Ma soek antwoorde ná seun se raaiseldood

André Nortjé. Foto: Facebook

ʼn Gebroke ma van Kriel in Mpumalanga is op soek na antwoorde nadat haar vermiste 21-jarige seun Maandag dood gevind is.

André Nortjé jr. is Woensdag vir die laaste keer by sy ouerhuis lewend gesien. Sy liggaam is Maandag deur ʼn verbyganger langs ʼn grondpad tussen Kriel en Bethal gevind.

Nortjé se ma, Nicolene Makkink, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy wil net antwoorde hê oor wat met haar seun gebeur het. “Ek koester geen wraakgedagtes nie. Ek bid net dat die waarheid sal uitkom. Ek wil net weet wie dit gedoen het en hoekom,” het sy gesê.

Sy vertel Nortjé was verlede week saam met sy ouma by die huis. Nicolene was die betrokke dag Middelburg toe om iets te gaan afhaal. “My ma het my gebel en gesê André het verdwyn. Sy sê sy het vroeër met hom in die kombuis gesels en toe is hy kamer toe. Sy het later voetstappe in die gang gehoor en aangeneem André is op pad woonkamer toe om televisie te kyk. Toe sy hom later soek, was hy net weg,” sê Nicolene.

Sy sê met haar terugkeer het sy gesien dat Nortjé se selfoon, sy sigarette en aansteker en al sy besittings nog net so in sy kamer lê. Sy het ook agtergekom dat al sy skoene nog in sy kamer was. Net sy tabletrekenaar was vermis. “Ek het nie geweet wat om te dink nie. Dinge het net nie sin gemaak nie. Hy sal nooit uit die huis uitgaan en sy selfoon en sigarette daar laat nie. Ons het hom oral gesoek, almal gevra wat hom ken of hulle iets weet. Hy was net weg.”

Nicolene het later haar seun as vermis by die polisie en by Pink Ladies aangemeld. Maandag het sy ʼn oproep van die polisie gekry om te sê dat ʼn liggaam tussen Kriel en Bethal gevind is. Sy is gevra om die liggaam te gaan uitken.

“Toe ek nader stap, het ek net sy bene gesien. Daar was ʼn kombers oor sy kop gegooi. Ek het onmiddellik geweet dis hy,” sê ʼn emosionele Nicolene. Sy sê haar seun was net in sy kort slaapbroek geklee en het nog sy horlosie en ring aangehad. Die tabletrekenaar is nog nie opgespoor nie.

“Al wat ek kan dink is dat hy uit die huis ontvoer is. Ek weet nie wat anders om te dink nie. Dit lyk nie asof hulle iets by hom wou hê nie, hulle wou hom net dood hê,” het sy gesê. “Daar was ook nie enige leidrade op sy foon oor wat gebeur het nie. Ek het geen antwoorde nie.”

Volgens Nicolene wag sy nog vir die uitslae van die nadoodse ondersoek om te bepaal wat die oorsaak van haar seun se dood was. Begrafnisreëlings sal getref word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is.

“André was ʼn terggees. Hy kon ons altyd so terg tot ons kwaad raak en dan wou hy hom doodlag. Hy was ʼn stil, maar vrolike kind. En hy het net ʼn manier gehad om in almal se harte in te kruip.”

Kapt. Dick Masango van die Kriel SAPD het aan Maroela Media gesê die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek. “Die polisie wag op die uitslae van die nadoodse ondersoek. Indien dit toon dat die oorledene aan onnatuurlike oorsake gesterf het, sal die dossier na moord verander word,” het hy gesê.

Nortjé word oorleef deur sy ouers, Nicolene en André, sy ouma en drie jonger susters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

AG GE NEEEEEEEE ·

My innige meegevoel..!!!!Mag die skuldiges gou aan gekeer word….Sterkte en mag JESUS jul pyn verlig en jul gou antwoorde kry…

Hartverskeurend ·

Dit is hartverskeurend en ek bid regtig dat jul ten minste uitvind hoe hy dood is en as jul meer kry sal dit goed wees.

