Ma rasend ná twee spoorloos verdwyn

Anel Erasmus, die ma van Stephan Erasmus (17) wat sedert Donderdagoggend saam met Toni Siebert (18), die dogter van haar eksman, vermis is, is rasend van bekommernis.

Erasmus, van Hoopstad in die Vrystaat, het aan Maroela Media vertel Stephan bly sedert Januarie saam met sy pa, Frans, en sy verloofde in Waterkloof in Pretoria.

Erasmus vertel sy het eers Vrydagoggend gehoor dat haar kind vermis is. Stephan en Toni se beursies, bankkaarte en selfone is glo nog by die huis gevind.

“Al wat weg is, is ʼn Xbox en ʼn kamera van Toni, nie eens baie van hulle klere is weg nie. Tieners van vandag gaan nêrens sonder hulle selfone nie.”

Erasmus vertel dat dit nie in Stephan se geaardheid is om weg te loop nie. “Hy is baie headstrong. Hy sal vloek en skel, maar nie wegloop nie. Hy is al deur baie die afgelope ruk.”

Stephan het ʼn groot tatoeëermerk van ʼn ram op sy linkerskouer en is lank en skraal gebou. Hy staan ook bekend as Ras, Rassie of Frans.

Erasmus het al sy skoolvriende gebel, maar niemand het tot dusver enige inligting oor die twee gehad nie. “Iemand het Vrydagoggend sy pa gebel en gesê hulle het hom by ʼn busstop gesien waar al die busse glo net Durban toe vertrek. Hy ken niemand in Durban nie en dis nie eens te sê hy het daar afgeklim nie. Sy Facebook-profiel is ook gesluit; hoe kan niemand nêrens niks weet nie? Hy het ʼn jonger boetie en sussie en ek moet sterk bly, maar dis moeilik… hy is nie so onverantwoordelik nie.”

Erasmus vermoed die twee het saam weggeloop.

Frans, Stephan se pa, wou nie veel inligting aan Maroela Media verstrek nie en het navrae na die Pink Ladies verwys. Hy het wel bevestig dat hy Donderdagoggend 06:40 nog vir Toni en Stephan gesien het en dat hulle weg was toe hy 07:30 teruggekom het by die huis.

Enigiemand met enige inligting kan die Pink Ladies by 072 214 7439 of Anel Erasmus by 073 781 9936 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sanell ·

Iets klink nie reg nie…. Alles by die huis Selfone, Bank kaarte ? Hoop hulle word veilig gevind.

Sam ·

Ek dink die 2 kinders is verlief. Dink nie hulle weet hoe om dit wat hulle voel vir mekaar te hanteer en dalk te erken nie aangesien die ma en pa getroud was. As julle 2 die dalk lees, julle is nie bloed nie, liefde is gemaak deur Ons Vader en die berg wat jul voor julle sien is nie te groot om oor te kom nie, staan sterk en wees veilig maar kom huistoe en praat hieroor, dis nie veilig daar buite nie.

Se net.... ·

Hulle het dan dieselfde pa Sam??maar tog verskillende vanne. Dalk is jy tog reg? Wat van die dogter se facebook profiel?

Ada ·

Ek dink hulle het elope
Hoop die twee word veilig gevind en omhels hulle dan.

Kom terug ·

Dis baie sleg vir die ouers … dit kwel en maak hartseer en kwaad maar dis die nuwe trend en agterna is ouers tog so bly hul is terug en als vergewe en vergete … as hul wil groot wees moet hul verantwoordelik optree

Joleen ·

Min of meer waar in Waterkloof bly hulle. Ek het Donderdagoggend ‘n seun en meisie amper op hoeke van Rigel en Neptune Strate gesien loop. Elkeen het ‘n sak op hulle rug en op hulle bors gehad. Ek het dit baie vreemd gevind en die situasie het my ongemaklik laat voel. Ek kon nie stop nie aangesien ek my twee klein seuntjies in die kar gehad het. Hoop hulle word gou gevind.

Lientjie ·

So lees n mens in ieder en elke soort gelyke berigte ” dis nie in hom of haar geaardheid ” nie. Klink vir my die 2 is verlief.

Jannie ·

Ja Lientjie,mense is geneig om dit altyd te se van iemand,maar ken hul die persoon werklik so goed,asl is dit hul kind of familie….dis hardseer,hoop hulle word gou opgespoor.

Leonie ·

Kinders van vandag besef nie wat hulle aan hulle ouers doen nie. Die lewe is klaar so stressvol.
Dis nou al die hoeveelste geval dat kinders net wegloop. Mag die Here hulle veilig terug huis toe lei.

E.K. ·

Glo die Pink Ladies gaan kan help, dankie vir ‘n organisasie soos hulle!

E.K. ·

Wou ook nog sê as hul by ‘n busstop gesien is vir busse na Durban kan alle bestuurders van busse op daardie dag mos hul foto’s ook gewys word – net dalk mag hul die twee onthou en waar hul afgeklim het ens.

Theresa ·

Beslis – en ook by die toonbank waar mens die kaartjies afhaal.

Bly glo ·

Geen probleem IN die mens, is groter as God;
Praat net oor daardie ding met soveel verandwoordelike mense as jul kan.
Staansterk en praat saam, 2 beter as een.
Kom terug.
Bid jul is veilig, daar is altyd uitweg glo en vertrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.