Ma sterf ná aanval voor kleuterskool

(Foto: Verskaf)

Die vrou wat vroeër vandeesmaand ernstige brandwonde opgedoen het toe sy in haar motor voor ʼn kleuterskool in Benoni met petrol gegooi en aan die brand gesteek is, het aan haar wonde beswyk.

Die 27-jarige vrou is Donderdagmiddag in ʼn hospitaal dood, het kapt. Nomsa Sekele, polisiewoordvoerder, bevestig.

Die vrou het op 13 September haar vyfjarige dogtertjie by die kleuterskool afgelaai toe ʼn man, glo haar lewensmaat, in sy taxi voor die skool stilgehou en petrol op haar wit Hyundai Getz uitgegooi het.

Die petrol het ook op haar lyf beland en sy het ook aan die brand geraak nadat die man die motor aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig die vrou het na ʼn oop stuk veld naby die skool gehardloop en op die grond gaan rol.

Die man het ook ernstige brandwonde opgedoen toe hy volgens ooggetuies self in die brandende motor gespring het – vermoedelik om selfmoord te pleeg.

Hy het daarna na sy taxi gehardloop en glo batterysuur gedrink. Nooddienswerkers was in dié stadium reeds op die toneel en het die man in bedwang gebring en hom behandel. Hy is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal opgeneem vir behandeling.

Volgens Sekele sal die verdagte op 11 Oktober, indien hy dan reeds ontslaan is, op aanklag van moord in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Irene ·

My hart huil vir die kind en familie. Ek het nie woorde vir die oordtreder nie… help nie eens ek hoop dat hy vir lank tronk toe sal gaan nie want alles in SA is n joke. Oortreders het meer regte as hul slagoffers

Swerwer ·

Genade, ‘n mens is mos nie tot so iets in staat nie. Wreed verby.

Belinda ·

Dit is verskriklik. Dis genoeg dat die kind dit moes besugtig hoe haar ma gebrand word in die kar, en nou nog dat sy beswyk het aan haar wonde. Mag die skuldige vir ewig in die hel brand! Die mensdom is gedoem!
My innige simpatie aan die famile.

AH ·

Nooddienswerkers moes hom maar gelos het……………………Hy sal waarskynlik oor ‘n paar jaar weer vry op straat kan rondloop en sy duiwelswerk verrig………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.