Ma stort hart uit ná dogter sterf in kwadfiets-ongeluk: ‘My kind, ek sien jou gou weer’

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

“Ek glo Elle-Zaan se boodskap aan ons was dat ons in oorvloed moet lewe. Die Here het nie net haar liggaam gebruik om lewe te gee nie, maar wou ook deur haar lewe hoop in ander skep. Die goed wat hieruit gekom het, was soveel meer as die verlies.”

Só het Elke Janse van Rensburg (37) van Bloemfontein die emosionele reis beskryf waardeur hulle familie moes gaan nadat ʼn vierwielmotorfietsongeluk haar middelste kind, Elle-Zaan (12), se lewe op 15 Julie geëis het.

Ballonne word op Elle-Zaan se gedenkdiens vrygelaat. Foto: Facebook

Ballonne word op Elle-Zaan se gedenkdiens vrygelaat. Foto: Facebook

Elke vertel dat sy nou ná al die trauma en ʼn emosionele gedenkdiens besig is om op haar eie manier deur die rouproses te gaan. “Ek verlang só baie na haar. Daar is ʼn stuk uit ons lewe weg. Maar die Here het ons op so ’n wonderlike manier hiervoor voorberei. Alles het presies gebeur soos dit moes. Ek het vrede binne-in my.”

Elle-Zaan, haar sussie, Marla (14), en hul klein boetie, Gerco (5), het op Sondagoggend 12 Julie vir oulaas met ʼn vierwielmotorfiets gaan ry nadat die gesin ʼn week op ʼn familie se plaas buite Venterstad deurgebring het. Die volgende oomblik het Marla en Gerco na die huis toe aangehardloop gekom en gesê daar was ʼn ongeluk.

Elke se man, Gerhard, het dadelik in die bakkie gespring en na die ongelukstoneel gejaag. Ongeveer 300 m van die huis af het hy Elle-Zaan op die grond sien lê met die vierwielmotorfiets ongeveer ʼn meter verder op sy sy. “Sy het in die middel van die pad gelê so half op haar gesiggie en sy het verskriklik gebloei,” het Elke gesê.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Minute later was Elke agter in die gesinsmotor met Elle-Zaan op haar skoot terwyl Gerhard na die naaste hospitaal in Burgersdorp gejaag het. “Ek het dadelik besef daar is groot fout, want daar het baie bloed by Elle-Zaan se mond uitgekom en ook by haar oë en ore. Sy was bewusteloos en het net sulke roggelgeluide gemaak. Sy het nooit weer haar bewussyn herwin nie,” het Elke gesê.

Elke het gesê sy het heelpad met haar kind gepraat en haar vertel dat sy so trots is op haar omdat sy so sterk is. By die provinsiale hospitaal in Burgersdorp kon die mediese personeel aan diens nie veel vir Elle-Zaan doen nie en die hospitaal het glo ook nie die nodige toerusting gehad om haar te behandel nie. Die dokter kon wel daarin slaag om haar te stabiliseer en het vir Elke en Gerhard gesê dat Elle-Zaan erge skedelbreuk opgedoen het.

Elle-Zaan is later per helikopter na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein geneem en die res van die Janse van Rensburg gesin is met hul motor terug na hul tuisstad. “Daar het die neurochirurg vir ons bevestig dat sy erge skedelbreuk opgedoen het en dat daar baie skade aan haar brein is. Haar brein het gebloei en die bloed het oral in die gleufies van die brein gestol,” het Elke gesê.

“Volgens die dokter verkies hulle dat die drukking op ʼn pasiënt se brein nie hoër as 20 moet wees as hulle op die persoon moet opereer nie. Die drukking op Elle-Zaan se brein was 85. Daar was niks wat hulle vir haar kon doen nie.”

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Elle-Zaan is aan ʼn asemhalingsapparaat gekoppel om haar brein kans te gee om te rus en hopelik te herstel. Sy is ook verdoof en het medikasie vir die pyn ontvang. Sy is egter twee dae later breindood verklaar.

“Elle-Zaan het so ’n kwartaal terug by die huis gekom en gesê daar was ʼn praatjie by die skool oor orgaanskenking en sy wou baie graag haar organe skenk as sy eendag doodgaan. Ons het die organisasie wat orgaanskenkings hanteer genader en haar organe is die Woensdag geskenk.”

