Ma sterf ná vakansie in geboorteland

Santie en Peter Lourens. Foto: Facebook

Santie en Peter Lourens. Foto: Facebook

ʼn Kaapse gesin se vakansie in Namibië, hul ma se geboorteland, het tot ʼn tragiese einde gekom toe hulle op pad terug in ʼn motorongeluk was.

Santie Lourens is Woensdag dood toe die motor waarin sy, haar man, Peter, en hul twee seuns, Adriaan (15) en Henro (19), gery het, omgeslaan en gerol het. Tilana Bester, Santie se jarelange vriendin, het aan Maroela Media gesê dit was ʼn “fratsongeluk.”

“’n Vragmotor het van voor af gekom en toe dit verby [die Lourense] se motor ry, het dit ʼn rukwind veroorsaak wat hul voertuig gedruk en ’n wiel die rand van die pad getref het. Hulle het gesukkel om beheer te hou en die voertuig het gerol,” het sy gesê.

Adriaan het kopbeserings opgedoen en moes Donderdag geopereer word, maar die dokters glo dat hy ten volle sal herstel,” het Bester gesê. Henro is ook in die hospitaal opgeneem vir ʼn skouerbesering en ʼn kopwond, maar is sedertdien weer ontslaan. Peter het net skrape en kneusplekke opgedoen en is nie gehospitaliseer nie.

Die Lourens-gesin tydens hul onlangse vakansie in Namibië. Foto: Facebook

Die Lourens-gesin tydens hul onlangse vakansie in Namibië. Foto: Facebook

Huldeblyke aan Santie het sedert die ongeluk op sosiale media ingestroom. Peter het ʼn foto van Santie op Facebook geplaas met die woorde: “Rus sag my liefste vrou. Dankie Vader vir die 23 jaar saam.”

Volgens Bester is Santie ‘n Namibiese boorling en bly die meeste van haar familie nog daar. Die gesin woon in Brackenfell. Sy het gesê die gesin, familie en hul vriende is geruk deur Santie se dood.

“Santie was so spesiale mens. Ek dink nie sy het een enkele vyand gehad nie. Sy was ʼn goeie ma vir haar seuns en ʼn vrou waarop Peter trots kon wees. Sy was hulpvaardig, lojaal en spontaan en het nooit geskrik vir werk nie,” het sy gesê. “Sy was ʼn staatmaker met ʼn dienende hart.”

Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie en dit is ook nie duidelik of die begrafnis in Suid-Afrika of Namibië sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Debs ·

Vragmotors … hoeveel dood gaan hulle veroorsaak…..
my hart gaan uit na daardie drie manne en familie en vriende, mag onse Heer julle almal deur hierdie donker tyd dra.

Suzette ·

Dis presies wat met ons gebeur het, nou die begin van Junie ook daar net voor jy Noordoewer kry, ons het karavaan gesleep, groot lorrie het verbygekom, rukwind het agter vragmotor gekom en ons karavaan geruk, gelukkig het en sleep my man teen stadige spoed van 110km per uur en ons karavaan se dakkie is erg beskadig, so dat die dakkie binne geknak het en dat ons nou dit moet vervang of herstel, die vragmotors veroorsaak lugleegte en dan kom die ekstra rukwind van agter en dit is dan wat die skade veroorsaak of selfs ‘n ongeluk.

Annie ·

Ai tog. Ons harte gaan uit na die familie en vriende. Ons bid dat julle sal sterk bly in die baie moeilike tyd.

Wilna ·

Eerstens, hiermee ons innige meegevoel met jul verlies en bid dat jul mooi herrineringe en ons Almagtige Vader jul troos sal wees in die dae wat voorle!
Tweedens, waarom altyd die blaam blaas op Vragmotors en hul Bestuurder plaas! As vrou van n Vragmotor Bestuurder met 30+ ongeluksvrye jare agter die stuur moet ek dus se dat nie almal oor dieselfde kam geskeer moet word nie. Hierdie was duidelik n frats ongeluk en my man is gebore en getoee in Namibie en al is die toestande van die paaie baie goed onderhou is daar dele waar die pad baie nou is en bykans geen ruimte laat vir twee voertuie om mekaar gelyktydig verby te kruis nie, soms moet my man met sy 22 meter lange vragmotor en 36 ton op die skouer van die pad ry om te voorkom dat hierdie tipe van ongelukke gebeur, maar ongelukkig is daar Vragmotor Bestuurders en motor bestuurders wat nie bedagsaam genoeg is nie en dan gebeur hierdie soort ongelukke, afhangende van jou bestuursvermoee en die spoed wat hiermee gepaardgaan en in Namibie is die dorpe ver van mekaar met geen of swak selfoon opvangs!
My opregte simpatie met die famielie maar terselfdertyd moet ons ook n lansie breek vir ons Siele op Wiele, hul werk soms deurnag en doen n ondankbare werk om te vooorsien aan elkeen se behoeftes!

Tilana ·

As die berig enige iemand onder die indruk bring dat die vragmotorbestuurder beskuldig word, wil ek dit duidelik maak dat nie die bedoeling is. Dit word deur Peter en ons almal gesien as ‘n fratsongeluk. Slegs die feite vd ongeluk is weergegee.

Gielie - Namibië ·

Die Here het julle geseën met ‘n laaste vakansie saam met ‘n eggenote en ‘n moeder. Dit was alles goue oomblikke; onthou en koester dit so. Mag die Liewe Vader julle styf vashou in hierdie tyd van hartseer. Ons dink aan en bid vir julle. Langstrand groete. Gielie & Suzette Lambrechts

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.