Ma, tweejarige sterf saam dae ná gru-ongeluk

Nathalie Jeremic (36) en haar dogtertjie, Anja (2).

ʼn Ma en haar dogtertjie wat vroeër vandeesmaand ernstig in ʼn ongeluk in Dobsonville in Johannesburg beseer is, het albei Sondag gesterf.

ʼn Voertuig met sewe insittendes het laatmiddag op 3 Junie teen Nathalie Jeremic (36) en haar dogtertjie, Anja, se motor gebots. “Dit klink of hulle reg voor haar beheer verloor het. Iemand moes gejaag het en dit was nie sy nie,” het Annelie Combrink, Nathalie se skoonsuster, gesê.

Ma en dogter was nog in die voertuig toe paramedici op die toneel aangekom het. Anja was in haar motorstoeltjie vasgegordel.

Anja, wat in November twee jaar oud geword het, is na die Garden City-kliniek in Johannesburg gehaas nadat sy eers op die toneel bygebring moes word. Sy het ernstige breinbeserings opgedoen en het sedertdien lewensondersteunende medikasie ontvang. Dokters het ʼn dag ná die ongeluk vasgestel dat die dogtertjie geen breinaktiwiteit toon nie.

Nathalie is na die Milpark-hospitaal geneem met onder meer ʼn gebreekte pelvis en verskeie gebreekte ribbes. Sy het ná die ongeluk nog met haar broer, Gary, gepraat. Twee dae later het sy egter ʼn dubbele beroerte in die hospitaal gehad waarvan sy net nie weer herstel het nie, het Combrink gesê. Sy was sedertdien ook aan lewensondersteunende toerusting gekoppel.

Nathalie se man, Ratko Jeremic, was tydens die ongeluk in die buiteland. Hy werk vir ʼn passasierbootmaatskappy en het weens die Covid-19-pandemie geweldig gesukkel om van Frankryk na Suid-Afrika te reis. Hy was boonop sowat twee maande lank in kwarantyn daar.

“Dit was baie moeilike nuus om oor te dra sonder om iemand se hart te breek,” het Combrink gesê.

Ratko het verlede week na Suid-Afrika teruggekeer en moes eindelik die moeilike besluit neem om sy vrou en dogtertjie toe te laat om te sterf. Dit is Sondag gedoen. Nathalie se organe is geskenk.

“Ons het ons gereed gemaak om Nathalie te ondersteun dat sy haar kind verloor het. Ons het geglo sy gaan herstel.

“Dit was vir ons amper soos die Here se manier om hulle bymekaar te hou. Ons pastoor het vir ons gesê Anja is nou in die Here se crèche. Ons glo vas dat hulle saam is. Die Here het geweet daai mamma sou dalk nie sonder haar dogtertjie kon voortgaan nie,” het Combrink gesê.

Weens die Covid-19-pandemie is die familie aanvanklik nie by Nathalie en Anja in die onderskeie hospitale toegelaat nie. Hulle moes ná die ongeluk in die parkeerterrein wag voordat hulle die gebou kon binnegaan.

“Ons het eindelik darem kans gehad om totsiens te sê. ʼn Mens het nodig om afsluiting te kry.”

Combrink het gesê hulle is besig om Nathalie en Anja se begrafnisreëlings te finaliseer. Hulle sal na verwagting aanstaande week begrawe word. “Nathalie was ʼn familiemens en Anja het altyd gelag. Sy was die oulikste dogtertjie.”

Maroela Media het vroeër berig twee ander vroue is ook in die ongeluk dood en verskeie ander mense is ernstig beseer. Talle van hulle is tydens die botsing uit die voertuig geslinger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

katerinadiekat ·

Die Jode het die legende oor die Golem. Ek wens baiemaal dat ek n Golem kon maak. Maar hy sou binne n week seker dood gewees het van uitputting.

Frank ·

MM, was “‘n voertuig met sewe insittendes” ‘n taksi?

Brakenjan ·

Hoe hartseer is dit nie; en vir die Pa om dan te moet terugkeer uit die buiteland dan eers. Ek Was daai sewe insittendes in ‘n Hi-Ace taxi? (High Impact African Culling Equipment)

Willemien ·

Dis baie hartseer, my innige simpatie aan haar naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.