Ma, seun weer geopereer ná huisbrand

Wynandt en Lelani Vermaak. Foto: Verskaf

Wynandt Vermaak, die 14-jarige seun van Kaapstad wat ernstige brandwonde opgedoen het toe die gesin se huis vroeër vandeesmaand grootliks deur ʼn brand verwoes is, is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Morne Vermaak, Wynandt se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel Wynandt nie meer aan ʼn ventilator gekoppel is of onder verdowing gehou word nie, is sy toestand steeds kritiek. “Hy is nog steeds in die waakeenheid en sy toestand is steeds kritiek, maar hy is stabiel,” het Morne gesê.

Intussen sal Lelani, Wynandt se ma, vandag geopereer word om dooie weefsel aan haar regtervoet te verwyder waar sy erge brandwonde opgedoen het.

Volgens Morne is Wynandt verlede week uit die koma gebring, maar is hy Vrydagaand weer verdoof en aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel omdat hy begin hiperventileer het. Maandag is hy weer bygebring en van die asemhalingsmasjien afgehaal, hoewel hy nog suurstof ontvang.

“Wynandt is bitter onrustig en deurmekaar. Hy probeer opstaan en loop. Soms reageer hy as ek met hom praat en ander tye raak hy weer aan die slaap,” het Morne verduidelik. “Hy is nie regtig in staat om te sê of hy pyn het of ʼn gesprek te voer nie, want hy is te deurmekaar. Hy praat van ʼn lappop en dan weer van die hospitaal wat vol water is. Ek het hom in ʼn stadium gevra om vir my op my selfoon te tik wat hy wil sê, maar hy kon nie. Hy is nog net te deurmekaar.”

Lelani en Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

Morne het gesê Wynandt sal Donderdag teater toe geneem word om die eerste veloorplantings op sy skouers en linkerblad te doen.

Lelani se eerste veloorplantings sou vandag gedoen geword het, maar dit is vir eers uitgestel omdat sy infeksie in haar regtervoet opgedoen het, het Morne gesê. “Die dokter het verlede week vir haar antibiotika voorgeskryf en hy is baie tevrede met die werking van die antibiotika. Hulle sal haar vandag teater toe neem om die dooie weefsel aan haar voet te verwyder en te kyk of daar genoeg gesonde weefsel is waar die veloorplanting gedoen moet word,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het die aand van 6 Julie in Wynandt se kamer in die gesin se huis in Boston ontstaan. Lelani het geluide in die huis gehoor en gaan ondersoek instel en toe sy Wynandt se kamerdeur oopmaak, het sy gesien die hele vertrek was in vlamme gehul. Lelani het Wynandt uit die brandende kamer geruk en hom op die vloer laat rol om die vlamme op hom te blus.

Nadat sy vir Wynandt na buite geneem het, het sy teruggehardloop in die brandende huis om haar vyfjarige dogter, McKenzie, uit haar kamer te gryp. Morne het intussen probeer om die vlamme te blus, maar dit het vinnig al langs die plafon af na die res van die huis versprei. Die grootste deel van die huis is in die brand verwoes.

Wynandt het erge brandwonde aan 60% van sy lyf opgedoen en is in die Tygerberg-hospitaal opgeneem waar hy in ʼn geïnduseerde koma geplaas is. Lelani het brandwonde aan haar hande en voete opgedoen en is in die Mediclinic Louis Leipoldt opgeneem.

Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

Intussen hardloop Morne rond om al die administratiewe reëlings rondom die voorval te hanteer en onder meer nuwe behuising vir die gesin te kry. “Ek was nog heeltyd so besig om al hierdie goed te hanteer en noudat die meeste van die reëlings in plek is, het ek meer tyd om te dink oor al hierdie dinge. Om eerlik te wees, dit begin my bietjie vang. Dit is nie ʼn normale situasie waarin ons onsself bevind nie.”

Vir Lelani is dit ook moeilik om nie haar seun elke dag te kan sien nie en sy skryf gereeld vir hom boodskappe op ʼn Facebook-ondersteuningsblad wat sedert die brand op die been gebring is. “Wynandt, ek mis jou vroegoggend bekers koffie as jy oor ʼn naweek saam met my in die bed klouter. Ek mis jou drukkies en lawwe grappies. Ek mis die manier hoe jy stap en na ʼn rugbyoefening op die sitkamerbank neer val. Ek mis jou! Ek mis jou! Ek mis jou! Word asb. gou gesond. Mamma is lief vir jou,” het sy Sondag geskryf.

Morne sê ʼn bykomende bekommernis vir die egpaar is die mediese onkostes wat die toekoms inhou, aangesien dokters meen Wynandt sal tussen 18 maande en twee jaar neem om volkome te herstel. ʼn Fondsinsameling is reeds van stapel gestuur om die gesin hiermee by te staan. Besoek die Word gou gesond Wynandt Vermaak-blad vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

henry ·

My hart gaan uit aan julle baie sterkte voorentoe , eks in trane en dink aan julle almal xxxx Liefde

Engela de Klerk ·

Ek bid vir hierdie gesin. So ‘n ongelooflike dappere mamma en haar pragtige, kosbare seun. Mag God jul hele gesin bystaan en toelaat dat julle heel. Brand is so ongelooflik traumaties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.