Ma tronk toe na sy baba vermoor

court-hammer_thumb‘n Ma van Durban, KwaZulu-Natal wat haar pasgebore baba verwurg en ‘n waslap in haar keel afgedruk het, is tot tronkstraf gevonnis, berig die Sunday Tribune.

Krishnandi Govindsamy (30) is die week in die Durban-landdroshof deur landdros Fariedha Mohamed skuldig bevind aan die moord op haar babadogtertjie. Sy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Govindsamy, ‘n kassier by ‘n slaghuis, het haar babadogtertjie kort na geboorte met ‘n T-hemp verwurg. Sy het in die badkamer by haar huis in Mayville geboorte gegee.

Sy het die babadogtertjie se lykie in ‘n plastieksak gesit en in ‘n kas in die slaapkamer gebêre voor sy gaan slaap het.

Volgens die pleitdokumente het Govindsamy gesê die baba, wat sy Tamia van Wyk gedoop het, is kort na haar geboorte op 24 Junie 2010 dood.

Anesh Maharaj, Govindsamy se regsverteenwoordiger, het ter versagting aangevoer dat sy kliënt, ‘n ma van drie, ‘n eerste oortreder is.

Hy het gesê die hof moet in ag neem dat Govindsamy geen emosionele ondersteuning tydens haar swangerskap gehad het nie aangesien haar man, Nathan van Wyk, met dwelms betrokke was.

Landdros Mohamed het egter gesê Govindsamy het die moord met voorbedagte rade gepleeg aangesien sy voor die tyd kon besluit het om iemand anders na die baba te laat omsien.

“Jy het ‘n waslap en T-hemp gebruik om die baba te verwurg, wat beteken jy het gedink oor wat jy gedoen het.” – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.