Marous, daar is altyd ‘n ander uitweg, altyd. Soveel mense wat kinders wil he, maar nie kan nie. Selfs die pa kon hulle vat. Maar sy het gekies om ‘n einde aan hulle lewens te maak. So klein en weerloos. Mag hulle in vrede rus en sy geen vrede vir haar siel kry nie.

Lindie ·

Hoe sleg kan n ma wees.moes ook langs my kind se siekbed vir 10 mnde deurbring.hy was 15..het leukemia gehad.hoe doen jy dit aan n lewende wese.
Kan nie oor my kind se dood kom nie..en hierdie sleg ma maak haar eie kinders dood.mag jy vrot in die hel.

Helene Heynsg ·

Tanya, my hart gaan uit na jou. Mag God jou berusting gee. Sterkte.

Helene Heyns ·

Tanya, my hart gaan uit na jou. Mag God jou berusting gee.
Sterkte ook aan jou Lindie. Kinders is n kosbare genade-gawe.

007 ·

Ek het 3 kinders alleen bitter moeilik alleen groot gemaak, niks maar niks regverdig dit nie. So iets het nog nooit eers by my opgekom nie! Jammer geen simpatie met die ma nie. Maak my woedend!! Vir mens se minders doen mens enige iets! Glo my maar….

Aggenee Mamma ·

Aggenee, hoe kon jy, dis so wreed. n Mamma moet haar kinders beskerm nie skade aandoen nie. Hoe slaap jy in die aand.

Alida ·

Wat noem mens so’n handeling? Barbaarse optrede of is daar ‘n beter woord. Ek glo nie.

CHRISTA ·

Ek glo nie vir een oomblik haar storie dat sy OOK van die vergiftigde kos geeet het nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.