Ma sterf ná gesin se motor rol

Die vrou se man en vierjarige seun was ook in die motor (Foto: Verskaf)

ʼn Vrou is dood en haar man en vierjarige seun beseer toe die gesin se motor Sondag op die N12 digby Fochville in Gauteng gerol het. Daar was nie ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Volgens Ross Campbell, woordvoerder van ER24, is paramedici om 16:09 na die ongelukstoneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn Mitsubishi-sportnutsmotor langs die pad op sy sy aangetref.

“Die vrou – wat in die passasiersitplek gesit het – is sowat vyf meter van die voertuig gevind. Sy het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar,” bevestig Campbell.

Die opgefrommelde bakkie in die ongeluk in die Kaapse Wynlande (Foto: Verskaf)

“Die vrou se man – wat die motor bestuur het – het op die toneel rondgeloop. Die egpaar se vierjarige seun het langs die motor gesit. Hy het matige beserings opgedoen. Paramedici het hom op die toneel behandel voordat hy per ambulans na die Carletonville- provinsiale hospitaal vir verdere mediese sorg geneem is.”

In ʼn afsonderlike voorval in die Kaapse Wynlande is vyf mense ernstig beseer ná ʼn vragmotor en bakkie in ʼn ongeluk betrokke was.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, het die ongeluk Saterdagmiddag om 13:13 op die R44 in die Kaapse Wynlande plaasgevind.

“Die vyf insittendes van die bakkie het ligte tot ernstige beserings opgedoen. Hulle is almal op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese sorg,” sê Herbst.

Die omstandighede van albei ongelukke is in hierdie stadium nog nie bekend nie en word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maggies ·

Vyf insittendes in daardie bakkie? En hulle het almal oorleef. Dit klink ongelooflik.

Swerwer ·

Verskriklik. Wat gaan aan dat daar so baie noodlottige ongelukke deesdae is, en dit word net erger.

Elinette ·

Vyf insittendes in ‘n gewone “single cab” bakkie? Duidelik weer mense agterop die bakkie vervoer … ai, daar word net nie geleer dat ‘n bakkie NIE ‘n multi-passassier vervoermiddel is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.