Ada ·

Ek het nie woord nie……………………
Moordenaarsland……………………………

adinda ·

Ek is n familielid van die oorledene dis vir ons almal n skok…en ek is self n ma van 2 jong manne…ek kan net indink waardeur Nicolene moet gaan…ons mensdom is n siek spesie…mag Andre in vrede rus want hy is beroof van sy lewe…

Charmaine Coetzee ·

Baie sterkte aan julle familie!!!!! Al wat ek kan se GOD IS REGVERDIG

Nettie ·

Morné, sy bedoel seker die lykskouiing sal aandui of dit ‘n natuurlike of onnatuurlike dood was.

Stukkende Hart ·

Dit is die seerste seer ooit…..my seun het een nag uit gestap sonder skoene net met n kort broek aan. Als in sy kamer gelos en n einde aan als gaan maak. Ek vou my arms styf om jou mamma en hoop jou vrae word beantwoord.

Ronelle ·

Rus in vrede want jy nie verdien om so wreed te sterf nie,ons bid ook dat jou moeder en familie die antwoorde sal ontvang waarna hle smag,want gun ouer verdien om sonder sy kind die lewe in te gn nie

Jacques ·

Moet ook darem nou nie elke liewe moord in een rigting stuur nie, daar is baie mense daar buite wat met baie verkeerde dinge betroke is. Een slegte einskap van Afrikaners wat my elke dag woedend maak is die idee dat ons alles reg doen en nooit verkeerd kan doen nie.

Martin ·

Maar hier was mos dinge betrokke wat nie hier genoem word nie.
Steek maar eers hand in eie boesem.

LS ·

Maroela media hou ons asseblief op hoogte, shame, my innige simpatie met die familie.
My seun is nou 20 en ek sal van my kop afraak as so iets moet gebeur.
Rus in vrede seun, jy is nou veilig waar jy nou is !!!

Se net.... ·

Jacques en Martin goed en wel maar toon bietjie respek vir die mamma. Dit is nie nou die tyd om vuil wasgoed te was nie. As julle inligting het laat weet die polisie as om raai raai te speel. Moord is nog nie bewys nie, die mamma soek net antwoorde. Eers as dit met jou gebeur sal jy verstaan, en ek hoop jy hoef dit nooit te ondervind nie. Sterk staan mamma

Liza ·

Kan nie glo mens kry ongevoelige mense nie, sies man……… ek het ook ‘n kind aan die dood afgestaan niemand sal verstaan die seer wat ons as ouers deur maak nie…dis hel elke dag van ons lewe……. Nicolene ek dra julle familie op aan die Here, sterk wees en glo en vertrou die waarheid sal uitkom……. jy het ‘n pragtige seun gehad, ek dink die jongmense daarby onse Pappa Vader is veiliger as ons hier op die wreede aarde……
RUS IN VREDE ANDRE………

Martin ·

Liza, ons is te geneig om die fout op die verkeerde plek te gaan soek.
Ons as ouers, moet ongelukkig maar die pak vir ons kinders se foute vat.
Ons is verantwoordelik vir hulle.
Hoe stukkend is ons land en ons mense?
Is dit ons kinders se skuld? Gaan hulle weer hulle kinders verwyt?
Daar is dalk meer betrokke by die saak as wat jy lees op Maroela.

REGTIG ·

Dan stel ek voor gee jou inligting oor aan die SAPS sodat jy hul kan help. Aangesien jyn so baie weet.

Grimbleberry ·

Sterkte aan julle almal in Andre se familie, die gemeenskap en
Andre se friende is self ook geskok en ek weet baie van ons soek self na antwoorde.
Dit sal wel baie interesand wees as die SAP die saak kan oplos en met een of
ander vorm van waarheid na voore kan kom
RIV Andre

Hannelie ·

My hart gaan uit na hierdie familie wat hul seun op so ‘n jong ouderdom verloor het. Weet jul het soveel vrae….maar nie antwoorde. Mag God jul styf vashou en jul die nodige berusting gee. Sterkte

Frikke ·

Mense, hou op om te afleidings te maak Daar is ‘n ma wat nog nie weet wat gebeur het nie en probeer berusting en antwoorde te vind. Ja kritiseer my maar. Aan die familie van Andre jul bly in baie van ons se gebede…. Sterkte

Laika ·

Stem saam Frikkie. Die mense is so gou om n eier te le sonder om mense wat so hartseer en gebroke is in ag te neem.Hulle was duidelik nog nie in so n posisie gewees nie en weet nie wat se skade hulle berokken nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.