Ma smeek om hulp vir 5-jarige wat tweede kankerstryd aansê

Die vyfjarige Melti (Foto: Facebook)

Hy was maar twee jaar oud toe klein Melti van Pretoria die eerste keer met kanker gediagnoseer is. Nou – op vyfjarige ouderdom – moes dié klein “chemo-soldaatjie” vir die tweede keer in ʼn halfdekade wéér die kankerstryd aansê.

Melanie Grobler vertel aan Maroela Media haar gesin is tot op hul knieë gedwing nadat Melti in Januarie vanjaar wéér met leukemie gediagnoseer is.

Melti het ná ʼn kort kankerstryd en ʼn reeks chemoterapie-behandelings in 2013 in remissie gegaan. Nadat hy egter vanjaar weer vir opvolgskanderings was, het die dokters die gesin se donkerste drome waar gemaak: Hy moet dié stryd wéér aansê, én weer probeer wen.

Grobler vertel die jong vegtertjie se kankertoetse was onlangs weer skoon, en dokters het bevestig dat hy vir ʼn tweede keer in remissie gaan.

Sy sê dit is egter nou lewensnoodsaaklik vir hom om ʼn stamseloorplanting te kry, en ʼn gepaste skenker vir dié oorplanting is reeds opgespoor.

Die vyfjarige Melti saam met sy pa, ma en sussie (Foto: Facebook)

Die gesin sit egter nou met hul hande in die hare nadat die mediese fonds glo telkemale die betaling vir dié oorplanting afgekeur het.

“Ons mediese fonds het sy chemoterapie en hospitaalbehandeling betaal nadat hy die tweede keer met leukemie gediagnoseer is, maar hulle het die betaling vir die oorplanting afgekeur omdat hulle sê die skenker moet in ons nabye gesin wees, en omdat hy reeds een keer ʼn terugslag gehad het. Ons het al gesmeek en ons oë uitgehuil, en selfs gevra of hulle net die helfte sal dek, maar die aansoek word konstant afgekeur.”

Grobler sê dié oorplanting is lewensnoodsaaklik, en die gesin het daarom op hul eie ʼn skarefinansieringsveldtog van stapel gestuur om sodoende geld te probeer insamel.

Dié oorplanting kos sowat R850 000. Die gesin benodig ook ʼn verdere R150 000 vir die verkryging van die stamselle.

“My seun is só depressief. Dis aaklig vir ʼn ma om te sien. Hy kan nie skool toe gaan, of saam met ons êrens heen gaan soos na die parkie nie. Enige siektes of kieme kan sy dood beteken. Daarom verstaan ek nie hoekom ons aansoek afgekeur word nie – hy is ʼn jong seuntjie wat net ʼn normale lewe wil hê. Selfs die geringste skenking, al is dit ook net R1, maak ʼn verskil in ons lewe.”

ʼn Trustfonds is in die gesin se naam gestig. Vir meer besonderhede oor Melti of om ʼn bydrae te maak besoek Melti the Chemo Warrior op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Middelburger ·

Dit is verskriklik! Sterkte vir julle gesin en veral vir die dapper mannetjie

broos ·

dis wat ek nie verstaan nie – mediese fondse en staats hospitale help vrouens om kinders te kan kry (al kan hulle nie vir die kinders sorg nie) maar hulle kan nie ‘n kind help nie??? as die dokters gesê het ‘n skenker is aanvaar, wie de duiwel is ‘n maatskappy (tien teen een ‘n oningeligte en uneducated konsultant) om te sê dis ‘n verkeerde skenker???

Sonja ·

Is daar dalk bank besonderhede vir mense wat glad nie op Facebook is. Sterkte aan die gesin en die dapper bulletjie. Die hemelse Vader sal voorsien.

Andre ·

Ek dink die ouers moet bekendmaak wat die naam van die mediese fonds is, sodat ons hulle van die Spur se medisyne kan gee. Dit is nonsens dat die mediese fonds nie wil betaal nie – maggies hier is ‘n onskuldige kind se lewe op die spel en al waaroor die fonds bekommerd is, is oor hulle geld.

