Ma ‘sal nie ophou soek’

Francis sit langs die Bon Accorddam waar daar na haar dogter gesoek word. Foto: Phillip Bruwer

Francis sit langs die Bon Accorddam waar daar na haar dogter gesoek word. Foto: Phillip Bruwer

Madelein Murray (40), ʼn sakevrou en ma van vyf kinders, en haar oudste seun is presies ʼn week gelede in die vroeë oggendure deur vloedwater in Pretoria meegesleur.

Intussen duur die soektog voort en sit haar ma en lewensmaat steeds elke dag hoopvol langs die Bon Accorddam in die noorde van die stad in afwagting op enige nuus.

Francis Venter (60), Madelein se ma, loop sedert verlede Vrydag op en af langs die Apiesrivier voor sy haar by die soekgeselskap by die dam aansluit. Christo Venter (41), Madelein se lewensmaat, is elke oggend ook klokslag by die dam in afwagting op enige teken van haar.

Francis het langs die dam aan Maroela Media vertel van die laaste paar uur wat sy saam met haar dogter deurgebring het. Haar oë is moeg terwyl sy aan ʼn ouerige selfoon vasklou en gereeld oproepe beantwoord van besorgde vriende wat wil hoor of die soektog al iets opgelewer het.

“Die foon het ongelukkig nie WhatsApp nie, en my lugtyd is op, so ek moet antwoord as mense my bel. Die skerm het ook nog gekraak toe ek dit nou die dag gestamp het terwyl ons langs die rivier gesoek het. So, die skerm gee ook probleme,” sê sy moedeloos en vryf met haar vinger oor die kraak op die skerm.

Polisiebeamptes besig met die soektog. Foto: Phillip Bruwer

Polisiebeamptes besig met die soektog. Foto: Phillip Bruwer

Madelein en Christo is al nagenoeg sewe jaar in ʼn verhouding en woon in Capital Park, naby die laagwaterbrug in Flowerstraat waar Madelein se oudste seun, Hanco (20), se wit Nissan Skyline omstreeks 03:00 ná swaar reën deur vloedwater meegesleur is. Madelein het vier seuns en een dogter. Hulle is 20, 17, 13, sewe en ses jaar oud.

“Ek het haar my Lady Di genoem, want sy het net soos dié koninklike gelyk as sy haar hare blond en kort gedra het. Sy is ook ʼn ware Moeder Teresa, ʼn regte mens-mens, ʼn engel uit die hemel wat die klere van haar lyf sal uittrek en aan iemand gee wat dit nodig gehad het. Haar hele lewe is ʼn getuienis en dit is seker hoekom haar verdwyning die harte van talle mense in gemeenskap se harte geraak het en hulle aanspoor om na iemand te soek wat hulle nie eens ken nie,” sê sy trots.

Francis haal ʼn pak foto’s uit van haar troue in 2012. Dit is van die enigste foto’s wat sy van Madelein het. “My ander dogter is vier jaar gelede dood en my man verlede jaar. En nou is Madelein ook weg. Ek het net my kleinkinders en drie seuns oor. Kyk net hoe mooi is my meisiekinders,” sê sy en wys met haar pinkie op ʼn foto. “ʼn Mens herstel nie regtig van so iets nie.”

Sy vertel dat Madelein die Donderdag voor haar verdwyning nog salon toe was om haar hare te laat versorg. “Sy is ʼn sakevrou uitgeknip en werk baie hard; sy verdien dit om haarself te pamperlang. Ons het nog die aand gekuier. Sy en Henco is omstreeks 23:00 huis toe. Ons het gegroet en ek het vir haar gesê om my net te laat weet as hulle veilig tuis is. Sy het nooit laat weet nie. Ek het later honderde kere daarna gebel, maar net by die stempos uitgekom. Toe dit lig word, is ek die skoknuus meegedeel.”

