Ma, seun verdwyn: ‘Gewone oggend het in nagmerrie ontaard’

Luschka Zeeman Taljaard en haar seuntjie (Foto: Facebook/Luschka Zeeman)

“Die gebeure speel oor en oor in my kop af.”

Só skryf Ester Zeeman op Facebook in verband met die verdwyning van haar dogter, Luschka Taljaard (26), en haar vierjarige kleinkind. Taljaard en haar seuntjie is Vrydagaand by ʼn vulstasie in die Pretoriase middestad gevind nadat hulle Donderdagoggend by hul huis in Hendrina, Mpumalanga, gery en daarna spoorloos verdwyn het.

“Dit was die langste 48 uur wat ek moes deurbid in my lewe,” het Zeeman gesê. Sy het almal wat tyd en geld opgeoffer het in die soektog na haar dogter en kleinseun bedank.

“Daar is baie gerugte en valse inligting wat deurgegee is en ek gee glad nie om wie wat te sê het nie – ek wil vir jou wat haat en nyd saai sê mag dit nooit met jou kind gebeur nie of [met] ʼn familielid van jou nie. As julle mense maar net kon sien waarop ek en Dino [Luschka se pa] moes afkom sou julle ʼn ander gevolgtrekking maak. My kind in ʼn bondeltjie op die vloer… sy kan nie praat nie sy is bang verbouereerd, verwilderd en gebreek.”

Volgens Zeeman weet hulle nog nie wat gebeur het nie. “Ek dink dit gaan nog maande neem om tot verhaal te kom. Ek probeer sin maak van waar ek as ma iets gemis het… ek en Dino is moeg, geestelik uitgeput. Ons het nie krag en energie vir negatiewe kommentaar nie… ons kan net dankie sê aan Abba Vader dat hy ons kinders beskerm en veilig terug huis toe laat kom het.”

Zeeman het gesê hulle sal sodra die tyd reg is en hulle presies weet wat gebeur het, inligting bekend maak. Maroela Media het Zeeman om kommentaar genader.

Taljaard se silwerkleurige Volkswagen Polo is Donderdag om 09:52 op beeldmateriaal vasgevang en dieselfde middag verlate by die ingang van die KwaZamokuhle-township buite Hendrina opgespoor. Die twee is as vermis by die polisie aangegee en ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur.

Daar is later inligting ontvang dat Taljaard en haar seuntjie in ʼn silwerkleurige dubbelkajuitbakkie geklim het. Dié gebeure kon egter nie deur beeldmateriaal gestaaf word nie, en dit is nog nie duidelik of dit wel die geval was nie.

Morney Vos, ʼn senior ondersoeker by die private speurder Mike Bolhuis se Specialised Security Services (SSS), het vroeër gesê Taljaard het haar man, Coetzee, Vrydagaand gebel om te sê waar sy is.

Haar man het SSS in kennis gestel en ʼn taakspan is omstreeks 22:00 na die Sasol-vulstasie in Pretoria se middestad waar hulle die ma en kind aangetref het. Hoewel hulle fisiek ongedeerd was, was hulle baie emosioneel.

“Hulle was ontsettend getraumatiseerd en Mike [Bolhuis] het toe voorgestel dat ons hulle dadelik na die Unitas-hospitaal [in Centurion] neem vir verdere behandeling. Die gesin was ook baie verwilderd,” het Vos aan Maroela Media gesê.

Bolhuis sê niemand anders was Vrydagaand saam met Taljaard en haar seuntjie by die vulstasie by die taakspan se aankoms op die toneel nie.

“Hulle was ook nie fisiek beseer of leed aangedoen nie. Daar was nie bloed of geskeurde klere nie. Niks was uit plek nie. Sy en die seuntjie was wel baie getraumatiseerd. Daar was emosionele histerie. ʼn Gegil en geskree, maar hulle wou nie kommunikeer nie.

“Dit was ook net hulle twee. Dit was nogal bisar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank John ·

Ag jinne julle, mag God almagtig julle rus en vrede gee en ons bid dat jul totaal herstel van die trauma. Julle verdien nie dit nie, God gee jul krag in Jesus Naam. Dit maak my ontsettend hartseer om enige iemand deur so iets te sien gaan. Sterkte julle almal.

Kiewiet ·

Liewe mens ek wil net v jou sê .. ja mag dit nooit met hierdie haatsprakers gebeur nie ek kan nie dink waardeur julle moes gaan en dan met sulke kleinlikheid v mense ook nog moet deel..ons Prys die Here saam jou dat jou kinders veilig is..en ja as hulle reg is sal julle die storie hoor tot dan wag jy en intussen help hulle genees.

Nettie ·

Ons is so verskriklik dankbaar die mamma en seuntjie is veilig gevind. Wat ookal gebeur het, dit was traumaties vir die hele familie. So ons is almal so bitter bly saam met julle dat julle hulle weer kan sien, weer kan vashou en weer ‘n drukkie kan gee. Mag God elkeen help om die trauma en gebeure so goed moontlik te verwerk, en mag julle as familie saam genesing en berusting vind. Ons sal dankbaar wees indien ons op hoogte gehou word, sodat ons ons gebede kan aanpas volgens die behoefte op daardie oomblik. Tans bid ons dat julle net eers toegevou word in God se liefde en beskerming. Laat Hy ‘n muur om julle vorm en moet niks en niemand inlaat nie. Dit was my dogter se sielkundige se raad tydens trauma en het so goed gewerk. Sterkte. Julle is nie alleen nie. Baie gebede omring julle as familie.

Hennie Biebouw ·

“My kind in ʼn bondeltjie op die vloer… sy kan nie praat nie sy is bang verbouereerd, verwilderd en gebreek.”

Dit is straks nou belangrik dat julle, haar ouers, uitvind presies vir wié sy bang is…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.