Ma, peuters dood in gru-Welkom-ongeluk

Foto ter illustrasie. Foto: CERT

ʼn Ma, haar twee kinders en hul motorbestuurder is dood tydens ʼn kop-teen-kop-botsing Sondag in die Vrystaat. Haar man en tienerdogter is beseer. Twee passasiers van die ander motor is ook tydens die ongeluk dood en nog twee is beseer.

Die ongeluk het glo vroeg Sondagoggend op die R30 buite Welkom plaasgevind toe ʼn wit BMW wat in die rigting van Welkom gereis het, ʼn Toyota Avanza getref het wat in die rigting van Theunissen onderweg was.

“Die bestuurder van die BMW het glo beheer van die voertuig verloor toe dit om ʼn draai in die pad gery het,” het kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat gesê.

Die ma (43), haar twee peuters en die mansbestuurder wat nie aan die gesin verwant is nie, het in die Toyota gery en is op die toneel dood verklaar. Haar man en 13-jarige dogter is na die hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die BMW het vier insittendes gehad. Die 46-jarige mansbestuurder en ʼn vrouepassasier is ook oorlede. Nog ʼn man en ʼn vrou is hospitaal toe gejaag vir verdere mediese behandeling.

Die gesin wat in die Toyota gery het, was op pad na Elliotdale in die Oos-Kaap, terwyl die insittendes van die BMW onderweg was na Thabong in die Vrystaat.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag,” sê Mbambo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SomeOne ·

dit maak my so hartseer as ek hoor van “kop-aan-kop” ongelukke, waar is die mense se pad aandag ?

Cherokee ·

..onderweg na Thabong. Mense in die voertuie, wat nie aandadig is daaraan, het die reg gehad dat hul padgebruik respekteer word. Mense wat reg ry en dan sommer reg van voor getref word. Dit is deel van die aaklighede van mense wat voertuie ry wat bo hul klas van bestuursvernuf is. Dit is waarom die paaie in Suid Afrika ‘n slagveld is.

Yvonne ·

Die arrogansie van sekere padgebruikers lei tot hierdie gruwelike “ moorde” …. n mens kan dit nie ongelukke noem nie….hoe tragies is dit nie en kan nooit ongedaan ge maak word nie

Megan Swart ·

Dagsê quartus
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.