Die motor se erg verfrommelde wrak is omstreeks 09:00 sowat 1,5 km van die laagwaterbrug gekry, naby die plek waar Henco uit die vloedwater kon kom en hulp by ʼn vulstasie ontbied. Hy het bestuur toe ʼn fratsgolf die motor geskep het. Hy het probeer om sy ma te help, maar die vloedwater het haar uit sy greep geruk.

ʼn Volskaalse soektog is sedertdien van stapel gestuur. Die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingseenhede, van selfs Benoni en Bronkhorstspruit, saam met die Tshwane-nooddienste soek daagliks sowat 13 km langs die Apiesrivier tot waar dit in die Bon Accorddam vloei, en die dam, van 148 ha, self. Die dam is die fokuspunt van die soektog waar ʼn operasionele sentrum opgerig is.

Francis het gesê sy is tevrede met owerhede se bystand en ondersteuning in die soektog, maar sy voel hulle moet “wyer kyk”. “Ek voel my kind lewe en is dalk hulpeloos êrens daarbuite. Sy is iewers, haar liggaam het nog nie in die water te voorskyn gekom nie, en dit sou al teen dié tyd.”

Op ʼn vraag wat deur haar gedagtes gaan terwyl sy daagliks van vroegoggend tot omstreeks 17:00 langs die water sit, sê sy sy dink aan ʼn “duisend en tien” dinge. “ʼn Mens kan dit nie beskryf nie. Ek pleit elke sekonde by die Here om net my kind terug te gee, sodat ek haar net weer kan vashou en druk,” sê sy terwyl sy die trane op haar wange afvee.

“Ek sal haar onthou as ʼn kunstige en kreatiewe mens. Oe, en sy kon die mooiste stories skryf. Haar verbeelding het jou na ʼn ander wêreld geneem. Sy het haar so ingeleef in ʼn storie en kon dit so mooi uitbeeld. Ek het altyd vir haar gesê ‘my poplief, jy het jou roeping gemis, jy moes ʼn skrywer geword het’. Ai, sy is my alles, my sonskyn, die ligstraal en die liefde van my lewe.”

Polisiebeamptes besig met die soektog. Foto: Phillip Bruwer

Polisiebeamptes besig met die soektog. Foto: Phillip Bruwer

Francis sê al wat vir hulle berusting sal gee, is as Madelein gevind word en die waarheid kan uitkom. “Ek het baie vrae en soek antwoorde, ek weet byvoorbeeld nie hoekom hulle daai tyd van die oggend op die pad was nie.” Sy sê sy het nog nie sedert die voorval met Henco gepraat nie aangesien hy tans by sy biologiese pa is. “Maar ons fokus nou net daarop om Madelein te vind. Ek sal nie ophou soek nie. Ek bly hoop en bid en sal nie ophou tot ek iets vind nie, al moet ek elke dag hier kom sit en die rivier deurloop. Die grootste geskenk wat God my kan gee, sal wees as sy by die deur kan instap en sê ‘moedertjie, ek is hier’.”

Sy het die polisie, Tshwane-nooddienste en gemeenskap bedank vir hulle bystand en veral vir Christo wat haar so getrou bystaan en ook by die dam wag. “Sy kalmte dra my.”

Christo het vlugtig aan Maroela Media gesê die hele situasie is baie hartseer. “Daar is nie ’n ander woord nie. Ons is moedeloos, maar ons bly steeds hoop.”

Hy sê die jongste kinders vra na hulle ma, maar “hulle weet sy is weg en dat almal na haar soek”.

Lees alle vorige berigte oor Madelein Murray op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Inge ·

Ek kan my nie voorstel waardeur hulle almal gaan nie. Dit is verskriklik. Ek hoop regtig hulle vind haar lewendig iewers vas gekeer. ‘n Ma se liefde vir haar kind kan nie beskryf word nie, ek sou al lankal mal geword het van bekommernis. Sterkte met julle soektog. Ek hoop ek lees bennekort dat hulle haar lewend gevind het.

Gerd Lourens ·

Ai Mevrou, my hart gaan uit na julle. Mag God jul styf vashou.

