Ma veg om haar lewe ná varkgriep-diagnose en noodkeisersnee

Bianca Muller. Foto: Facebook

Bianca Muller. Foto: Facebook

ʼn Ma van Springs aan die Oos-Rand veg om haar lewe in die waakeenheid van die Parkland-kliniek nadat sy aanvanklik met die H1N1-virus, ook bekend as varkgriep, gediagnoseer is.

Bianca Muller (27) se babadogtertjie, Leané, is op 10 Junie met ʼn noodkeisersnee in die lewe gebring nadat Bianca met die H1N1-virus gediagnoseer is. Bianca se man, Johan, het Maandag aan Maroela Media gesê sy vrou het nou akute-asemnood-sindroom (in Engels bekend as acute respiratory stress syndrome of ARDS) ontwikkel én ’n hospitaalkiem opgedoen.

“Ek sien nie vandag kans om meer te sê nie, ek het net nie vandag die krag nie. Dit gaan nie goed met Bianca nie,” het hy gesê. Hy het bevestig dat dit goed met Leané gaan en dat sy sterk en gesond is. Hy het ook sy dank aan die personeel by Parkland-kliniek uitgespreek vir hul ongelooflike ondersteuning in hierdie moeilike tyd.

Bianca is glo kort voor Leané se geboorte na die hospitaal vir ʼn gewone ondersoek, maar is vir waarneming opgeneem omdat sy siek gevoel het. Bloedtoetse het getoon dat sy die H1N1-virus onder lede het en dokters het besluit om ʼn noodkeisersnee te doen. Bianca se toestand het daarna versleg.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is die H1N1-virus nou ʼn seisoenale griepvirus wat saam met ander virusse voorkom.

Nios het gesê daar is egter sogenaamde hoërisikogroepe wat komplikasies kan ervaar weens die H1N1-virus en dit sluit in kinders, veral onder twee jaar oud, swanger vroue, bejaardes en mense met chroniese siektes of onderliggende gesondheidsprobleme. Dit kan lei tot ander siektes soos ARDS.

Die simptome van die H1N1-virus is soortgelyk aan dié van sogenaamde gewone griep. Dit sluit in hoë koors, hoofpyn, spierpyne, keelseer en hoes. Dit sluit in sommige gevalle ook diarree en braking in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Christine ·

Baie sterkte, Johan. Ek hoop uit my hart dat Bianca hierdeur sal kom. Julle is in my gebede.

amanda strauss ·

Bja sterkte. Bianca hou aan veg asb ek het n 2de kans gekry in 2013 nadat ek ook n kiem in die teater opgetel het na n rugoperasie. Ek Bid vir jou.

Susan Oosthuizen ·

Baie sterkte Johan. My seun, ook Johan, het 2 jaar gelede vir 3 maande in MICU gelê ook met ARDS met vele virus infeksie. Vandag is hy met ons behalwe dat hy permanente longskade het. Hou aan met Glo en bid en ek verseker jou dat wonderwerke nog gebeur. Sterkte!!

Celeste ·

Rus in Vrede Bianca, Johan, Aan die dogtertjies Liané en Tasha, AnneMarie, Ilse, Ettienne, aan die hele Muller gesin, ons dink aan julle tydens die moeilike tyd van rou. Wees sterk, sy’s op ‘n beter plek……

Pam ·

Magriet, sy is n paar minute gelede oorlede.

Rus in hemelse vrede Bianca. Jou pyn en lyding is verby. Ons innige simpatie aan haar man Johan en twee dogtertjies asook haar familie. Mag God julle dra deur hierdie baie hartseer tyd van rou.

Miemie ·

Ek verwys na Celeste se kommentaar. Lees ek dan reg as sy se dat Bianca oorlede is? “Rus in vrede Bianca” In die berig is dit net van hoe siek sy is van die varkgriep. Ek hoop regtig nie dit is die geval nie.

Paul pretorius ·

Jammer om te hoor van jul verlies. Ons dink aan julle. Johan ek wou al met kere met jou praat daar waar jy jou vrou so bygestaan het. Maar ek het gevoel ek moet nie steur nie. Aan bianca se suster wil ek baie dankie se vir die vertroosting en ondersteuning wat sy aan my skoonsuster wat langs bianca gele het se dogter verleen het. Al het sy self so baie seer in haar het sy nog krag en moed om ander by te staan. Sterkte aan julle as familie in hierdie moeilike tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.