Ma pak Midmar vir oorlede kleuter

Hanno Lewis en sy ma, Nadia. (Foto: Verskaf)

ʼn Ma van Randburg gaan vanjaar die aQuellé Midmar‑myl aandurf ter herinnering aan haar jong seun wat agt jaar gelede aan ʼn skaars tipe kanker oorlede is.

Hanno was skaars drie toe hy met ʼn tipe kanker gediagnoseer is wat die sagte weefsel in sy liggaam aanval. ʼn Jaar later is hy oorlede. Nou wil sy ma, Nadia Lewis (43), die families van kinders wat met lewensbedreigende siektes gediagnoseer is, help ondersteun.

In Junie 2013 het Nadia en haar man, Tiaan (46), besef iets skort met hul lewenslustige klein seuntjie, toe hy op die ouderdom van twee‑en‑ʼn‑half jaar gesukkel het om die oprit na hul huis uit te draf. Hy het ook ʼn hoes ontwikkel wat maar net nie wou wyk nie.

Hanno Lewis in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

ʼn Pediater het later vasgestel dat ʼn massa die vloei van lug in sy linkerlong bemoeilik. Tydens ʼn operasie om die massa te verwyder, het dokters vasgestel dat Hanno ʼn skaars en aggressiewe tipe kanker, alveolêre rabdomyosarkoom, het wat die sagte weefsel in sy liggaam aanval.

Om dinge te vererger het Nadia, wat op dié stadium agt weke swanger was, pas uitgevind dat sy ʼn miskraam gehad het.

Hanno het agt moeilike maande se chemoterapie deurgesien en was op die punt om met bestraling te begin, toe die kanker na sy brein versprei.

“Die nuus dat ons seun terminale kanker het, het ons harte in ʼn miljoen stukke gebreek. Ons het nog ʼn paar maande met die behandeling voortgegaan, maar toe besluit om dit te stop en eerder te fokus op die tyd wat ons saam met hom oor het,” het Nadia gesê. “Dit is die moeilikste besluit wat ons nog ooit moes neem.”

Hanno is uiteindelik op 19 Julie 2014, net drie dae voor sy vierde verjaarsdag, oorlede. Sy boetie Hugo was toe net 5 weke oud.

In dieselfde jaar het Nadia as vrywilliger by die nie-winsgewende organisasie Rainbows and Smiles begin werk. Dit is ʼn organisasie wat hulp en ondersteuning aan ouers bied wie se kinders met lewensgevaarlike siektes gediagnoseer is. Ná Hanno se dood het die organisasie elke jaar die Midmar‑myl aan Hanno opgedra, aangesien hy net drie maande voor sy dood leer swem het.

Hanno Lewis tydens die kankerbehandeling. (Foto: Verskaf)

Hoewel Nadia glad nie sportief is nie, het sy besluit om vanjaar die 1,6km te swem om geld in te samel vir begunstigdes van Rainbows and Smiles. Sy het ook reeds haar doelwit van R12 000 ver oorskry deur R26 000 vir die organisasie in te samel.

“Hanno was so jonk en veerkragtig. Selfs tydens die behandeling sou hy nog steeds speel en rondhardloop. Hy was en is so ʼn inspirasie vir my. Ek kan sommer hoor hoe hy ons aanmoedig. Ek wil hom en sy klein boetie so graag trots maak.”

Volg die skakel om Nadia se fondsinsameling te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.