Ma, seun vreesbevange toe kapers in uniform toeslaan

Die gekaapte Land Cruiser wat aan Gerda Toms behoort het (Foto: Verskaf)

ʼn Ma van Kempton Park in Gauteng en haar seun het deurentyd kalm probeer bly toe hul motor Vrydagaand deur rowers, op die oog af geklee in polisieuniforms, van die pad gedwing en gekaap is.

Dit is steeds nie duidelik of die aanvallers werklik polisiebeamptes was, en of hulle hulle net só voorgedoen het nie.

Die aanvallers het Gerda Toms (46) en haar seun, wie se naam op versoek van die familie weerhou word, omtrent twee uur lank geteister en met die dood gedreig voordat hulle met die Toms se voertuig weggejaag en ma en seun aan die genade in ʼn veld oorgelaat het.

Toms beskryf die aand as ʼn nagmerrie en sê sy wil groter bewustheid onder mense skep om meer waaksaam te wees.

“Ek het my seun Vrydag omstreeks 18:00 by Loskopdam – waar hy aan die Suid-Afrikaanse kunsaashengelproewe deelgeneem het – opgelaai. Ek het met die Land Cruiser gery, want ons moes al sy kamp- en visvangtoerusting inpas. Ons het omstreeks 19:00 op die N4-snelweg koers gekies huis toe,” vertel Toms.

Onderweg na Kempton Park, naby die N12-afrit, het Toms blou ligte agter die voertuig opgemerk en ʼn sirene hoor loei. Die volgende oomblik het ʼn voertuig – Toms vermoed dit was ʼn driereeks-BMW – haar voertuig van die pad af gedruk. Sy sê sy het soos ʼn pligsgetroue landsburger langs die pad stilgehou.

“Ek het in my spieëltjie gekyk en opgemerk dat ʼn man, geklee in ʼn blou uniform, aangestap kom. Ek het my venster net ʼn klein entjie oopgemaak. Hy het vir my lisensie gevra, waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is.

“Hy het ook gevra wat in die motor is en met sy flitslig in die kar gelig. Hy het my toe gemaan om die deure oop te sluit omdat hy wil kyk wat in die voertuig is. Ek wou nie probleme veroorsaak nie en het die deure toe maar oopgesluit.

“Die oomblik toe ek die knoppie druk om die deure oop te sluit, ruk twee [mans] die deure aan my seun se kant, asook my deur oop. Die mans het bo-op my en my seun gespring.”

ʼn Derde man het ʼn agterdeur oopgemaak en alles wat op die agtersitplek gelê het, langs die pad gegooi. Hulle het Toms en haar seun daarna deur die gaping tussen die voorste en agterste sitplekke gedwing.

Die seun se sitplekgordel was in daardie stadium steeds vas.

“Hulle het my hande agter my rug vasgemaak en my seun s’n voor op sy bors. Hulle het ons oë met ʼn Buff [gesigsokkie of nekdoek] toegebind en ons met ʼn kussing op die sitplek gedruk. Dit was só benoud.

“Ek het in die proses die bedekking van my oë afgetrek en skelm my hande uit die kabelbinders, waarmee ons vasgemaak was, uitgedwing. Ek het met my vingers aan my seun geraak om hom te probeer gerusstel. Ek het ook met my hand probeer voel of hy kan asem kry.”

Een van die aanvallers het agter die stuur van die Land Cruiser ingeskuif en vir langer as ʼn uur met Toms-hulle rondgery. Hulle het in daardie tyd ook die twee se selfone, bankkaarte en paspoorte geëis.

Die vermeende kapers het in ʼn stadium stilgehou en ʼn ander man, met “ʼn sak wat klingel”, het langs Toms se seun ingeklim.

“Ek het gedink dis gewere. Ek kon voel ons ry in ʼn veld in.”

Die voertuig het tot stilstand gekom en die boewe het Toms oor haar opsporingstelsel uitgevra.

Die twee is beveel om stil te lê.

Hulle het daarna Toms se deur oopgeruk en gesê “we will take you out now”, vertel sy.

Toms sê sy het in daardie stadium gewonder of die mans hulle gaan skiet, of net uit die voertuig gaan laat klim.

“Ek het my hande styf op my seun se bors gesit en gesê ek is baie lief vir hom.”

Hulle het Toms beveel om uit die motor te klim en in die veld te sit.

“Ek het gevra waar my seun is en waarom hulle so lank vat. Toe ek uit die motor geklim het, het ek gehoor hoe my seun sê hy kan nie uit nie, want die sitplekgordel hou hom nog vas.”

Toe die seun eindelik uit die kar kon klim, het Toms hom met haar stem in haar rigting gelei omdat hy nog die lap oor sy oë gehad het.

“My seun het agterna vir my gesê hulle het ʼn mes teen sy keel gedruk en gesê: ‘We will shoot you.’”

