Ma se ekskêrel vas vir kind (7) se moord

Argieffoto bloot ter illustrasie. 

Die polisie in Noordwes het ’n 51-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord op sy eksmeisie se sewejarige kind.

Klein Keitumetse Tumelo se halfnaakte liggaam is Donderdag met sigbare kopbeserings in die bosse by Letlhabile in die omgewing van Brits gevind.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê voorlopige inligting dui daarop dat die dogtertjie Dinsdag vir die laaste keer gesien is toe sy uit ’n taxi geklim het. Sy het egter nooit by haar huis uitgekom nie.

Keitumetse se ma en die bure het oral na haar gesoek. Die soektog het niks opgelewer nie en sy is Dinsdagaand as vermis by die polisie aangemeld.

Funani sê die ekskêrel van Keitumetse se ma is sedertdien met die moord verbind en op aanklagte van moord en ontvoering in hegtenis geneem nadat hy ondervra is.

’n Nadoodse ondersoek moet nog gedoen word om die presiese oorsaak van klein Keitumetse se dood te bepaal. ’n Addisionele klag van verkragting kan moontlik bygevoeg word afhangende van die nadoodse ondersoek se uitslae.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Brits-landdroshof verskyn nadat hy weens ’n Covid-19-geval by die hof nie Vrydag in die hof kon verskyn het nie.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het intussen die moord veroordeel en die betrokke speurders in die saak opdrag gegee om te verseker dat die verdagte se aansoek om borgtog teengestaan ​​word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.