Ma, peuter brand erg toe vuur ontplof

Charlene Hiscock en haar dogtertjie Miandrie voor die brand (Foto: Verskaf)

ʼn Ma en haar eenjarige dogtertjie van Bloemfontein in die Vrystaat het verlede week Dinsdag ernstige brandwonde opgedoen toe ʼn drom waarin hulle vuurgemaak het, skielik ontplof het. Dit is nie duidelik wat presies die ontploffing veroorsaak het nie.

Charlene Hiscock (22) en haar dogtertjie Miandrie Fourie (1) het op Jeugdag saam met haar verloofde en familie op hul hoewe in Bainsvlei, omtrent 10 km buite Bloemfontein, deurgebring. ʼn Familielid vertel hulle het in ʼn drom vuurgemaak en almal het om die vuur gestaan om hulself warm te hou in die yskoue Vrystaatlug.

Nastassja Blignaut, ʼn familielid van die gesin, vertel Hiscock het met klein Miandrie op haar heup na die drom aangeloop gekom toe daar skielik iets in die drom ontplof het. Die vuur se vonke het na Hiscock en Miandrie se rigting geskiet en hulle het aan die brand geslaan.

“Hiscock se verloofde het Miandrie gegryp en in water gedruk. Hiscock het op die grond begin rol om die vlamme geblus te kry. Haar skoonpa het haar brandende klere van haar lyf afgeruk,” vertel Blignaut.

Blignaut sê hulle kon nog nie bepaal wat presies die ontploffing in die drom veroorsaak het nie. “Iemand kon dalk iets in die drom gegooi het wat toe ontplof het,” vertel sy.

Hiscock het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, regterarm, -hand en maag opgedoen. Miandrie se gesig en hand het gebrand en sy het blase op haar bene gebrand.

Charlene en haar dogtertjie Miandrie na die brand (Foto: Verskaf)

Hiscock en Miandrie is na ʼn staatshospitaal in Bloemfontein geneem, maar is glo nie hier gehelp nie. “Hulle is toe na die Life Rosepark- private hospitaal in Bloemfontein gehaas, waar hulle gestabiliseer is. Hul wonde is behandel en hulle het die nodige medikasie gekry,” sê Blignaut. Omdat Hiscock nie ʼn mediese fonds het nie, is hulle toe na die Pelonomi-hospitaal se trauma-eenheid oorgeplaas en daar verder behandel.

Blignaut sê Hiscock en Miandrie is verlede Vrydag reeds ontslaan en sterk nou tuis aan. Hulle kan eers einde van die maand ʼn afspraak by die Pelonomi-hospitaal se wondkliniek kry. “Hulle wonde is nou verbind en as hulle te lank vir die afspraak wag, kan die wonde septies raak,” vertel Blignaut.

Blignaut en Hiscock se suster, Chané Pretorius, het toe besluit om ʼn fondsinsamelingsveldtog vir Hiscock en Miandrie te begin. Met dié fonds wil hulle geld insamel vir wondbehandeling by ʼn private hospitaal en ook vir ander mediese uitgawes. ʼn Facebook-blad, Charlene & Miandrie – Burn Journey, is ook vir hulle gestig.

Blignaut sê met die skenkings wat reeds ingekom het, kon Hiscock en Miandrie Dinsdag reeds hul eerste wondbehandeling by die Mediclinic in Bloemfontein kry.

“Met die goeie behandeling wat hulle nou reeds ontvang, begin hul wonde stadig, maar seker genees. Miandrie se verbande om haar gesig het al afgekom,” vertel Blignaut.

Blignaut sê sy het besluit om die fonds te stig omdat sy die beste mediese sorg vir Hiscock wil gee. “Ons is familie. Hulle is na aan my hart. Ek wil nie hê sy moet vir die res van haar lewe met letsels sit nie,” sê sy.

Volg die skakel hier om ʼn bydrae vir hul Back-a-Buddy-siekefonds te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Jammerlike gebeurtenis. Hoe hulle gehelp is en wag vir spoedige verdere behandeling wys juis hoe ‘n mislukking die Nasionale Gesondheidsversekering gaan wees.

Sêmanet ·

Hoekom moet sulke dinge gebeur? Dis so erg. Mag julle spoedig herstel.

Melanie ·

Mag jul albei gou gesond word en heeltemal herstel. Fisies en geestelik. Pragtige klein Miandrie mag jy geen letsel aan daai engel gesiggie oorhou nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.