Ma, peuter brand erg: ‘Dinge kon soveel erger gewees het’

Charlene Hiscock en haar dogtertjie Miandrie (Foto: Verskaf)

“Ek bly elke dag positief. Ek weet dinge kon soveel erger gewees het.”

Só vertel Charlene Hiscock (22), twee weke ná sy en haar eenjarige dogtertjie, Miandrie Fourie, ernstige brandwonde opgedoen het toe ʼn drom waarin hulle vuurgemaak het, skielik ontplof het. Hulle het Jeugdag saam met haar verloofde en familie op hul hoewe in Bainsvlei, omtrent 10 km buite Bloemfontein, deurgebring.

Dié ma en dogter is nou op die herstelpad.

Hiscock sê sy kan nie veel van die ongeluk onthou nie.

“Ek onthou net ek het ʼn harde slag gehoor en toe ewe skielik vlamme gesien. Alles het so stadig voor my afgespeel. Instinktief het ek dadelik omgedraai om Miandrie teen die vlamme te bedek. Daarna was alles ‘blank’,” vertel Hiscock.

Op dié dag het Hiscock met klein Miandrie op haar heup na die drom, waarin ʼn vuur gemaak is om warm te bly, aangeloop gekom toe daar skielik iets in die drom ontplof het. Die vuur se vonke het in Hiscock en Miandrie se rigting geskiet en hulle het aan die brand geslaan.

Charlene en haar dogtertjie Miandrie na die brand (Foto: Verskaf)

Hiscock se verloofde het Miandrie gegryp en in water gedruk. Hiscock het op die grond begin rol om die vlamme geblus te kry. Haar skoonpa het haar brandende klere van haar lyf afgeruk.

“Die werklikheid het my weer geslaan toe ek op die grond begin rol om die brandende vlamme te blus,” vertel Hiscock. Dit is nog nie duidelik wat die ontploffing in die drom veroorsaak het nie.

Maroela Media het vroeër berig Hiscock het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, regterarm, -hand en maag opgedoen. Miandrie se gesig en hand het gebrand en sy het blase op haar bene gebrand.

Hiscock gaan Donderdag ʼn operasie aan haar hand en oor ondergaan. Hulle gaan haar hand se vel afskraap waarna hulle ʼn veloorplanting gaan doen. Hulle gaan ook haar oor in die teater oopmaak en kyk of dit beter lyk, anders moet haar oor ook ʼn veloorplanting kry.

Hiscock sê haar maag en arm herstel goed en Miandrie sterk ook baie goed aan. “Sy is nog ʼn bietjie rooi in haar gesig en handjies, maar ons kan nou mooi die merke begin behandel.

“Emosioneel gaan dit elke dag beter met ons. Ek dink dikwels terug en vra myself af hoekom ek na die drom toe gegaan het, maar ʼn mens kan nie die verlede verander nie. Ek fokus nou eerder op my herstelpad vorentoe as om redes te soek waarom dit gebeur het.”

Nastassja Blignaut, ʼn familielid van die gesin, sê Hiscock se ma en skoonma help haar nog baie omdat sy sukkel om met een hand reg te kom “Die hand en oor is nog baie seer,” sê Blignaut.

Blignaut het saam met Hiscock se suster, Chané Pretorius, ná die ongeluk besluit om ʼn geldinsamelingsveldtog vir Hiscock en Miandrie te begin. Met dié fonds samel hulle geld in vir die wondbehandeling by ʼn private hospitaal en ook vir ander mediese uitgawes.

Danksy al dié skenkings kan Hiscock Donderdag die operasie ondergaan. Die geld het hulle ook in staat gestel om tot dusver goeie wondbehandeling te ontvang.

“Die ongeluk het my gewys wie regtig omgee. Ek is baie dankbaar vir almal se ondersteuning,” sê Hiscock.

Volg die skakel hier om ʼn bydrae vir hul Back-a-Buddy-siekefonds te maak. Besoek ook die Facebook-blad, Charlene & Miandrie – Burn Journey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Bly om te hoor dit gaan al beter met julle. Dankbaar vir die herstel en nog lang pad wat voorle – alle sterkte en gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.