My tweesent bydrae ·

Die hele Pretoria dra julle in ons harte . Staan sterk .

Elsabe ·

Kan hulle nie die Hiesinte uithaal nie dalk virgemaklik dit dalk die soektog. Bid vir goeie nuus. Sterkte

Wonder ·

Ek wonder of iemand nie dalk vir die Tannie n ander Foon het nie, As iemand my Komentaar lees, en het dalk ‘n foon om te skenk….Ek dink sy sal dit so warder….Tannie intussen Bid ons saam met Tannie, vir Tannie, die kinders en haar vriend. !!!

Jean ·

Baie baie sterkte julle… ek kan myself nie voorstel hoe dit moet voel nie. Ek hoop julle kry haar gou.

Maryke ·

Beste Maroela. Ek wil net ‘n plumpie vir julle gee. Ek het lanklaas so lekker gelees aan ‘n nuusstorie. Hoewel dit tragies is, en ek my oe uitgehuil het, het ek die nuus en stand van sake presies gekry, terwyl ek met Madelein se ma’ connect ‘ het. Dis soos die Huisgenoot van ouds (nie nou sin nie!) Baie dankie vir julle nuus… En veral dié goeie berig. Dankie dat julle ons op hoogte hou. Liefde tannie Francis, christo en kinders, julle is in ons gebede. Maroela is tops.

miv ·

So hartseer, so jammer vir moeder en gesin. Julle is in ons gebede.

Buitestander ·

Mag God julle ryklik verroos met Sy Heillige Gees.
Al duur dit hoe lank die waarheid sal uitkom en bid dat God by julle sal wees in die ure van rou.

Ai baie baie tragies.. ·

Mag die Here u en u familie en vriende vertroosting gee en dra deur die harde tyd…

suid wester ·

so tragies as mens se kind verdwyn. sterkte Tannie. ek bid saam met jou. her inner my nou weer aan die namibiese mamma Lily wie se dogtertjies, Angela en Sharona Poulton al veertig jaar gelede uit Luderitz verdwyn het met hulle pa Bernard Johannes Poulton. die mamma het nog nie opgehou sien nie. hulle storie is onder hulle name op fb. sterkte aan die Tannie ook.

Pieter fourie ·

Graag sal ek wil weet of daar meer duidelikheid gegee kan word asb – hoe kan die seun ni antw gee oor hoekom en hoe nog nie kontak gemaak na n week van onsekerheid ? Die tye stem mos nie? Hoe klink die storie so verdag?????

Rbee ·

Tannie ek kry jou sò jammer. Die deur mekaar spul vandat jy die oproep gekry het. Jy is afgelaai 23h00 jy kry nie bevestiging na ñ half uur dat Madelein veilig by haar huis is nie. In vroeë oggend ure kry jy ñ onduidelike skok boodskap. Hanco sê nie vir jou hoekom hy en sy ma 03h00 op die pad is nie. Waar Christo daardie nag was word nie berig nie. Bo en behalwe dat jy al hierdie vrae het kry die duikers nie eers haar persoonlike besittings wat nog van Madelein. Ek dink aan jou in hierdie stryd van soeke. Xx

Liza ·

Dit is ongelooflik hartseer!!!! Ai my hart is so seer vir die mense!!!!! Mag ons Hemelse Vader julle berusting bring!!!!!!

Charlaine ·

Ek volg ook gereeld die storie op Netwerk24 en vir my is dit net so snaaks dat die vrou nog nie opgespoor is nie…..ek kyk elke dag of daar nog nie n artikel is dat sy gevind is nie, maar dit is darem nou al baie lank en die feit dat daar nog nie een enkele item wat dalk hare mag wees uitgespoel het erens nie, maak dit baie “fishy”……..of sy het haar kop dalk hard gestamp teen iets, wel erens uitgespoel en bevind haar miskien in n bos of iets (as daar so iets naby die Apiesrivier is) dat sy nie weet wie sy is nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.