Ma sterf toe sy dogter uit vlamme red

Argieffoto. (Foto: State Government of Victoria via AP)

ʼn 25-jarige ma is dood nadat sy en haar sesjarige dogter in ʼn brandende huis vasgekeer is en sy haar dogter teen die vlamme beskerm het. Die huis in Kwaggafontein, Mpumalanga, is glo verlede Dinsdag deur die slagoffer, Nkosiphile Nkambule, se kêrel aan die brand gesteek. Hy is ook haar dogter se pa.

Volgens die polisie in Mpumalanga het ʼn woordewisseling tussen die twee volwassenes ontstaan, wat daartoe gelei het dat die verdagte die huis aan die brand gesteek het.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte saam met die twee slagoffers in die huis wou omkom, maar toe hy die vlamme sien, het hy glo bang geword, aan vensters van nabygeleë huise geklop en om hulp gesmeek,” het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, Sondag gesê.

Die bure het op die oproep gereageer en kon daarin slaag om Nkambule en haar dogter uit die huis te red en na die hospitaal te jaag. Die verdagte het weggehardloop. “Die dogter het nie ʼn skrapie aan haar lyf gehad nie en is net vir rookinaseming behandel. Die ma het egter Donderdag aan haar wonde beswyk,” het Hlathi gesê.

Die verdagte is onmiddellik daarna in hegtenis geneem terwyl hy nog uit die gebied probeer vlug het. “Hy het ook brandwonde opgedoen en is eers hospitaal toe geneem, waar hy behandel en later ontslaan is,” het Hlathi gesê.

Die verdagte het Vrydag reeds in die Mkobola-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot sy formele borgtogaansoek later vandeesweek aangehoor word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Wat is die probleem met alles aan die brand steek as jy nie gelukkig is nie? Siek denkwyse

MoederMamma ·

‘n Ma se liefde ken geen einde nie. Net jammer dat hierdie spesifieke pa nie sy kind eerste gestel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.