Ma soek ‘beskermengel’ wat seun bemoedig voor hy sterf

Christo Laurie (Foto: Laura’s World via Instagram)

Martina Laurie is op soek is na die man wat haar 29-jarige seun, Christo, bemoedig het nadat hy in ’n ongeluk was en kort daarna oorlede is.

“Ek het ’n diep behoefte om vir hom dankie te sê. Hy was ’n engel wat oor Christo se pad gestuur is om sy laaste paar minute op aarde meer draaglik te maak.”

’n Vragmotor het op 20 Augustus voor Christo se bromponie op die hoek van Melvilleweg en Eerstelaan in Illovo, Johannesburg, ingery. Hy is later in die ambulans aan ’n hartaanval dood.

Christo was die oggend net na 10:00 op pad om groente te gaan koop. Hy was ’n sjef by die 33 on Melville-hotel in Sandton.

“Op pad na die groentewinkel, het ’n mediumgrootte vragmotor in Melvilleweg voor Christo ingedraai. Hy het gesukkel om met sy bromponie uit te swaai of te rem en hy is teen die vragmotor vas,” vertel Martina. “Volgens ooggetuies het hy onder die vragmotor ingeval en die een wiel van die vragmotor het toe bo-oor hom gery.”

Die onbekende man, na wie hulle op soek is, was glo in die omtrek toe die ongeluk gebeur het. Daar was in totaal drie ooggetuies, insluitend die man, wat die ongeluk sien gebeur het.

Die man wat by Christo sit en wag tot die ambulans kom (Foto: Martina Laurie Facebook)

“Ons weet die man is Afrikaans, want volgens een van die ander ooggetuies het hy Afrikaans met Christo gepraat. Hy het ’n leerbaadjie aangehad en gelyk asof hy aan ʼn motorfietsklub behoort.”

Martina vertel die man het na die ongeluk langs Christo, wat in die pad gelê het, gaan hurk. Hy het met Christo gepraat, hom bemoedig en by hom gebly totdat die ambulans en paramedici daar aangekom het.

“Dit sit nie in enigiemand se broek om só ’n vreemdeling by te staan en te help nie.” Martina sê hulle wil hoofsaaklik die man opspoor om hom te bedank dat hy Christo gehelp het. Hulle wil ook versoek dat die man ʼn getuie sal wees in die saak wat hulle teen die vragmotorbestuurder aanhangig gemaak het.

“Omdat die vragmotorbestuurder se verklaring nie met die beeldmateriaal van ’n veiligheidskamera daar naby ooreenstem nie, kort ons soveel moontlik getuies wat tot ons saak kan bydra. Hierdie man het presies gesien wat gebeur het, en ons sal graag wil hê dat hy ’n beëdigde verklaring aflê.”

Martina vertel terwyl Christo in die pad gelê het, het ’n dokter op die ongelukstoneel aangekom. Sy was besig om te draf en het by Christo gestop om sy beserings te assesseer. “Volgens die dokter het hy geen kopbeserings gehad nie, maar hy het baie ernstige borstrauma opgedoen.”

Christo het eers sy bewussyn in die ambulans, onderweg na die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown, verloor.

Christo se groot liefde was kosmaak (Foto: Verskaf)

“Toe die ambulans by die hospitaal stop, het sy hart gaan staan. Sy hart het daarna nog drie keer gaan staan. Met die vierde slag, was hy weg.”

Martina wil ook graag met die man praat om te hoor wat Christo se laaste woorde was en om só gemoedsrus oor haar seun se dood te vind.

“Dit is net swaar om te dink hy op só manier heengegaan het, maar ek glo hy het vrede gehad. Hy het twee dae voor sy dood klomp mense gebel en hy het ons die aand voor sy dood gebel en baie lank gesels. Ek dink hy het gebel om totsiens te sê.”

Sy sê haar seun was baie saggeaard en het uit sy pad gegaan om mense te help. “Hy het ontsaglik baie vir mense omgegee en wou net almal se pyn beter maak. Hy was ook baie spiritueel.”

Hy was ’n man van vele talente, maar sy groot liefde was kosmaak. Christo word oorleef deur sy vrou en sy twee en ’n half jaar oue seuntjie. Daar is verlede week Vrydag ’n roudiens vir hom gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

My Mening ·

Hierdie is so bitter hartseer. Ek hoop van harte die man kom na vore. Ek hoop ook geregtigheid geskied.
My innige simpatie aan sy geliefdes.

lollapot ·

Wat ‘n pragtige seun Martina. . . my hart gaan uit na jou, ek het al hierdie pad gestap. My gebed is dat God julle sal troos en dra, en ook lig in jou hart sal bring, sodat jy NET die mooi onthou . . . al is dit HOE seer. Mag jou mooi kind in vrede rus. . .

popsa ·

Eenmaal het ons ‘n soortgelyke situasie by ‘n ongeluk beleef. Wees verseker, Moeder, die persoon wat by Christo gesit het, sal jou seun vir altyd onthou. As jy die onbeskryflike voorreg gehad het om so ‘n kosbare jongman in die laaste treë op sy aardse pad te ondersteun, bly dit vir altyd diep in jou hart. Julle is in ons gedagtes en gebede, want ons seun is ook so oud. Mag julle alle sterkte en genade ontvang!

Anel ·

Nou hoe kan die beskuldigde sê die beelmateriaal is verkeerd? Hoop van harte die engel kom na vore.

SwartBees ·

Komaan jou lafaard, staan pa vir wat jy die familie ontneem het. Jou pes gemors.

Riette ·

Ek is so baie jammer vir julle groot verlies. Hy klink voorwaar na ‘n ongelooflike mens. Sterkte vir julle.

Yvonne ·

Tragiese gebeure….onverantwoordelikheid is n ander se smart

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.