Ma sterf maande ná sy onder bakkie beland

Charlene Drotsky (Foto: Facebook)

Charlene Drotsky (34) is Vrydagaand onverwags in die hospitaal oorlede nadat sy in April ernstig beseer is tydens ’n tref‑en‑trap in Malmesbury in die Wes-Kaap.

Die ma van Noordwes se dood kom as ’n groot skok vir haar geliefdes aangesien sy die afgelope paar maande op die herstelpad was. Sy sou boonop binne die volgende paar weke eindelik na ’n private hospitaal in haar tuisdorp Klerksdorp oorgeplaas kon word.

“Ek kan dit nie verstaan nie. Dit is so skielik,” vertel Drotsky se sussie, Marcelle.

Op die foto’s wat Marcelle begin vandeesmaand van haar sussie in die hospitaal in die Wes-Kaap ontvang het, “lyk Charlene fantasies”, vertel Marcelle aan Maroela Media.

Haar sussie se toestand het die afgelope paar weke versleg. Dit word vermoed dat Charlene se organe ingegee het.

“Ek was gisteraand met haar twee seuns op pad Kaap toe nadat ons eindelik genoeg fondse vir die private hospitaal ingesamel het. Maar toe laat weet haar verloofde op pad soontoe sy is weg.

Charlene Drotsky in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ons het net so teruggedraai huis toe. Ek kon nie in daardie toestand bestuur nie. Ons harte is gebreek. Dit voel of ek haar misluk het. Ek het só hard baklei dat sy oorgeplaas kon word. “

Maroela Media het vroeër berig Charlene het by haar lewensmaat van die afgelope 20 jaar, Corné Viljoen, in Malmesbury gekuier toe sy in die vroeë oggendure van 2 April deur ’n man omgery is wat haar ná ’n kuier saam met vriende by Viljoen se huis gaan aflaai het.

Die man is daardie oggend met sy motor bo-oor Charlene se middellyf voordat hy op die vlug geslaan en haar vir dood agtergelaat het.

Charlene is ná die voorval met ’n gebreekte pelvis, beserings aan haar maag en bene en bloeding op die longe in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad opgeneem waar sy sedertdien minstens nege operasies ondergaan het.

“Charlene sal altyd onthou word as die mamma met die groot hart,” vertel Marcelle. “Sy het alles vir haar kinders en famille gedoen. Sy was my beste vriendin. Sy was ons mamma toe ons ons ma verloor het. Sy was my steunpilaar.”

Volgens Marcelle se wete is die man wat haar sussie omgery het nog nie in hegtenis geneem nie. Hy het hom glo al by die polisie aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.