Helene Heyns ·

André ek het nou aan presies dieselfde ding gedink. Ons het nou gesien wat met Spur gebeur. Gee hierdie mediese fonds van dieselfde medisyne.

Hendrina ·

Dit is n skande en ‘n onreg wat die mediese fonds doen. Watter fonds is dit?

Monique ·

Ek kan dit nie verstaan van die mediese fondse nie!!!! Dis lewensnoodsaaklik maar hulle keur dit steeds af. Mens betaal so flippen baie geld vir mediese fondse en dan vind jy sulke goed uit wanneer hy dit eers nodig het.

mediesskok ·

ek kan dit net nie verstaan nie..ons betaal deur ons ore en dan moet jy 90% van die tyd met jou hande in hare sit…
hoekom is daar nog nie een mediese fonds wat nie jou probeer uitmaai met geld en meer betaal nie…ek is net so moeg vir ons skemas hulle vat net en wil nooit gee nie..
dis n kind my maggies gun die kund n lewe…staat kan geld gee hot en haar maar nou sal hulle mos iets te se het…hoe naby famielie dan dek hulle dit…wie se hulle kan …nee sekerlik sal GODO MORNING ANGELS kan help…

Jeannette ·

OK, ek verstaan nie – die mediese fonds het die eerste keer vir die chemo betaal, maar wil nie nou nie omdat die seun in die ouers se “onmiddellike” gesin moet wees – nou wat is meer “onmiddellik” as ‘n kind aan sy ouer? As dit nou ‘n stief- of aangenome kind was, kon ek DALK – baie, dalk – net verstaan het. As die seun op die mediese fonds as afhanklike geregistreer is, MOET die mediese fonds mos volgens die mediese versekeringsvoordele uitbetaal???

Se net.... ·

Die skenker moet in die onmiddelike gesin wees…Lees weer mooi..
Sterkte bulletjie
Ek skenk sodat jy gehelp kan word, hoop ander sal ook

Jo ·

Dis so hartseer, ek hoop en bid regtig dat hulle die fondse sal kan kry om hom te help. N paar dae terug is n kind dood agv mediese fonds wat operasie afgekeur het en toe is geld ingesamel en n paar uur voor haar operasie is sy oorlede. Kan nie help om te wonder of dit dieselfde mediese fonds is wat blykbaar geen duit omgee vir sy lede nie.

Pasient ·

Die mediese fondse wil nie vir so iets betaal nie, maar, betaal 100% vir Aids wat self-induced is. Ongelooflik!!!

Jaques ·

Hi Melanie / Melti,
Woorde is min en leeg, maar alles van die beste vir julle as gesin se pad vorentoe, ons glo en bid dat Melti weer in remissie sal gaan en hy sommer nog ‘n lang lewe sal geniet.
Hoekom begin julle nie ook ‘n skenkings sms lyn soos wat met Pippie gedoen is nie, nie almal kan oorbetalings maak nie, sodoende kan julle hopenlik meer sknkings ontvang.
Baie sterkte!

Melanie Grobler ·

Hi Jaques
Baie dankie. Ons glo en bid. Ek weet nie hoe om so sms lyn te begin nie. Enige raad of advies? Help sal waardeer word. Ek sal self ook probeer uitvind.
Baie dankie
Chemo warrior team

Jaques ·

Hi Melanie,
Ongelukkig is ek self nie 100% seker nie, dalk kan jy met Pippie se ma via FB in kontak kom en by haar uitvind hoe hulle te werk gegaan het om die sms lyn aan die gang te kry.
Haar mamma se naam is Anice Kruger as ek nou reg onthou. (kan nie nou googgle nie)

Wessel ·

Gebruik hemp oil, dit is die beste geneesmiddel vir kanker en baie ander siektes! Doen navorsing. Dit werk! Dit is wel beskikbaar in sekere state in Amerika. Sal baie baie goedkoper as stelsel oorplantings wees. Sterkte.

