Ma slaan Checkers-kontrak los met handreiniger-plan

Jolene de Sousa saam met haar SQ-Easy-produk in Checkers. (Foto: Verskaf)

ʼn Vrystaatse ma was moeg daarvoor om handreinigers saam met haar kinders skool toe te stuur, net om die vol bottel later weer uit hul tasse te haal. Daarom het sy met ʼn innoverende oplossing hiervoor vorendag gekom en sodoende ʼn verspreidingskontrak met Checkers losgeslaan.

Jolene de Sousa (38), ʼn tuisblyma van Welkom, het die afgelope jaar besef dat die handreiniger wat sy vir haar twee kinders (11 en 12 jaar oud) saamstuur skool toe, ongebruik in hul skooltasse lê.

“Toe die regulasies verlede jaar eindelik verslap is en ons weer uit die huis kon gaan, was dit aanvanklik ʼn angswekkende belewenis. Om my kinders by die skool te beskerm, het ek vir hulle elk ʼn bottel handreiniger in hul tasse gepak, maar die vol bottels het net so teruggekom van die skool af.”

Sy sê dit was vir haar vroeg reeds duidelik dat die Covid-19-regulasies rakende sanitering deel gaan bly van ons alledaagse lewe, daarom het sy besluit om na ʼn alternatiewe oplossing aanlyn te soek. Sy kon egter niks kry wat aan haar kinders se behoeftes voldoen nie.

“Ek het toe die idee gekry om ʼn klein polsbandjie te ontwikkel wat vloeistowwe soos handreiniger en sonskerm sal behou en wat jy dan kan uitdruk soos jy dit benodig.” Sy het die produk in November verlede jaar ontwerp en SQ-Easy gedoop.

Sukses het op SQ-Easy se bekendstelling gevolg en sy het selfs onlangs ʼn verspreidingskontrak met Checkers losgeslaan.

“Ek was nog altyd ʼn innoverende mens wat verskeie goed oor die jare beproef het, maar ek het eindelik die geleentheid gekry om hierdie idee uit te brei toe Checkers ingestem het om voorraad daarvan aan te hou,” sê sy.

“Checkers het regtig hierdie droom in ʼn werklikheid omskep. Ek het nooit gedink dat dit so moeiteloos gaan wees om met ʼn groot nasionale sakeonderneming soos hulle saam te werk nie.”

Dean Elgar dra ook ‘n SQ-Easy polsbandjie. (Foto: SQ-Easy Wristbands/Facebook)

De Sousa sê sy is nog lank nie ʼn sake-eienaar nie, maar het te danke aan die span by Checkers soveel hulp en ondersteuning vir die onderneming gekry.

“Ek het soveel raad ontvang van die personeel en iemand het altyd by my ingeskakel om hul ervaring en wysheid te deel,” sê sy.

“Hulle verstaan dat ek nie noodwendig die korporatiewe ervaring het nie, aangesien ek net ʼn ma is wat ʼn oplossing vir ʼn probleem gevind het.”

Die SQ-Easy is nou in 23 Checkers-supermarkte in die Noord-Kaap en Vrystaat beskikbaar. De Sousa hoop om dit binnekort na winkels landwyd uit te brei, aangesien dit vir die res van Suid-Afrika slegs aanlyn beskikbaar is.

Sy hoop ook dat Suid-Afrikaners dié polsbandjie vir sonskerm tydens warm dae in die buitelug sal gebruik.

“Sonskerm is broodnodig vir die warm Suid-Afrikaanse klimaat en die bandjie maak dit net maklik om dit oral saam met jou te dra,” sê sy.

Die Proteas se huidige toetskaptein, Dean Elgar, het verlede jaar reeds een van hierdie bandjies aangeskaf wat hy vir sonskerm tydens krieketoefeninge inspan.

Hoewel De Sousa groot planne het vir die toekoms, is sy steeds verstom dat haar idee reeds sulke groot hoogtes bereik het.

“Dit voel asof ek die boerpot van die lewe gewen het. Ek is so trots op alles wat SQ-Easy tot dusver vermag het,” sê sy.

“Dít is net ʼn bewys dat dit nie saak maak hoe klein jy begin nie, jy moet net nooit moed opgee nie en aanhou baklei vir dit wat jy wil hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Treurwilger ·

Slegs as die armband hervulbaar is, maak dit effens sin vir hiper-saniterende wesens.
So nie, is dit bloot ‘n verdere bydrae tot die al groter groeiende berg plastiek-besoedeling.

Treurwilger ·

Nee, waarom sou jy so dink, net omdat jy nie saamstem nie?
Covidverwante ‘foefies’ en boonop van plastiek is ‘n besliste negatief, na my mening, waarop ek geregtig is.
Covid-paranoïa lewer reeds miljoene tonne besoedeling wêreldwyd op.
As die armbande oor 5 jaar nie saam met maskers, handskoene etc. verspreid oor die aarde lê nie vra ek plegtig verskoning.

Dapper Patriot ·

Ek hou baie van die entrepreneursgees!
SA het entrepreneurs nodig.
Daar is mos ook handreiniger by skole en…COVID doen nie eintlik iets aan kinders nie…
Verder wens ek jou alle sterkte toe, met jou besigheid!

Vonkprop ·

Baie goeie idee maar ek kan nie help om te wonder hoe prakties dit is nie. Hoe lank hou dit voordat jy dit weer moet vul, sal dit jou deur die dag help as jy gereëld saniteer? En tweedens lyk dit vir my jy kan dit heeltyd per ongeluk teen iets druk wat dan die inhoud sal laat uitkom. En ons weet hoe kinders is, hulle sal die heeltyd poetse bak en mekaar se armbande druk vir die grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.