Ma ‘sien wonderwerke gebeur’ ná seun se gru-ongeluk

Christo Reyneke in die hospitaal. Foto: Verskaf

Christo Reyneke, die 19-jarige student wat ernstig beseer is nadat hy op 28 Junie in ʼn erge botsing op die N12 buite Wolmaransstad in Noordwes betrokke was, sal binnekort uit die hospitaal ontslaan en tuis versorg word.

Johanna Reyneke, Christo se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sewe weke ná die gru-ongeluk is Christo steeds in ʼn koma in ʼn hospitaal in Bloemfontein. Hoewel Christo sy oë oopmaak en sy bene kan beweeg, kan hy nog nie praat nie en is hy nog nie bewus van wat om hom aangaan nie.

Volgens Johanna is Christo se telling op die Glasgow-komaskaal, ʼn neurologiese skaal wat gebruik word om die bewustheidstoestand van ʼn mens te bepaal, tans 6 uit 15. “Die dokter het verduidelik hy is dus nog in ʼn koma, alhoewel hy sy oë kan oopmaak. Sy telling was 3 uit 15 op die Glasgow-komaskaal toe hy by die hospitaal aangekom het, so ons kan reeds ʼn mate van herstel en verbetering sien,” het Johanna gesê.

Sy sê dat Christo se telling op die Glasgow-komaskaal te laag is vir hom om na ʼn rehabilitasiehospitaal oorgeplaas te word en dat hulle daarom besluit het om hom tuis te versorg. Hy ontvang ook steeds buisvoeding. Christo sal dus die res van sy herstelpad op sy ouers se plaas buite Wesselsbron aanpak waar ʼn tuisverpleegster voltyds na hom sal omsien.

“Christo kan heeltemal self asemhaal, hy is nie meer op ʼn drup nie en sy kateter is verwyder. Hy is dus gereed om huis toe te kom. Die dokters meen dit kan nog tussen ses en agt maande neem voordat hy uit die koma sal kom weens die erge swelling wat steeds op sy brein is.”

Christo sal oor die volgende paar maande ook fisio- en arbeidsterapie tuis ontvang om sy spiere te versterk en hom mettertyd te help om sekere vaardighede weer aan te leer. Volgens die verpleegster wat Christo sal versorg, is dit moeilik om te voorsien wat die langtermynskade weens sy breinbesering sal wees en sal dit eers bepaal kan word wanneer die swelling op sy brein heeltemal gesak het.

Christo Reyneke voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Christo, ʼn student in natuurbestuur, was vanaf Klerksdorp op pad na sy ouers se plaas toe die bakkie waarmee hy gery het met ʼn vragmotor gebots het. Christo het ʼn groot skedelbreuk opgedoen en moes uit die wrak van die voertuig gesny word. Behalwe vir die erge swelling op sy brein, is sy lewer en slukderm geskeur, sy bobeen gebreek en het hy ʼn groot snywond aan sy skouer en kleiner snywonde aan sy lyf opgedoen.

By Johanna is daar egter nie ʼn druppel moedeloosheid of hartseer te bespeur nie. Inteendeel, sy sê sy is opgewonde om hierdie pad saam met Christo te stap. “Ek kan nie negatief of hartseer wees as daar soveel gebede is wat ons hierdeur dra nie. Ek glo ons sien reeds wonderwerke gebeur. Gister het ʼn vrou langs Christo se bed vir hom kom bid en vanoggend toe ek by hom instap en hom vra om sy oë twee keer te knip, toe doen hy dit. Die wonderwerke is reeds aan die gebeur. Ek glo daar is ʼn toekoms vir ons en ons kind en ek glo ons gaan hom weer op die been kry.”

Johanna sê die familie is oorweldig deur die boodskappe van ondersteuning wat van oraloor instroom en die bystand wat hulle van mense ontvang. Sy vertel onder meer dat Christo op 3 Julie by Emoya Wildlife Estate in Bloemfontein sou begin werk het voordat die ongeluk gebeur het. “Emoya het ʼn groot bedrag geld vir Christo se mediese onkostes geskenk en hulle het vir ons ʼn boodskap gestuur om te sê hulle glo in sy herstel en sy werk wag vir hom die oomblik wanneer hy gereed is om by hulle aan te sluit. Daar is nie woorde om hierdie tipe ondersteuning te beskryf nie.”

Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat boodskappe aan die gesin gestuur het, tot Christo se hulpfonds bygedra het of vir Christo en sy familie gebid het. “Ek wens ek kon vir elke mens persoonlik dankie sê, want dít is wat ons hierdeur dra.”

Besoek die Hulpfonds vir Christo-blad op Facebook vir meer inligting oor die hulpfonds en Christo se vordering.

Lees alle vorige berigte oor Christo Reyneke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johnnie ·

Johanna ons is dankbaar saam met julle en bid dat dit Here Christo volkome gaan genees.

Piet Pompies ·

Hierdie is ‘n lang pad van herstel en toewyding van sy geliefdes af. Ons het ‘n familie lid wat iets soorgelyk oorgekom het en as ek kan moed inpraat, dit is alles die moeite werd, elke dag se moeite liefde en geduld.

Kobus Hattingh ·

Daar is darem niks en niemand wat ooit sal kan vashou by die liefde van ‘n Moeder nie! :)

LS ·

Die liefde van n moeder ken GEEN perke nie.
Stekte vir die familie !!! Hou aan bid, deur gebed is ENIGE IETS moontlik !

Onse Vader in die hemel, hou asseblief hierdie mense se hande styf vas in hierdie moeilike tyd. Gee asseblief vir hulle die nodige krag om deur hierdie moeilike tyd te kom as dit U wil is. Amen.

Toy ·

Here wees asb Christo genadig, help hom volkome herstel. Gee hom elke dag die krag daarvoor en krag vir sy familie om hom by te staan en te versorg in hierdie tyd. Amen

Deon Bruwer ·

Julle is tot enige iets in staat deur Jesus wat julle krag gee. Mag God julle almal op Sy skoot vashou en mag julle Sy hartklop hoor, beleef en ervaar. Wow, hier kom n ongelooflike getuienis deur Christo en Hy gaan dit self gee. Prys die Here. Ek spreek lewe oor hom en dankie Jesus vir n wonderwerk wat reeds besig is om te gebeur. Dankie vir volkome genesing en alle lof en eer kom U toe.
Amen

Dankie Deon ·

Deon, ek stem 100% saam met jou; beter kon niemand dit sê nie. Jesus leef! Komaan, Christo, ons bid vir jou volkome herstel toe in die Wonderskone Naam van Jesus, ons Groot geneesheer.

Penelope ·

Wees altyd bly in die Here! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Fil 4.
Baie sterkte aan Christo en sy gesin! xx

Bettie ·

By ons Groot Geneser is alles moontlik, Christo sal weer volkome herstel. Ons weet dit want, Vader is elke sek. met hom. Prys Vader elke dag vir geneesing .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.