Ma sien hoe moordenaar dogter se liggaam stort

Mortimer Saunders in die Wes-Kaapse hooggeregshof (28 Mei 2018). Foto: Henk Kruger/ANA

WAARSKUWING: Die berig bevat uiters grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Courtney Pieters se ma het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad gesê toe sy die kringtelevisiebeeldmateriaal sien van die moordenaar wat haar kind se liggaam stort, het sy aan die polisie gesê dat sy nie die man herken nie omdat sy “te geskok was” om te sien wie dit is.

Juanita Pieters het Dinsdag getuig in die verhoor van Mortimer Saunders wat Maandag in ʼn beëdigde verklaring voor die hof erken het dat hy die driejarige Courtney op 4 Mei 2017 in haar ouerhuis in Elsiesrivier vermoor het.

Pieters het tydens haar getuienis gesê dat die polisie die beeldmateriaal aan haar gewys het van Saunders wat haar dogtertjie se liggaam in Epping se nywerheidsgebied stort. Sy het gelieg en gesê sy herken die man nie.

Sy het getuig dat die polisie later vir Saunders gebel het en hom gevra het om na die polisiestasie te kom en dat sy en Courtney se pa, Aaron Fourie, toe reeds die beeldmateriaal van Saunders gesien het.

“Ek was baie geskok om die foto’s [uit die beeldmateriaal] te sien en het vir kapt. Taylor gelieg en gesê ek ken nie hierdie man nie. Ek kon nie glo dit is Mortimer nie, want so ver ons geweet het was hy ʼn ordentlike persoon en ek het dit nie verwag nie.”

Pieters het Maandag aan die hof gesê Fourie en Saunders het saam grootgeword en was baie goeie vriende, maar dat sy en Saunders nie goed oor die weg gekom het nie.

Courtney Pieters.

Dinsdag het sy meer vertel oor die dag toe Courtney as vermis aangemeld is en hoe sy en lede van die Elsiesrivier-gemeenskap die hele gebied, insluitend naburige buurte soos Goodwood en Ruyterwacht, gefynkam het op soek na die kleuter. “Ek is nie seker waar Mortimer was toe ons gesoek het nie. Ek weet nie of hy aan die soektog deelgeneem het of nie.”

Pieters het gesê sy was op 13 Mei by die huis toe Courtney se liggaam gevind is en iemand het haar en Fourie kom haal om polisiestasie toe te gaan. “Toe ons daar kom, het ʼn polisieman gesê ʼn liggaam is gevind.”

Die dag nadat die liggaam gevind is, is Pieters en Fourie weer polisiestasie toe, hierdie keer omdat die polisie DNS-monsters wou neem.

“Ons het daar gekom en kapt. Taylor het gesê ons moet vir Mortimer bel en sê hy moet polisiestasie toe kom,” het Pieters gesê. Sy het getuig sy het hom gebel en Saunders het geantwoord en gevra: “Wat sê hulle? Wie is dit?”

Sy het aan hom gesê om nie bekommerd te wees nie en net polisiestasie toe te kom sodat hulle daar verder kan praat. “[Saunders] was ʼn baie stil persoon en hy was baie lief vir Courtney,” het Pieters gesê.

Pieters het verder getuig dat Saunders gereeld met haar sewejarige seun en Courtney kontak gehad het. Op ʼn vraag of Courtney in Saunders se kamer ingegaan het, het Juanita geantwoord: “So ver ek weet het sy baie in sy kamer ingegaan, maar nooit alleen nie. Sy sou daar ingaan saam met vriende, niggies of selfs sy dogter wat altyd met Courtney gespeel het.”

Saunders, wat ʼn kamer in Pieters en Fourie se huis gehuur het, het Maandag erken hy het weens sy irritasie oor konflik tussen hom en Pieters vir Courtney miergif gegee om te drink op ʼn dag wat Courtney in die sorg van haar broer by die huis gelaat is.

Hy het gesê die kleuter het begin hoes en toe sy hoor hoe die bure na haar roep, het sy probeer skree. Volgens Saunders het hy besef hy kon nie toelaat dat Courtney in haar toestand gevind word nie aangesien die miergif haar nie net siek gemaak het nie, maar sou doodmaak. Hy het paniekerig geraak en haar verwurg voordat hy ʼn handdoek om haar gesig gebind het.

“Ek het daarna omtrent ʼn uur lank in my kamer gebly,” het Saunders in sy verklaring gesê. Hy het hierna vir Courtney met sy vingers gepenetreer. Hy ontken egter dat hy haar met sy geslagsdeel gepenetreer het.

Hy het later haar liggaam in die Epping-nywerheidsgebied gaan stort. Saunders het onskuldig gepleit op aanklag van verkragting hoewel hy skuld erken het op aanklag van moord. Hy het egter aangevoer die moord was nie met voorbedagte rade nie. Die staat het egter dié skulderkenning verwerp en gesê die moord is wel met voorbedagte rade gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wat gaan word ·

Daar is baie, baie, baie ernstige sosio-ekonomiese probleme in hierdie land van ons – en ek dink nie enige iemand weet hoe om dit eers te begin oplos nie.
Rus in vrede, klien Courtney.
Party dae sien ek baie min lig.

Tanzie ·

Hoe siek moet een mens wees om ‘n kleuter wat jy reeds vermoor het nog seer te maak! Waar is die doodstraf in hierdie gevalle? Mag jy kry wat jou toekom.

Raponsie ·

Ek voel skoon naar na ek hierdie berig gelees het.Wat besiel n mens om sulke walglike dade aan n kind te doen.My gebede aañ familie en vriende.mag jy saggies rus in die hemel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.