Ma van baba Wiehan 6 jaar ná moord: ‘Ons vergeet nooit’

Wiehan Botes

“ʼn Mens kom nooit oor die dood van jou kind nie, jy leer net om daarmee saam te leef.”

Só sê Rita Botes, ma van die vyf maande oue Wiehan wat in 2012 in Delmas in Mpumalanga wreed saam met sy oppasser, Margrietha de Goede, vermoor is.

Die dubbele moorde het destyds die klein gemeenskap geruk, maar Botes sê sy en haar man, Wiets, het uiteindelik geen ander keuse gehad as om met hulle lewe te probeer aangaan nie.

Vir die meeste mense is die skokmoorde die afgelope week aan die vergetelheid ontruk toe die gebeure op die program Bolhuis op kykNET bespreek is. Die Botes-gesin vergeet nooit nie. En spesialisondersoeker Mike Bolhuis, oor wie die program handel, sê hy vergeet óók nooit nie.

“Dis ʼn cold case, maar ons sal dit nóóit sluit nie,” het Bolhuis gesê.

Bolhuis het net ná die moorde sy dienste gratis aan die gesin gebied om te help soek na klein Wiehan se moordenaar. Hy meen Themba Ephraim Mahlangu, die vermeende moordenaar, is intussen sélf dood – hetsy weens sy dwelmprobleem, of in sogenaamde boendoegeregtigheid.

Themba Mahlangu

Botes sê sy glo egter nie Mahlangu is dood nie. Sy het hom wel al vergewe, maar dit beteken nie sy kan die saak ooit laat gaan of ophou soek na hom nie.

“Mense vra hoekom plaas ons dit nie agter ons en gaan aan nie. Ek hét hom vergewe, maar ek wíl hom kry. As hy die weerloosste van die weerloses kan seermaak, gáán hy dit weer doen – as hy dit nie al klaar gedoen het nie.”

Die Botes-egpaar woon steeds op Delmas en hulle tweeling, Anuschka en Waldu, is ʼn jaar ná Wiehan se dood gebore. Hulle is nou vyf. Botes sê hulle praat steeds elke dag oor Wiehan en vertel sy boetie en sussie van hom. Wiehan was in ʼn stadium selfs sy kleinboet se denkbeeldige maatjie.

Botes sê dit was aanvanklik moeilik om só ʼn wrede gebeurtenis op ʼn mooi manier aan die twee kleintjies te verduidelik – ook sonder dat hulle ʼn wrok begin koester. Sy het die Bolhuis-episode wat handel oor Wiehan opgeneem en sal dit later, wanneer die kinders ouer is, vir hulle wys.

Sy sê dit was moeilik om na die program te kyk en die gebeure te herleef. “Dit is my kind, ʼn deel van my is weg en ek mis dit elke dag. Jy sal dit nooit verwerk nie. Ek dink nie die Here het dit in jou wese gesit om jou kind te begrawe nie.

Wiets en Rita Botes

“Ons was in Stilbaai ná dit [die moorde]. En ek het besef die Here het ʼn moordenaar saam met Hom gevat [toe Jesus aan die kruis gehang en vir die moordenaar wat saam met Hom daar was, gesê het dié sal saam met Hom hemel toe gaan] en dit was ook iemand se kind. Dit het my laat dink wie is ek om te oordeel of die Here ʼn moordenaar kan saamneem? Daar het ek nogal vrede gekry. Hy [Mahlangu] gaan nie die Here se oordeel vryspring nie. Maar ek sal nooit ophou soek nie.”

Bolhuis sê ná die program het tientalle mense hom reeds genader met inligting oor waar Mahlangu hom moontlik bevind, of dat hulle hom vantevore êrens gesien het. Hy sê mense wat vermoed hulle het Mahlangu opgemerk, moet soveel moontlik inligting bymekaarmaak en probeer bevestig, en hom dan laat weet.

