Ma se vrae oor die dood lei tot PhD

Dr. Ronita Mahilall, hoof van die St. Luke’s- gekombineerde hospies in Kaapstad. (Foto: Stefan Els/US)

ʼn Gebroke ma se soeke na antwoorde oor die lewe, die dood en wat daarna gebeur, het uiteindelik tot die voltooiing van ʼn doktorsgraad in Sielkunde aanleiding gegee.

Dr. Ronita Mahilall, hoof van die St. Luke’s- gekombineerde hospies in Kaapstad, sê egter palliatiewe sorg is eers onlangs as deel van die gesondheidsorgstelsel en deurlopendheid van sorgdienste in Suid-Afrika erken. Sy meen dit is nou, te midde van die Covid-19-pandemie, belangriker as ooit dat dié sorgdienste verder uitgebrei word.

Mahilall het self 14 jaar gelede, kort ná haar man en seun se dood, begin antwoorde soek op haar vrae oor die lewe. Sy het Maandag haar doktorsgraad in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

“Dienste vir palliatiewe en spirituele sorg sukkel nog steeds om hul regmatige plek en erkenning te vind. Opleidingsbehoeftes, veral in spirituele sorg soos my werk aandui, is grootliks onvoldoende en gefragmenteerd.”

As ʼn toegewyde Hindoe het spiritualiteit haar al hoe meer gefassineer en het sy die dienswêreld van palliatiewe sorg, oftewel einde-van-lewesorg, en spirituele sorg betree.

Mahilall is oorspronklik van KwaZulu-Natal en het ʼn agtergrond in maatskaplike werk. Sy het haar in 2016 by St. Luke’s aangesluit nadat sy na die Moederstad verhuis het om by haar twee dogters, Chiara en Ureesa, te wees nadat hulle aan die Universiteit Kaapstad (UK) gegradueer het.

Dr. Ronita Mahilall en haar dogters, Chiara en Ureesa. (Foto: Stefan Els/US)

By St. Luke’s het sy bewus geword van die skaal en omvang van palliatiewe en spirituele sorg wat hospitiums aan terminale pasiënte en hul gesinne verskaf.

St. Luke’s, wat al langer as 40 jaar palliatiewe sorg in Kaapstad aanbied, beskik oor een van die mees gevestigde geestelikesorgdienste in die Wes-Kaap en het ʼn groot groep spirituelesorgwerkers.

“Hoewel dit my ontroer het, was dit vir my ietwat hartseer dat spirituelesorgdienste nie die erkenning kry wat spirituelesorgwerkers en ander in die organisasie glo hulle, as deel van die algehele dienspakket vir palliatiewe versorging, verdien nie. Ek wou die aandag op hierdie kwessies vestig en het besluit dat ʼn doktorale studie ʼn goeie plek is om te begin,” sê Mahilall.

Behoefte aan opleiding

As deel van haar PhD-studie het sy ʼn nasionale aanlyn opname, onderhoude en groepbesprekings gebruik om die spirituelesorgdienste wat tans by die 104 gelyste hospitiums in Suid-Afrika aangebied word, te ondersoek en te verstaan. Sy wou ook verken hoe hospitiums spirituele sorg sien en toepas, en wat die ondervindinge van die spirituelesorgwerkers binne ʼn hospiesopset vir palliatiewe sorg is, insluitend om hul uitdruklike en genuanseerde spirituelesorg-opleidingsbehoeftes te verstaan.

Mahilall sê geestelikesorgwerkers in Suid-Afrika is gewoonlik vrywilligers met geen voorvereiste kwalifikasie vir die verlening van spirituele sorg nie. Dit verskil van ontwikkelde lande waar geestelikesorgwerkers meestal betaalde personeel is met die een of ander agtergrond in gesondheidsorg as ʼn toelatingsvereiste.

“Die prentjie lyk aansienlik anders in Suid-Afrika aangesien spirituele sorg dikwels vanuit ʼn mens se persoonlike ervarings en perspektief beoefen word wat implikasies vir sorguitkomste kan hê.”

Mahilall sê haar studie toon dat spirituelesorgwerkers uitgesluit voel en gevolglik beskou hulle die formalisering van spirituelesorgdienste, deur die ontwikkeling van ʼn onafhanklike opleidingskurrikulum, as ʼn tree in die regte rigting om erkenning te verkry.

Werkers pleit vir die belang van spiritualiteit as deel van holistiese palliatiewe sorg.

“Die behoefte aan spirituelesorg-opleiding en die ontwikkeling van ’n spirituelesorg-kurrikulum wat by die Suid-Afrikaanse konteks pas, het duidelik in die data na vore gekom. Maar in vergelyking met ons huidige werklikhede en prioriteite, wat hoofsaaklik op die aanspreek van ongelykhede, die groei van die ekonomie en die hantering van die Covid-19-pandemie fokus, is ek nie so seker of dit die regte tyd vir die ontwikkeling van ʼn onafhanklike spirituelesorg-kurrikulum vir Suid-Afrika is nie,” sê Mahilall.