Die vermeende kapers het Toms-hulle beveel om tien minute lank in die veld te sit en is daarna met die Land Cruiser weg.

“Toe hulle buite sig was, het ons begin stap na waar ons motors gehoor het. Van daar af het ons ʼn teerpad gekry en in die rigting van die ligte geloop. Ons het binne 30 minute by ʼn klein winkelsentrum uitgekom.

“ʼn Polisievoertuig – waaroor ek in daardie stadium baie skepties was – het by die sentrum uitgery en ek het hom voorgekeer en vertel wat gebeur het.”

Die polisiebeampte het ma en seun na die Dawn-polisiestasie in Boksburg geneem. Sy het daar ʼn saak teen die kapers aanhangig gemaak.

Maroela Media het ʼn navraag oor dié saak aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

Toms sê hulle het deurentyd kalm probeer bly.

“My seun was ongelooflik. Hy was so kalm. Hy het heeltyd vir die kapers gesê: ‘We will do what you want, we will cooperate.’

“Dit was ongelooflik hoe kalm ons kon bly. Dit was ʼn surrealistiese gevoel. Miskien is dit hoe ʼn mens voel voordat jy sterf. Mense sê altyd wanneer iemand rustig doodgaan, beteken dit hulle het vrede gehad.”

Toms sê vrae oor daardie aand maal in haar kop en sy herleef die gebeure steeds.

“Ek vra myself af “wat as …?”. Die moontlikheid is altyd daar dat jy in so ʼn situasie kan beland.

“Mense sê en dink hulle sal nie op die hoofweg stilhou nie, nie eens vir ʼn pap band nie. Of jy sal nie die deur oopsluit nie. Jy sal nie dít nie en jy sal nie dát nie, maar in daardie oomblik is dit anders.

“Die belangrikste is uiteindelik dat ons hier is – lewend om ons storie te vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johannes V ·

Wanneer gaan die mense ag slaan op al die gebeure en die gepaardgaande waarkuwings van die moets en moenies.

Blikkies ·

Johannes, ek stem nie met jou saam nie. Een van jou moenies is seker om nie vir ‘n polisie voertuig te stop nie, As hulle soos die Polisie lyk en met n polisie kar en blou ligte ry? wat moet jy maak? vir hulle wegjaag? die mense was op die hoofweg baie ver van n Polisie stasie af……. En wat doen jy as hulle wel die Polisie is? Hierdie vrou het gedoen wat enige normale wetsgehoorsame burger sou doen as die Polisie haar aftrek. Tensy jy so ingestel en opgelei is dat jy voor die voet kan sien daar is probleme, dis ‘n ander saak.

Misky ·

Dis net genade van Bo dat julle dit oorleef het en die storie kan vertel. Elke dag wat verbygaan, vertrou ek die polisie net minder en minder. Of dit nou werklik polisie was of nie, dis net ‘n gevoel waarvan ek nie ontslae kan raak nie.

Mariana ·

Dit is verskriklik waardeur die land se mense moet gaan. Kriminele het geen menslikheid nie. Terroriseer ‘n vrou en haar kind, vir wat, selfone en bankkaarte en wat nog. Te sleg om te werk nou probeer hulle op die manier hul sakke vul. Patetiese spul. Bly die slagoffers is veilig en hoop dat hulle mettertyd oor die aanval sal kom. Hulle was baie braaf.

Drico ·

Jy kon aangehou het met ry, dan was die kans daar dat daar geskiet kan word op jou voertuig en dat jy of jou seun of beide dood kon wees. Jy het afgetrek en jou voertuig oopgesluit, jy kon jou voertuig gesluit gehou het en weereens die kans gestaan het om geskiet te word. Jy kon ook die kans gewaag het om skielik weg te trek en te ry. Die probleem is jy weet nie watter wapens die bose by hul het nie en dis onmoontlik om te voorspel hoe die situasie gaan afspeel. Baie strekte voorentoe, dis n hengse trauma om deur te werk. Dank Vader julle is ongedeerd.

Irma ·

Wat is n mens veronderstel om te doen as ‘n ‘polisievoertuig’ jou van die pad af dwing?

Cherokee ·

‘n Eenvoudige vraag wat ‘n antwoord verdien. ‘n Vraag wat in die parlement geopper moet word.

Neestemmer ·

Mens kan ook vir hulle wegry as jy ‘n vinniger voertuig as hulle het. Ek het dit al suksesvol gedoen en dit was nie moeilik nie…..

Keelvol ·

Dit is sulke gevalle wat n mens woedend maak. Dit maak die werk van die pligsgetroue polisie man soveel meer moeiliker.

Pablo ·

Wat n kriminele land het SA nie geraak nie. Die Italiaanse Mafia sal nie n dag hier oorleef nie.

quartus ·

Land Cruisers is heelbo aan die lys van voertuie wat misdadigers kaap .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.