Ma pleit vir geregtigheid ná ongeluk gesin eis

Van links: Clive, Leané, Aiden en Claudia (Foto: Verskaf)

“Ek soek geregtigheid vir my kinders se dood.”

Só sê ʼn getraumatiseerde Belinda Tenreiro nadat ʼn ongeluk die lewe van haar dogter, skoonseun en twee kleinkinders geëis het.

Sy het intussen ’n private speurder aangestel om die ongeluk te ondersoek en eis dat die bestuurder van die ander voertuig wat volgens haar, haar dogter, Claudia Janse van Rensburg (25), skoonseun, Clive, en kleinkinders, Aiden (4) en Leané (5), se dood veroorsaak het, aanspreeklikheid daarvoor aanvaar.

Tenreiro het die ongeluk voor haar sien gebeur. Sy sê dit speel “soos ’n ou langspeelplaat herhaaldelik in haar kop af”. Sy kan boonop selfs die kleinste detail van die noodlottige voorval presies onthou.

Die Janse van Rensburg-gesin was Donderdag van Boksburg op pad na Richardsbaai om by familie te gaan kuier. Die gesin het in ’n Renault Clio tot in Kriel in Mpumalanga gery en vandaar agter Tenreiro en haar man, Pedro, se Ford Ranger-bakkie gery.

Tenreiro-hulle het terselfdertyd ’n Jeep met hul bakkie gesleep.

“Op die N2, onderweg na Richardsbaai, het ons reeds op drie ongelukke op die pad afgekom. Die pad was baie besig. Ons het nie gedink dat ons die vierde ongeluk sou wees nie.”

Omstreeks 21:30, sowat 131 km buite Richardsbaai, het daar skielik ligte reg van voor op die Tenreiro’s afgekom. Sy sê dit het gelyk of die voertuig, ’n Land Cruiser, in die aankomende verkeer se baan ry.

“My man het geskree dat die motor met ’n hengse spoed in ons baan inbeweeg. Hy het probeer padgee deur geleidelik na die geel streep oor te gaan. Die Land Cruiser het teen ons bakkie se kant geskuur en die Jeep van voor getref.

“Ons vermoed Clive-hulle het gesien daar is moeilikheid en hulle het ook van die pad probeer aftrek, maar ongelukkig het die Land Cruiser van voor teen hulle gebots.”

Tenreiro vertel sy het ná die slag uit die bakkie gespring en op die teerpad geval.

“Deur die stukkende glas en chaos het ek na die Clio begin soek. Ek het dit nêrens gesien nie. Ek het eers na die veld aan die aankomende baan se kant gekyk, maar niks gesien nie. Toe ek omdraai, het ek die opgefrommelde Clio gesien. Dit was iets verskrikliks.

“Ek het gegil en geskreeu. Ek het na die kar gehardloop en geruk. Ek het gehoop iemand daarbinne hoor my en reageer, maar daar was geen beweging nie.”

Al vier lede van die Janse van Rensburg-gesin is op slag dood.

Volgens Tenreiro was die ongelukstoneel ongeveer 150 m lank van die plek waar die voertuig hul bakkie getref het, tot waar dit teen die Clio gebots het. Een van die Land Cruiser se bande het sowat 30 m van die ongelukstoneel gelê.

Volgens Tenreiro het die Land Cruiser ook gerol.

“Twee mans het die bestuurder uit die Land Cruiser gehelp en hy het die ongelukstoneel verlaat. Ons weet nie waarheen hy is nie.”

Tenreiro sê dit is vir haar skokkend dat die bestuurder net so die ongelukstoneel verlaat het. Sy het ’n private speurder aangestel om ondersoek in te stel en antwoorde te kry. Sy sê ook sy sal nie sal rus tot geregtigheid geskied nie.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die Mkhuze-polisie ’n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die Land Cruiser ondersoek. Sy het bevestig dat dié man na die ongeluk na die hospitaal geneem is.

“Die omstandighede rakende die ongeluk word ondersoek,” sê Gwala.

Tenreiro beskryf Clive en Claudia as die liefdevolste mense denkbaar.

“Ek sal Tafelberg sonder enige klimtoerusting vir hulle uitgeklim het. Hulle was net die beste mense wat daar was.”

Clive het as elektrisiën in Boksburg gewerk en Claudia was ʼn tuisteskepper. Die gesin was van plan om na Nieu-Seeland te emigreer, maar hul planne is weens die Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Die gesin se begrafnis vind Vrydag plaas.

  • Die berig is gewysig na dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mariana ·

Ai dit is vreeslik. As ma moes sy seker van haar kop af geraak het . Hoop geregtigheid geskied. Innige meegevoel.

Hennie ·

Verskriklik! Baie traumatiese ondervinding. Ek hoop geregtigheid sal vinnig geskied.

Manch ·

Wat ‘n verskriklike tragedie. My innige simpatie aan almal wat hierdeur geraak word.

Louise ·

Dis erg genoeg dat so iets gebeur, dan gebeur dit nog voor n mens.
Nee ek kan nie eers myself indink waardeur hierdie arme ouers moet gaan nie.
Ek is sojammer om van julle groot verlies te hoor, geen woorde kan daardie seer beter maak nie.
Mens verstaan nie hoekom so iets moes gebeur nie. Baie sterkte

Yolandie ·

So jammer vir u verlies mev. Ek hoop u vind die mense wat verantwoordelik is vd aaklige ongeluk wat u dogter, haar man en klein kinders se lewens geeis het. Mag u vrede, troos en berusting vind. Sterkte!!!!!

Tino ·

Hart verskeurend!

Hierdie is die direkte nagevolge van die wetteloosheid in hierdie land. ‘n Ou wat nie kan lees of skryf nie het ‘n liksens gekoop en ry net soos hul wil.

Mens kan maar net nie ‘n klein karretjie op hierdie paaie ry nie, hy gaan seker nog aanvoer dat die slagoffers se skuld was

Krummels ·

Indien hy opgespoor word jà. Ek stem saam met jou. Dis ‘n onbeskryflike en hartverskeurende insident. Alle sterkte aan die ouers. Mag geregtigheid voirwaar geskied.

Regverdigheid ·

My hart gaan uit na die ouers, om al 4 op een slag te verloor en nog bo als die ongeluk sien gebeur… mag God jul vertroos en styf vashou Sterkte

Kobus ·

Net n vraag hoe kan die bestuurder van die Cruiser weg loop van die ongeluk en dan vat iemand hom hospitaal toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.