Ma, twee kinders in KZN vermoor

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Ma en haar twee kinders is die afgelope naweek wreed in Ndwedwe in KwaZulu-Natal vermoor.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is Vrydag omstreeks 22:00 na die toneel in die Mzunga-gebied ontbied. Daar het hulle die liggame van Thandokwakhe Bhengu (35) en haar twee kinders, Lindelani (16) en Lungisani (8), aangetref.

“Thandokwakhe en Lindelani is geskiet, terwyl Lugisani se liggaam gevind is waar dit aan ʼn paal hang,” het Zwane gesê. Hy het gesê die motief vir die moorde is nie bekend nie en het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die moordenaars kan lei.

Die voorval is een van twee grusame moorde verlede week op gesinne in KwaZulu-Natal. Maroela Media het vroeër berig die liggame van ʼn 49-jarige vrou, haar 23-jarige seun en 27-jarige swanger dogter is Donderdag in die vroeë oggendure in Zululiyaduma in Melmoth aangetref. Die oorledenes is glo met ʼn jagmes aangeval en geskiet.

Een van die gesinslede, ʼn 30-jarige vrou, het die aanval oorleef en is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem.

Vier persone, tussen 16 en 21 jaar oud, is later in verband met dié moorde in hegtenis geneem. Hulle het Maandag in die hof verskyn en die saak is tot 29 Augustus uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieterpiet ·

Onaanvaarbaar! Wat gaan aan in KZN? Is dit ANC Vs ander partye politiek?

Cherokee ·

Ja dit is wat dit is. Grotendeels gevegte oor gekose maar nie verkose stadsraadlede, verlore setels en vele meer politieke en kriminele gevegte.

snoefie ·

seker nou baba maak vir gogga bang. daar lemosnog verkiesings voor. moordadige drek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.