Ma se toestand nog ‘onveranderd’ ná botsing waarin baba sterf

Shanei Norris na die botsing. (Foto: Verskaf)

Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie in Maart vanjaar dood is nadat hulle saam in ʼn motorongeluk betrokke was, se toestand is steeds onveranderd.

Noelene van Blerk, ’n vriendin van Norris, het Maroela Media Woensdag vertel dat Norris steeds nie van haar baba, Reanei, se dood weet nie, aangesien sy ’n geheuespan van slegs vyf tot tien minute het. Van Blerk verduidelik dat Norris onder die indruk is dat sy Reanei ’n paar minute vroeër gesien het en dus nie na haar vra nie.

Sy vertel dat Norris wel onlangs genoem het dat sy na Reanei verlang. Norris se familie het dadelik haar sielkundige van die verwikkeling ingelig, maar is afgeraai om Norris van Reanei se dood te vertel. Van Blerk verduidelik dat dit Norris vermoedelik onnodig sou ontstel, aangesien sy dit minute later nie sou onthou nie.

Van Blerk bevestig dat dokters nie vir hulle ’n antwoord kan gee oor die pad vorentoe rakende Norris se geheue nie. “Hulle kan glad nie vir ons ’n aanduiding gee nie. Miskien is dit vir altyd, miskien sal sy eendag ewe skielik onthou,” verduidelik sy.

Shanei Norris en Reanei (Foto: Facebook)

Norris word in ’n tehuis in Johannesburg versorg waar sy voltydse sorg ontvang, aangesien sy hulp nodig het om alledaagse take te verrig. Norris se bene is erg in die botsing beseer en is nog steeds in ʼn 90°-posisie omdat haar bene kort ná die ongeluk met penne gespalk is en in dié einste posisie gelig is. Volgens Van Blerk sal Norris volgende week ’n spesialis vir ’n tweede mening gaan spreek in die hoop dat haar bene sal herstel.

Norris sukkel ook met bloedklonte en daarom is daar besluit om af te skaal met fisioterapie.

Volgens Van Blerk dra dié besluit ook by tot die rede dat daar nie juis vordering met haar bene tot dusver is nie. Sy ontvang twee keer ’n week fisioterapie wat uiteraard nie harde oefening insluit nie.

Van Blerk vertel dat Norris positief is, altyd glimlag en grappe maak. “Sy is gretig om dinge vir haarself te doen.”

Sy gaan kuier oor naweke by familie en vriende, maar volgens Van Blerk bly sy in die week in die tehuis totdat sy dermate herstel het dat sy kan beweeg en op haar eie staan. Hierna sal haar familie die pad vorentoe heroorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

IK ·

Dit maak my emosioneel. Sterkte aan jou Shanei en ek bid vir volkome herstel. Daar is deur die vader van Reanei ‘n monumentjie opgerig by die ingang van Drieriviere vanaf Villiers waar die ongeluk gebeur het.
OPVALLEND dat daar GEEN spoedbeperkingteken opgerig is waar die beboude gebied begin. Selfs hierdie ongeluk kon nie beweging bring aan die oprig van die teken. Ja, die verkeerswet sê 60km/h by sulke plekke maar ons weet mos hoe werk van die bestuurders se koppe. Daar is nog verskeie sulke nalatigheid in Emfuleni minus-‘n-paletyt se gebied.

Wilma ·

Pragtige mamma en kindjie. Baie hartseer. Vertrou mamma sal volkome herstel
My hart bloei met opregtheid vi haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.