Ma, seun wat gru-botsing oorleef steeds in waakeenheid

Gillian Clarke. Foto: Facebook

Die vrou en haar tienerseun wat verlede week ʼn gru-botsing op die N4 in Mpumalanga oorleef het, word steeds in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Mbombela (Nelspruit) behandel. Drie mense het in dié ongeluk gesterf.

Die 46-jarige Gillian Clarke (voorheen Venter) en haar seun, Jordan (15), was Dinsdag teen 14:30 op pad terug van vakansie in Mosambiek toe die ongeluk tussen Malelane en Hectorspruit gebeur het. Hulle was saam met Clarke se vriend, Heinrich Kieser (48), en sy seuns, Christian (15) en Aldin (12), in die voertuig toe dit met ʼn vragmotor gebots het.

Heinrich, Christian en Aldin is op slag dood. Clarke het erge inwendige beserings opgedoen en is steeds in ʼn kritieke toestand, terwyl Jordan ook in die waakeenheid opgeneem is.

Volgens Pieter Venter, Clarke se eksman, het Clarke se lewer geskeur in die ongeluk en het sy haar skouer, arm en enkel gebreek. “Sy het genadiglik nie enige breinbeserings opgedoen nie, maar haar toestand is steeds kritiek. Sy begin nou bykom en begin haar oë oopmaak, so ons voel positief oor haar,” het Venter gesê.

Jordan Venter. Foto: Facebook

Volgens Venter het Jordan sy pelvis, skedel en sleutelbeen gekraak en is daar ʼn gat in sy longe. “Hy is wakker en ek kan met hom gesels. Dit gaan ʼn baie lang herstelpad wees en hy sal baie fisioterapie moet kry, maar hy herstel tot dusver goed. Dit is maar baie traumaties vir hom. Hy sê hy kan in sy geestesoog nog vir oom Hein sien wat dood is en hy onthou die twee seuns in die voertuig.”

Venter het gesê dit is nog nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie en hy wil ook nie daaroor bespiegel totdat die polisie se ondersoek afgehandel is nie. Hy is tans by die hospitaal in Mbombela waar Clarke en Jordan behandel word.

“Ons fokus nou net op hulle herstel. Sodra Jordan sterk genoeg is, sal hy teruggevlieg word George toe om daar verder aan te sterk. Dit is nog te vroeg om te sê wanneer dit sal gebeur,” het hy gesê.

Jordan is ʼn leerder aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Christian was ʼn leerder aan die Pretoria Boys High School, terwyl Aldin ʼn leerder aan die Waterkloof Primary School was.

Herman Pienaar, Kieser se swaer, het vroeër aan Maroela Media gesê ʼn gedenkdiens sal Donderdagmiddag by die Pretoria Boys High School gehou word, terwyl die teraardebestelling die oggend sal plaasvind. “Die seuns se maats en Heinrich se vriende sal ook by die teraardebestelling wees. Hulle was baie geliefd,” het Pienaar gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sw ·

Dis hartseer dat ñ vakansie in ñ tragedie verander. Sterkte met die oorlewendes en ek bid vir hul herstel.

Marlene ·

Baie sterkte aan die Famielie, maar moet by se sy lyk baie goed vir 46

Marie Senekal ·

So innig jammer vir Itha wat álles verloor het. Vir Koos en Magda Pienaar wat hulle énigste kleinkinders verloor het .. vir die res van die Pienaargesin asopk vir fie Kiesler familie. Ons gebede is met julle. Marie en Karin Liezle en Elouise uit N.Z.

My mening ·

Ek verstaan nie hoe swaai ‘n vragmotor na regs uit om ‘n ongeluk te voorkom nie. Klink verdag! Net soos vragmotors wat ‘n u-draai oor die snelweg maak. Vragmotorsbestuurders se hoog in die kajuit, hul kom niks oor. Baie sterkte aan die familie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.