Ma, seun platgeslaan ná huis afbrand

Die huis wat gebrand het (Foto: Verskaf)

’n Ma en haar seun het die afgelope naweek byna alles verloor toe hul huis op ’n kleinhoewe in De Wildt in Noordwes, afgebrand het. Rina (61) en Kobus Bester (32) het dadelik hulp ontbied toe hulle ʼn brand in die veld naby hul eiendom gewaar het, maar dié hulp was omtrent twee uur te laat.

Daar is twee huise op die kleinhoewe en Kobus het in die huis wat afgebrand het, gebly. Rina se nabygeleë huis is nie deur die brand geraak nie, en Kobus bly tans daar by haar.

Volgens Rina het kwaaddoeners Sondag omstreeks 13:30 die veld naby aan Kobus se huis aan die brand gesteek.

“Ons het dadelik die rook by Kobus se huis gesien en ek het afgery om te gaan kyk. Die wind en vlamme was buite beheer en sterk op pad na die huis toe. Kobus kon gelukkig betyds uit die huis ontsnap,” vertel Rina.

Hulle het Kobus se honde in ʼn kampie toegemaak om hulle teen die vlamme te beskerm. Sy het daarna dadelik ’n boodskap op hul wyksgroep gesit, wat onmiddellik deur 12 mense gelees is.

“Ek het my foon gebêre en ons het met tuinslange probeer om die brand te bestry.”

Ná amper ’n uur het nog geen hulp opgedaag nie.

“Die wind het eers oos gewaai en dit het gelyk asof ons gaan wen, maar toe draai die wind en het ons geen kans gehad nie.”

Rina sê in daardie stadium het hulle besef dis verby en dit was ’n uitgemaakte saak dat die huis aan die brand sou slaan.

“Die vlamme was te hoog en die wind en hitte te erg. Ons het die honde oopgemaak, omgedraai en weggestap. Die huis is toe in vlamme gehul.”

Ongeveer een uur en vyftig minute nadat Rina hulp ontbied het, het plaaslike inwoners met die eerste waterkar opgedaag. Drie verskillende brandweerdienste het ook later met brandweerwaens en brandbestrydingstoerusting opgedaag.

“Ek waardeer die hulp ontsettend baie, maar dit was meer as twee uur te laat,” het sy gesê.

Rina sê die skade sou nie so groot gewees het as hulp vroeër daar aangekom het nie. Sy sê omdat dit ’n Sondagmiddag was, was die mense nie so bedag op nood nie en nie almal het betyds die boodskap gesien nie.

Die brand het na omliggende eiendomme versprei en die brandweerspan en plaaslike inwoners het onverpoosd gewerk om die brand onder beheer te bring.

Rina sê hulle het uit hierdie ervaring geleer om self onmiddellik te reageer om iemand in nood te help en nie staat te maak op die feit dat iemand anders sal gaan help nie.

“Ons reaksietyd met krisisse in die gemeenskap is nie gekoördineerd nie en is te stadig. Ons moet as ʼn eenheid begin optree in die gemeenskap. Dalk sal mense dit begin besef en weer hande vat om beter gerat te wees vir krisissituasies.”

Volgens die Magaliesberg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die De Wildt-omgewing die afgelope naweek onder talle brande gebuk gegaan.

Kobus se hele huis met die inhoud het tot op die grond afgebrand. Die dak het ingeval en die huis omtrent heeltemal verwoes.

Rina en Kobus is platgeslaan nie net omdat die huis afgebrand het nie, maar ook oor hul bron van inkomste wat in die huis was. Kobus bedryf ’n herwinningsonderneming en het byna R50 000 se herwinningsmateriaal in die brand verloor. Rina se antieke ware en handgemaakte produkte wat sy verkoop om ’n inkomste te genereer, is ook deur die vlamme vernietig.

Hulle verdien sedert Maartmaand vanjaar nie ’n inkomste nie weens die Covid-19-pandemie. “Ons het sedert Maart oorleef deur die Here se genade en hulp van familie.”

Rina sê hulle is oneindig dankbaar vir almal se hulp en ondersteuning wat na die brand ingestroom het.

“Mense van heinde en ver het my gekontak en gevra hoe hulle kan help.”

Die Magaliesberg GPF hou Donderdag ’n braaidag teen R50 per persoon. Die geld wat ingesamel word, gaan as finansiële steun na die Besters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

En die lot wat die veld aan die brand gesteek het, het soos mus voor die sin verdwyn. Hoeveel skade gaan daar nog aan ons mense aangerig word? Mense wat alreeds alles verloir het, sekerlik nie assuransie kan bekostig nie en nou dit. Baie sterkte.

Jaco ·

As jy in 2020 wit is in dié anti-wit SA, pas jouself dan BAIE goed op, want as jy probleme soos bogenoemde het, gaan jy NIE hulp kry vanaf ons anti-wit owerhede kry nie

J ·

Hoekom was daar nie VOORBRANDE (brandsktroke) gemaak nie? Soos wat die wet voorskryf nie?

Niemand van die bure het gaan help om die brand te blus nie …. SKANDE!

More is dit jou dalk jou beurt?

Ten spyte van massiewe veldbrande oral in SA, Australië en Amerika wat oral op tv kanale uithesaai word, maak ons inwoners nog steeds nie voorbrande (brandstroke) nie?

Verder moet gemeenskappe hul NOOD netwerke en samewerking opskerp!

Of elkeen (alleen) ondergaan? … elkeen in sy afgesonderde hoenderhemel?

Eerlik ·

Nood situasies moenie op n gemeenskap whatsapp groepie rapporteer word tensy dit direk na die naaste nooddienste gaan nie.

Carika ·

Ek wil net vra as enige een n bydra wil maak is hulle welkom. Ek gee Rina Bester se bank details. Daar word ook n braai op braai dag gehou om vir hulle te help. Bring n vleisie en kom braai saam by kobbie se plekkie reg lanks bek se plek op die R513 donderdag vanaf 11: 00 pap sous slaai en broodjie sal verskaf word teen R50 per persoon en al die geld van daai dag sal aan Rina hulle gee word.
Mooi dag
CA Bester Capitec spaar 1508434601 takkode 470010

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.