Volgens Elke was die paar dae in die hospitaal ʼn wonderlike afskeidsproses vir die hele gesin, ander familie en goeie vriende. “Ons het almal kans gekry om Elle-Zaan te groet en vir oulaas met haar te gesels. Ons het haar voete met room ingevryf en stories oor haar lewe gedeel. En ons kon haar droom om ʼn orgaanskenker te wees bewaarheid.”

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Elle-Zaan Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Elke glo dat die Here haar en Gerhard voorberei het op Elle-Zaan se dood deur maande vooraf vir hulle boodskappe te stuur. Sy vertel dat Elle-Zaan sedert November drome gehad het waarin sy gedroom het sy gaan dood en haar gesin kan niks doen om haar te help nie. Die Bybelstudiegroep waarvan die egpaar deel was, het ook gepraat oor die trauma van ʼn ouer om ʼn kind te verloor en hoe dit jou geloof affekteer.

“Ek glo die Here het ons só voorberei. Dit is waarom ek baie meer rustig is. Alles het so in plek geval en daarom is daar ook vir ons ʼn groot stuk vrede,” het sy gesê.

“Elle-Zaan was ʼn dromer, ʼn omgee-kind. As mense my sal vra hoeveel kinders ek het, sal ek sê drie. Sy sal altyd my kind bly. Almal het soveel lewenslesse uit haar lewe geleer. Om voluit te leef, voluit te droom, voluit te gee. Ek gaan hierdie rouproses voluit deurgaan, want ek wil voluit leef. Toe ek haar moes groet, het ek vir haar gesê, my kind, ek sê nie vir jou totsiens nie, want ek sien jou gou weer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Landie ·

Ai dis so hartseer. Sterkte aan die mamma en pappa, al die familie en vriend van Elle-Zaan. Mense moet asb besef hoe gevaarlike kwadfietse is. My kind was NOOIT toegelaat om op hare te ry sonder ‘n valhelm nie, dit klink en lyk dalk snaaks, maar dit kan ‘n lewe red. Kwadfietse is nie baie vas op die pad nie, en val maklik om, veral as daar teen ‘n hoë snelheid gery word. Wees asb versigtig mense!!

Marianda Otto ·

Dierbare mense ons harte is met julle
Het ook ons. seun op 20 Jr our verloor in karongeluk 2 jr terug. ..
En ons het ook vrede hy is by die Here want ons en ons seun het ook voor die tyd severe dinge beleef wat voorbereiding was en ons dit nie eers geweet het nie,maar na die tyd het als In plek geval …Prys die Here
Maar dis nie altyd maklik nie,die gemis is soms baie groot…maar ons Vertrooster is altyd met ons en God gee ons regtig krag om aan te gaan
Baie liefde vir julle
Marianda en Ludwig

santoinette ·

Sterkte aan elle zaan se ouers. Ek dink aan julle in hierdie bedroefte tyd. Ek was hartseer toe ek dit lees.Dit voel soos my eie kind.

EMK ·

Baie sterkte, dis baie hartseer. Moet julself egter nie verwyt nie, ongelukke gebeur en ons hoop dat andere hieruit kan leer, naamlik dat valhelms absoluut noodsaaklik is as mens op die fietse ry. Hoop die boetie en sussie gaan terapie kry – dit moes baie traumaties vir hulle wees.

christo ·

Sterkte ek ry al baie quads en neem deel landswyn dis so hartseer.asb sit op julle helmets ekt al baie hard geval bene gebreuk maar nooit my kop seer gemaak nie.n mens se helmet moet soos jou sleutel wees sonner hom kan jy nie ry nie.ai sterkte bid vir julle

Coen ·

Ai toggie. My diepste innige meegevoel met die familie. My hart is dtukkend.

Leonie ·

My innige simpatie met die familie se verlies! Ek tjank nou sommer ook! My dogter is ook 12 en sy is my alles! Sterkte met die moeilike tyd wat voorlê. Dis so hartseer! xx

jakkie richards ·

My kleinseun het in 2005 sy kaak in. N quad bike ongeluk verloor (dis op getel en terug geplant) hyt we’ll n helmet gedra! Ongeluk is ongeluk dit gebeur! Quads in nie speelgoed nie! Sterkte aan die ouers!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.