Ma vas wat glo siek babatjie in taxi los

Die speurders, konst. Lihle Mlotshwa (links) en sers. Ethel Ndlovu, saam met die verdagte. Foto: Verskaf

Die speurders, konst. Lihle Mlotshwa (links) en sers. Ethel Ndlovu, saam met die verdagte. Foto: Verskaf

ʼn 37-jarige vrou is hegtenis geneem nadat sy glo haar sieklike pasgebore baba in ʼn taxi agtergelaat het.

Kapt. Nqobile Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê die ma het na bewering op 2 Desember die baba in ʼn minibustaxi by die taxistaanplek by die Pavilion-winkelsentrum in Westville, naby Durban, gelos.

“Die taxibestuurder het sy passasiers by die taxistaanplek afgelaai. Hy het uit die taxi geklim en buite by ander bestuurders gesit en wag totdat dit sy beurt is om passasiers op te laai,” het Gwala gesê.

Toe die bestuurder later by sy taxi kom, het hy die baba hoor huil en met verdere ondersoek onder ʼn sitplek gekry.

“Die baba was in ʼn kombers toegedraai en met ʼn handgeskrewe nota en medikasie agtergelaat. Die baba was in ʼn swak toestand. Die kind se oë was opgeswel en die doek was vuil.”

Die bestuurder het die polisie ontbied en die kind is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die aanklag is by die Westville-polisiestasie ingedien gemaak, waarna dit deur die Pinetown-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) oorgeneem is vir verdere ondersoek.

“Dit was ʼn moeilike saak, want daar is geen ooggetuie nie en die nota wat agtergelaat is, het nie veel inligting van die ma onthul nie. Die speurders kon vasstel die medikasie is deur die St. Mary’s-hospitaal in Marrianhill uitgereik.”

Volgens Gwala het verdere ondersoek by die hospitaal ook nie veel meer inligting oor die ma opgelewer nie.

“Die vrou het ʼn onvoltooide residensiële adres ingehandig en geen selfoonnommer verskaf nie. Die enigste nommer wat die speurder kon vind, was van haar familie in Kokstad. Die familielede is gebel en volgens hul kennis was die vrou steeds in die hospitaal met die kind wat te vroeg gebore is. Hulle het ontken hulle het haar selfoonnommer en het aan die speurders gesê hulle verwag ʼn besoek van haar en die kind voor Kersfees.”

Die enigste inligting wat die speurders oorgehad het om op te volg, was ʼn vae adres wat aangedui het dat sy naby die Khabazela High School in Embo woon. “Dit het puik speurwerk, baie harde werk, lang ure en pure briljantheid van die speurders vereis om die verdagte op te spoor. Sy is uiteindelik Dinsdag om 19:30 by ʼn huis in die Embo-omgewing naby Hillcrest in hegtenis geneem.”

Die vrou moet Donderdag in die Pinetown-landroshof verskyn op aanklag van kinderverwaarlosing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hettie ·

Baie sad! Arme baba wat in taxi gelos het! Dankie taxibestuurder dat hy die baba by polisie gebring het! Hoop baba word gou herstel en gesond!

Lance ·

Tragies dat mense hulle eie kinders so kan verwaarloos en los …voel hulle dan NIKS vir die kind nie …..diere doen dit gladnie so is dis abnormaal gedrag of wat is hier die probleem ?

zoom zoom ·

Sy ken van huis-huis speel tot dit kom by grootmaak dan is dit nie meer lekker nie.

Voorsorg ·

Ongelukkig is daar soveel politiek en kultuur betreffende familiebeplanning en voorsorg in SA. Ongelukkig sien die regering dit nie as ‘n probleem dat mense te veel kinders het en nie meer vir hulle kan sorg nie, want daar is belowe dat dit met almal goed sal gaan in die nuwe SA en dat MAG in GETALLE is, ja dit is so, maar dit is presies dit wat veroorsaak dat daar duisende ongewenste kinders gebore word en duisende waarvoor daar NIE gesorg kan word nie. Nee dit maak nie reg wat sy gedoen het nie, maar begin by die BEGIN, die oorsprong van die probleem nl VOORSORG. Gee eerder opleiding en opvoeding daarin en laat mense verstaan dat om kinders te he om ‘n child grant te kry net ‘n tydelike oplossing bied en jou duur te staan gaan kom. Klinieke gee GRATIS mediese sorg vir ‘n kind, syt geen verskoning gehad nie. So MOEG om almal altyd jammer te kry. Vat verantwoordelikheid vir jou dade.

