Ma se smeekgebed: ‘Weerhou onheil, dat smart ons nie tref’

Klein Monique (Foto: Facebook)

Klein Monique (Foto: Facebook)

Sy was maar ʼn skrale drie maande oud toe sy met ʼn hartdefek gediagnoseer is. Dié diagnose was soos ʼn nagmerrie, maar in plaas daarvan om wakker te skrik, het die werklikheid deurgedring. Skielik is die gesin se opgewondenheid oor hul nuwe bondeltjie met vrees oorskadu. “Hoekom mý kind? En sal sy oukei wees?”

Só vertel Angelique Foster van Upington in die Noord-Kaap oor haar dogtertjie, Monique (agt maande oud), se diagnose met die sogenaamde ventrikulêre septale hartdefek. Dié toestand word gekenmerk deur ʼn gat in die hart. In Monique se geval is die gat 11 mm groot.

Dit veroorsaak ook dat die “bloed oor haar longe stoot” wat te veel druk op dié organe plaas. Uiteindelik het dit ook ʼn invloed op haar fisiese ontwikkeling.

Buiten vir dié defek, het sy ook talle skildklierprobleme en die are in haar hartkamers is ook nie op die regte plekke nie.

Foster sê die gesin het aanvanklik gewroeg met vrae. Sy sê hoewel hulle intussen vrede gemaak het en hoop dat ʼn operasie haar ten volle sal laat herstel, is die pad vorentoe nie sonder duwweltjies nie.

Die gesin het nie ʼn medies fonds nie en sukkel om geldelik die mas op te kom.

“Sy het aan die begin van Februarie weer vir ʼn ondersoek gegaan, waar die dokter bevestig het dat sy wel twee operasies moet ondergaan. Die eerste operasie sal wees om die gat in haar hart toe te maak en die ander om die are in haar hartkamers na die regte plekke te skuif.

Angelique saam met haar man en klein Monique (Foto: Facebook)

Angelique saam met haar man en klein Monique (Foto: Facebook)

“Ons sien baie op na die volgende ondersoek, maar die dokters het gesê ons moet op 20 Maart weer bymekaar kom en vandaar die operasie skeduleer,” vertel sy.

Monique sou aanvanklik ʼn ope-hart operasie moes ondergaan. “Ek wou nie eens daaraan dink nie. Dat daardie piepklein lyfie ʼn ope-hart operasie moet ondergaan. Sal sy dit ooit oorleef? Dis waansin – dit breek ʼn ma se hart.”

Intussen het die dokters egter bevestig sy hoef nie meer dié lewensgevaarlike operasie te ondergaan nie. “Dit het soveel meer vrede in my hart gebring. Die dokter het gesê hulle sal nou twee klein operasies doen, waar sy onder haar ribbekas oopgesny sal word. Dis veiliger, maar met dieselfde resultate.”

Dokters meen dié operasie moet gedoen word voordat sy een jaar oud word, anders sal haar longe drasties en onherstelbaar beskadig word.

Foster meen die finansiële druk waaronder die gesin gebuk gaan, maak dié las swaarder om te dra.

“Die weke raak maande. Mens weet nie waar die volgende hulp vandaan kom nie. Die meeste dae is ek alleen saam met my klein dogtertjie tuis. Wanneer sy slaap, begin my gedagtes dwaal en soms maak dié gedagtes jou morbied. Ons hoop, bid en glo dat sy oukei sal wees. Maar ons kan dit nie alleen doen nie en moet die hulp van weldoeners vra, wat bereid is om hul harte vir ʼn onskuldige dogtertjie oop te maak.”

Vir nou is dit Jabes se gebed in 1 Kronieke 4: 10 wat dié gesin staande hou. “Stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming, en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”

Indien jy betrokke wil raak of wil help, besoek Steungroep vir Upington-baba Monique op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresa ·

Ek hoop dat die finansiële hulp sal instroom. Bly moedig en positief – al is dit soms baie moeilik.

Elize ·

Ons pleit Jesus kosbare bloed oor die mooie mensie. Jesus hou haar styf vas asb sy is so klein en so kosbaar.

Melinda Marshall ·

My innige simpatie met die familie. Mag God julle drae deur die moeilike tydperk. Hy is in volle beheer. Vertrou op Hom. Julle het n pragtige poppie van God ontvang wat n engel is. Hy sal haar genees ten volle.

TDW ·

Maroela Media baie dankie vir hierdie artikels, dis al manier hoe ons kan uitvind wie hulp nodig het en so kan ons mekaar altyd ondersteun. Mense se harte en hande is altyd oop.

Anoniem ·

Kan iemand die bankbesonderhede bevestig indien mens bydrae wou maak ek is nie op fb nie.

Annetjie ·

Sterkte. Ons weet waardeer julle gaan. Ons kleinseun was op ouderdom van 2 daggies oud gediagnoseer met TOF. Hy het sy 1ste ope hartoperasie op 9 daggies gehad. En daarna nog 2 ope hartoperasies gehad voor die ouderdom van 2 naar asook 2 catheters deur die lies om ballonnetjie deur die onontwikkelde aartjie te skiet. Hy is tans 4 jaar oud en dit gaan goed met hom.

Kobus Meyet ·

Ons pleit die bloed van Jesus oor haar. Deur U wonde kom daar genesing. Ons bid vir julle as ouers ook vir Krag en vrede. Vertrou net op die Here.

Liza ·

Als sal goed afloop en vertrou op ons God, by Hom is niks onmoontlik nie…..Sal bid vir julle en vir die pragtige dogtertjie van julle, hou moed…….

charlene ·

Ek is `n baie bang, en soms klein gelowige… Maar kyk as ek bang raak gryp ek baie gou na my Byble plek houer wat ek so 16+jare self gemaak ek. Dis was Jabes se gebed en die kalmte wat dit oor `n mens bring, dus mamma en pappa: Ons bid saam julle, ons glo saam julle. (Ek het dit veral Jabes se gebed, gebid deur my wonderwerk swangerskap – na Drs gesê ek sal nie kant nie en dat my niere die keer heeltemal SAL ingee….. ek het tot op 40 weke geloop). Julle dogtertjie sal ok wees, God sal julle help, God sal julle vas hou en julle geloof in God sal julle stande hou.

Amanda Labuschagne ·

Baie sterkte – my dogtertjie is ook met ‘n gat in die hart gebore en het op 3 maande ‘n ope hart operasie ondergaan – sy was toe baie siek maar is vandag soo gesond met geen nagevolge nie – dink aan julle en weet dit sal goedgaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.