Vredemakers, versorgers

Die St. Luke’s- gekombineerde hospies in Kaapstad bied al langer as 40 jaar palliatiewe sorg. (Foto: Facebook)

Tydens die Covid-19-pandemie is duisende families met die eensame dood van ʼn geliefde gekonfronteer. Dit was in sommige gevalle boonop uiters onverwags.

“Terwyl die tydsverloop van diagnose tot afsterwe in baie Covid-19-gevalle so kort is dat daar geen tyd vir sinvolle palliatiewesorg-ingrypings is nie, is daar steeds gesinslede wat hul verlies moet verwerk.

“Dit is waarom palliatiewe sorg so belangrik is. Die span wat vertroostingsorg aanbied, behoort vol te hou om die gesin met belangrike herdenkings soos ʼn verjaardag of huweliksherdenking te ondersteun, selfs langer as 13 maande nadat die pasiënt oorlede is.

“Ons spirituelesorgkollegas help nie net pasiënte om betekenisvolle antwoorde op vrae oor die lewe, godsdiens en wat ná die dood gebeur, te vind nie, hulle bied ook berading aan en ondersteun en fasiliteer versoening in gevalle waar die pasiënt met ʼn familielid ‘vrede wil maak’.”

Mahilall is vol lof vir die span by St. Luke’s wat uitsonderlike dienste aan pasiënte en hul gesinne verskaf.

“Hulle is so lewenskragtig, so passievol, so vrygewig en so positief, selfs met die dood wat hulle daagliks in die gesig staar. Ook in die beginstadium van Covid-19, toe ons almal met vrees en onsekerheid oorweldig was, het die kliniese spanne hul persoonlik beskermende toerusting getrou aangetrek. Hulle inspireer my voortdurend.

“Ek is so trots op die daghospitium-sorgmodel, ʼn gemeenskapsgebaseerde buitepasiëntdiens wat ons ingestel het vir pasiënte met ʼn terminale diagnose, maar wat nie aktief besig is om te sterf nie. As ʼn een-stop-eenheid vir palliatiewe sorgdiens bied hierdie model groepsondersteuning aan pasiënte wat met ʼn soortgelyke uitdaging sukkel.

“Ons is realiste: ʼn Terminale diagnose kan nie omgekeer word nie. Ons help pasiënte en hul gesinne om hul diagnose te aanvaar en ten volle binne die beperkings van die diagnose te leef.”

Finansiering noodsaaklik

Mahilall sê daar is ʼn groot behoefte aan finansiering sodat hospitiums kan volhou om noodsaaklike dienste aan gemeenskappe landwyd te lewer.

“Ons regering sien die waarde van hospitiums raak, maar dit kry nie gestalte in die finansiële ondersteuning wat ons soek nie. Dit is jammer.”

Hoewel finansiering steeds ʼn struikelblok is, hoop Mahilall dat haar studie nasionale en internasionale erkenning vir palliatiewe sorg en spirituelesorgwerk sal help bewerkstellig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

johan ·

Geen Phd vir dit nodig nie. Die antwoorde is heel eenvoudig vir almal om te lees in die Bybel opgeskryf.

Vicky ·

Die mense wat die bybel geskryf het,het self nie bybels gehad nie.

Vicky ·

Is jy ñ rasis? Die artikel gaan oor die moeilike erkenning om ñ grand te gaan swot in ñ sekere onderwerp,en jy val hier op jou kop van die bus af. En oh ja…àlmal wat oorlog maag in die naam van geloof en oortuiging is terrorists,nie alle Islam mense deel mee nie.

ES ·

Nie almal glo in Christus nie Johan, en dit is ook okay. Die here het ons almal anders geskape.

Elinette ·

Johan, die Bybel is nie die Alfa en Omega nie. Laat ek jou daaraan herinner dat die Bybel deur MENSE geskryf is, wat 10 000 jaar gelede geleef het, in die Brons-tydperk.

JJB ·

Ek is verstom dat Maroela sy lesersgehoor so verkeerd kan lees. Wil jul nie sommer ‘n paar pro-Islam artikels ook plaas nie?

ES ·

JJB, ek is nie seker wat Islam hiermee te doen het, as die dokter in die berig ‘n Hindoe is nie? Mense soos jy is wat verkeerd is met hierdie land – enigiemand wat anders as jy glo, is verkeerd…

Jy is seker nie ‘n baie gelukkige mens nie.

Elinette ·

En wie sê jou geloof in God, die Seun en Heilige Gees is die regte geloof? Wie sê dat die Quran en geloof in die gesalfde Mohammed nie die regte geloof is nie? IS daar ooit iets soos ‘n regte en/of ‘n verkeerde geloof?

JM ·

Christus verskaf AL die antwoorde oor die dood. Haar PhD gaan haar van geen antwoorde voorsien nie.

Elinette ·

Die regering ondersteun lankal nie meer NGO’s soos hierdie nie en dit is merendeels ‘n jammerte! Hierdie organisasies doen eintlik die werk wat regerings behoort te doen, maar moet soebat vir fondse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.