Annie ·

En die Mediese Fonds is ??????? Seker nou te skaam om na vore te kom – kan net dink wie dit is – dis ‘n klein seuntjie gee hom ook ‘n kans om ‘n seuns lewe te he.

Estelle Janse Van Rensburg ·

Kan ons dalk die bank details kry van die trust?

Melanie Grobler ·

Baie dankie vir bereidwilligheid om te help.
Pelser trust attorneys
FNB Cheque account
Eldoraigne Branch
Branch code 250655
Account 62490568816
Ref Melt/CP0224
Swift FIRNZAJJXXX
Baie dankie

'n ma ·

Laat my so terugdink was in presies dieselfde posisie met my seuntjie..mens Onthou als en leer om net mooi te onthou…..mediesefondse en hul stories bly DIESELFDE want GELD beteken meer vir hul as lewe, meeste van die tyd. Jul word opgedra in gebed vir hulp van enigste Redder en Hemel Vader, bly glo en vertrou sterkte.

Ronel Vd Westhuizen ·

Die berig sny af by “vir meer inligting besoek”. Waar kan mens help?

Angelique ·

En wat as daar nie n geskikte persoon is in die onmiddelike familie/gesin nie?? Moet die lid dan net sterf? Die reel maak glad nie sin nie en laat my dink om weer deur my mediesefonds se fyn skryf te gaan..
Aan die gesin en klein bulletjie, baie sterkte.
Jesus sal Sy hand oor jou hou en n uitweg en volle GENESING! Amen

Vicki Labuschagne ·

Punt is, daar IS n skenker. Wat maak dit nou saak of dit familie is of nie? Ek verstaan nie die mediesefonds se logika nie!

Johan ·

Lewer graag ‘n bydrae. Maar ek hoop die ouers kla intussen die mediese fonds aan by Mediese Ombudsman. Volgens PMB (Prescribed Minimum Benefits) sou ek dink mediese fond moet betaal. Ek hoop ook die ouers maak dit bekend wie die fonds is, sodat ander mense nie dalk in toekoms in dieselfde situasie kan “vasval” nie. Eerder nou van fonds verander (indien nodig) as om later in dieselfde uiters sleg omstandighede te wees. Baie sterkte aan die ouers.

Johan ·

Skuus, wou ook byvoeg. Hoe kan ‘n mediese fonds vereis dat die skenker ‘n naby familielid moet wees. Dit is ONBILLIK en getuig van UITERSTE ONKUNDE aan die kant van die mediese fonds. Skenkers in hierdie situasie hang af van verskeie faktore en dit kan maklik wees dat geen familielid ‘n skenker kan wees nie.

Elize (Kankerlyer) ·

My hart is so seer om hierdie storie te lees.
Ek het hierdie uitroep om hulp ook gedeel op groepe.
Kan Hospieswerker van Solidariteit nie ook genader word nie?
Hulle hanteer sulke gevalle – of gevalle van kanker en ongeneeslike kwale.

Soesie ·

Die arme mense is seker bang dat die mediese fonds hulle nog meer gaan viktimiseer as hulle die fonds se naam noem. En daar is ook ‘n drie-maande wagperiode as ‘n mens van fonds verander, waartydens hulle slegs vir noodgevalle of ongelukke betaal. ‘n Nuwe fonds kan ook besluit om reeds bestaande toestande uit te sluit by die dekking. Maar dan lees ‘n mens watter winste hierdie mediese fondse maak. Hoe kan hierdie besluitnemers snags slaap? Hulle het mag oor lewe en dood. Ek skrop eerder toilette vir ‘n lewe voor ek hulle werk sal vat. Ek weet eerlikwaar nie hoe hulle met hulself kan saamleef nie.

Ook n Grobler ·

Sterkte Melanie,

Ook hier deur, nie maklik nie. Betaal vir jou n klein bedraggie in, hoop dit help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.