Ma sterf, kleuter kritiek ná ongeluk

Nooddienste op die toneel (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou is dood en haar tweejarige kind ernstig beseer toe ʼn voertuig hulle Woensdagmiddag op die N2-snelweg naby Umdloti in KwaZulu-Natal raakgery het. Die vrou se man is ongedeerd.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê Rusa-lede is omstreeks 13:30 na die toneel ontbied nadat hulle verskeie oproepe ontvang het van verbygaande motoriste wat die ongeluk aangemeld het.

“Die vrou se man het gesê dat die gesin noodgedwonge in die derde baan op die snelweg moes stilhou nadat hul motor, ʼn Jeep Grand Cherokee, ʼn pap band gekry het,” sê Balram.

Die Jeep (Foto: Verskaf)

“Die gesin het uit die voertuig geklim. Die man was besig om die band te ruil, toe ’n Land Rover in hul voertuig se agterkant vasgery en die vrou en kleuter raakgery het.”

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue-nooddienste, sê die ma het die kleuter in haar arms gehou net toe die voertuig hulle getref het.

Die Land Rover (Foto: Verskaf)

“Die kleuter is uit die ma se arms gestamp en het ongeveer 20 meter verder op die grond te lande gekom,” het Herbst gesê.

Die ma het ongeveer 40 meter van die punt van impak gelê. Sy is op die toneel dood verklaar.

Paramedici het die kleuter probeer stabiliseer en daarna na Lenmed Etekweni-hospitaal in Durban gehaas vir verdere mediese behandeling. Die kind is in ʼn bedenklike toestand.

Die pa en die insittendes van die Land Rover is nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Melanie

Daai gesin het daai mamma nog so nodig. Mag Jesus saam jul wees en daai klein seuntjie ekstra styf vashou. Ek bid vir julle.

Sandra

So tragies.

Jdb

In die derde baan gestop om die wiel te ruil?? Ai tog.