Bolhuis meen die moontlikheid bestaan ook dat Mahlangu in verband met ʼn ander aanklag agter tralies beland het, sonder dat hulle dit weet. Hy sê hy en sy span gaan dus nou saam met die polisie werk om tronke vir hom te fynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Gideon ·

Dit was vir my die ergste wat ek nog ooit gesien het!! Ek het myself so jammer gekry omrede ek te oud is om die land te verlaat.
Ek wil my losmaak van hierdie wrede mense wat geen gevoel het nie!!
Daardie liewe ma en pa bly in my gedagtes en daardie werkskollega en speurder julle is in my hart!!

sonja coetzee ·

ONS HET DIT WOENSDAG 31/10/2018 OP BOLHUIS GESYK DIS VERSKRIKLIK DAT DIE MOORDENAAR NOOIT WEER VAS GETREK IS NIE DIT WAS BAIE SAD OM TE DINK HY’T VIR KLEIN WIEHAN NET ONDER DIE BED IN GESKOP.DIT IS REGTIG BAIE WREED EK KAN MY NET INDINK HOE DIE OUERS VOEL NA SO IETS MET JOU KIND EN SY DAGMOEDER GEBEUR HET.VIR DIE OUERS SE PART HOOP EK DAT DIE MOORDENAAR OPGESPOOR SAL WORD WANT DIE PLEKKIE VAN KLEIN WIEHAN SAL NOOIT OOIT GEVUL WORD NIE!!MNR & MEV BOTES STERKTE VORENTOE BID VIR JULLE.WEET IS NIE MAKLIK NIE MAAR VERTROU OP ONS HEMELSE VADER DAT HY JULLE DIE NODIGE KRAG SAL KAN GEE OM ELKE DAG AAN TE KAN GAAN DINK AAN JULLE PYN.

LB S ·

Sonja, ek sal dit op ‘n mooier manier aan jou verduidelik. Hulle sê as jy in hoofletters tik, beteken dit jy skree. Daar sal ALTYD iemand wees wat jou wil aanvat daaroor, so tik maar in “lower case”. :)

dr. Sakkie van der Merwe ·

Ja ek toe daar ‘n optog was na die polisie stasie met ‘n beswaarskrif het die DA raadslid sy afkeur uitgespreek oor die “regses” wat die gemeenskap polariseer.

sonja coetzee ·

Jammer almal en glo my ek het glad nie geskree nie,ek was besig gewees het nie agter gekom my “caps lock”is nog aan nie sorry LBS en al die ander!!!

Alice ·

Moenie jammer se nie Sonja. In die lig van die saak kan ek nie glo iemand is so KLEINLIK OM OOR KOMMENTAAR IN HOOFLETTERS TE KLA NIE. Ek het jou kommentaar gelees en die hoofletters het my nie gepla nie

Anti-Negatief ·

Kleinlik inderdaad! Die moord is iets om oor te skree! Dit is so onverstaanbaar wreed en walglik. Ek weet nie hoe die ouers die moordenaar kon vergewe nie. Ek sou nie kon nie……Sterkte aan julle. Ek hoop hy word opgespoor, maar hy sal sy straf kry…..

Elsabe ·

So iemand wat n lewe kan neem van so onskuldige kind moet absoluut so siek in sy kop wees. Rita en Wiets ek dink dit is wonderlik dat julle kon aangaan met julle lewe en as hy opgespoor is sal julle dit kan afsluit. Sterkte vorentoe

So mooi seuntjie! ·

So so jammer vir die ouers en familie, mag julle alle krag en genade van onse Hemelse Vader ontvang vir altyd en ewig!

Michelle ·

Hierdie storie het my siek gehad vir paar dae. Ek was so ontsteld. Mal oor Bolhuis se program maar besluit ek sal nie meer kan kyk nie.
Te sensitief daarvoor.
Ek bid vir sy ouers. Dis n verskriklike storie.

Zuz ·

Ek kan myself glad nie indink om n kind so weed te moet verloor, of selfs in die Wiehan geval waar die kleinding al n jaar weg is? Ek het wel my bedenkinge oor Mike Bolhuis ( (Het die boek Ralph Haynes, Godfather van die Wes Rand gelees), as dit regtig in sy vermoë was om iets te doen, hoekom nog niks konkreet kon oplewer. Met sy TV reeks, maak hy ou wonde oop en beleef baie mense intense pyn, seer en hartseer. Vind die moordenaar, Dan beeldsaai, nie Andersom. Net my opine,

Poppie ·

Ek sien die Here het vir hul dubbele vreugde gegee met n tweeling na die werk van die satan. En net verlede week lees ek van die vrou wat haar man en 2 kinders in n ongeluk verloor het en is ook nou geseen met n tweeling. Hy probeer dubbel vergoed vir wat satan verwoes.

Andre ·

Klink nie of daar hard na die verdagte gesoek word nie. Nou eers met die SAP saamwerk om navraag by tronke te doen. Werk saam met die ondersoekbeampte wat alle inligting by die Kriminele Buro kan kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.