Jan ·

Kom ons raai, sy gaan niks oorkom nie, gaan met ‘n waarskuwing voor Kersfees uit wees en verder kinders maak.

Cherokee ·

Ag Jan, hierdie stories van ‘hy of sy gaan niks oorkom nie’ word nou vreeslik herhalend en dit dien geen doel nie want jou spekulering(s) dat sy niks gaan oorkom nie mag dalk waar wees maar dit gaan geen verskil maak aan die werklikheid nie. Al sê jy dit nog ‘n honderd keer sal dit nie verskil maak aan wat gaan gebeur net die vervolging van die saak nie.

Irene ·

Julle oordeel maklik. Die nota het gesê sy het nie geld om na die baba om te sien, en dat sy jammer is. Baie mense is nie opgevoed om goeie oordeel te gebruik in sulke gevalle nie. Sy het seker gedink iemand sal die baba maklik in die taxi vind.

Nee Irene ·

Jy weet dat hulle CHILD GRANTS kry ne? Dalk het sy die geld vir iets anders gebruik. Die KEY hier is, MOENIE KINDERS HE AS JY DIT NIE KAN BEKOSTIG NIE!! Siek kinders word deur klinieke en staatshospitale versorg, dis hoekom dit eerder raad as oordeel is. Die kind kon doodgegaan het, sou ons dan steeds nie mag oordeel nie?

Lou ·

Stem saam Irene. Ek kan dit nie goedpraat nie, maar ons ken regtig nie die werklike omstandighede nie.

Danielle ·

Ek stem saam met Irene, hulle oordeel te gou. Darem het sy ‘n nota en die medisyne gelos en nie in ‘n stormwaterdrein, plastieksak of langs die pad nie, wys dit dan nie tot n mate van liefde nie? Weet julle hoeveel n grant regtig is en hoeveel dit regtig kos om n kind aan die lewe te hou – duidelik nie. Het julle gedink sy was dalk ‘n verkragting slagoffer? Almal is nie ingelig oor opsies indien jy nie na die baba kan omsien nie. Onkunde is ‘n groot probleem nes jul onkunde oor haar omstandighede. Skaam julle.

foxi ·

Dis die maand van joltyd! Sy wil nie opgeskeep sit met n baba nou nie……die baba gaan mos in haar pad wees. En die baba is nog siek bygesê. Ag nee wat…..iemand anners sal mos haar vuilwerk doen. Nie eens n hond gooi haar kleintjies weg nie……wie dink sy is sy man!
Het die owerhede haar NIE gekry nie……het sy verseker WEER na die feestyd n boepmagie gekry!

Lizelle ·

Hierdie vrou was dalk verkrag en dis hoe die baba verwek is. Ek praat wat sy gedoen het glad nie goed nie, en met die “grant’ kan jy skaars ‘n blik melk en pak doeke koop. As die baba siek is is die ma tien teen een ook siek.

miv ·

Geen wonder hier’s nie vrede in ons land met so baie klipgooiers in ons midde nie! God sê in sy Woord ‘dra mekaar se laste en bid vir mekaar’.

Anne ·

Absoluut niks met vrede in ons land te doen nie, die belasting betaler se las raak nou net so bietjie te swaar om te dra. Vat verantwoordelik as jy kinders in die wereld bring en kyk self na hulle

Jakes ·

Was seker haastig oppad hospitaal vir bevalling. Bagasie onder sitplek vergeet? Loop maar snaaks in Afrika.

Witkpi ·

Ek dink daar is geen liefde in haar dade nie, sy kon die babatjie op n veilige plek gaan los het soos by n kinderhuis. Ek hoop sy kan nooit weer met haarself saamleef nie.

Paula ·

As jy nie in ander se skoene staan nie, weerhou jou self om te oordeel. Nie een van julle ken die omstandighede.

Hartseer ·

Weet julle wat neh..???

Sy het haar baba in die TAXI gelos waar sy weet IEMAND gaan haar baba kry met die nota en medisyne…

Sy is beter mens as die ander mense wat hul babas op ashope of toilette gooi laat hul doodgaan….

Ek glo nie iemand kan haar oordeel nie, wat is die verskil as sy haar baba los waar iemand hom/haar kan kry en of sy die baba voor iemand se voordeur gaan los???

Ten minste het sy nie die kind gelos in n veld of iets om dood te gaan nie….

Ouma ·

Ek stem heeltemal met jou saam. Sy het dalk ook aan nageboorte depressie gely. Dit moes baie gevat het om die babatjie daar te los. Ek voel so jammer vir haar. Sterkte aan haar en ook die kleinding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.