Ma veg verwoed vir seun met kanker

Jayvan Janse van Rensburg. Foto: Facebook via Support Jayvan Janse van Rensburg

Jayvan Janse van Rensburg. Foto: Facebook via Support Jayvan Janse van Rensburg

Carin Janse van Rensburg van Vereeniging, wat verlede jaar haar man verloor het tydens ʼn rooftog en etlike maande later gehoor het haar driejarige seun het beenkanker, het vandeesweek gehoor sy moet binne 16 dae meer as ʼn halfmiljoen rand insamel sodat Jayvan nie sy been verloor nie.

Jayvan is op 6 Januarie met beenkanker gediagnoseer. Carin het in ʼn emosionele onderhoud aan Maroela Media vertel die gesin sukkel om die mas op te kom en om die hartseer te verwerk. “Ek moes sedert my man se dood sorg dat die gesin kop bo water hou, terwyl ons almal die seer en verlies verwerk. Nes Jayvan beter raak, is daar weer ʼn terugslag,” het sy gesê.

Dokters het Carin vandeesweek ingelig die gewas in sy been het gekrimp, wat beteken hulle kan dit nou verwyder. Dit is egter nie so eenvoudig nie.

“Omdat Jayvan baie swak is, sal hy nie die operasie van ongeveer 10 ure oorleef nie. Sy bloedtelling was vandeesweek weer 0,02,” het sy verduidelik. “Twee spesialiste is dus nodig om gelyktydig aan hom te werk. Een spesialis moet die tibia in sy linkerbeen uithaal, terwyl die ander die femur in sy regterbeen moet verwyder.”

Met twee spesialiste behoort die operasie ses ure te duur. Carin sê die tibia van die linkerbeen sal die femur in sy regterbeen vervang, wat deurtrek is van kanker. “Sonder die operasie sal die dokter sy been moet amputeer. Dit is ʼn swaar las om jou seun in die oë te kyk en te weet dit is in jou hande of hy sy been gaan hou of nie.”

Jayvan kan ook nie later as einde Mei geopereer word nie, omdat hy reeds by sy vierde skof chemoterapie trek. “Indien hy nou geopereer word, sal die vyfde behandeling enige spore van kanker wat oor is, doodmaak.”

Sy sê haar mediese fonds het haar vanoggend ingelig hulle sal nie die volle operasie dek nie. “Hulle sien die operasie as kosmeties. Wanneer ʼn vrou borskanker het, word haar borste verwyder. Hulle skeer iets soos beenkanker oor dieselfde kam. Die medies is bereid om 40% tot 50% van die operasie te betaal.”

Volgens die dokters gaan die operasie meer as R1 miljoen kos. “Ek het nie soveel geld nie. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek is raadop. Hoe kan ek my kind se been laat amputeer?”

Carin sê al wat sy oor het, is gebed. “Al wat ek kan doen is bid en hoop daar is uitkoms. Ons bring al ons tyd op ons knieë deur. Net die tyd sal leer.”

Maroela Media het destyds berig Jayvan se pa Anton (52), is op 12 Augustus naby sy huis in Drie Riviere, waar hy en sy gesin skaars twee weke tevore ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en geskiet. Die skietery het gevolg nadat Anton een van sy seuns en hul twee huiswerkers te hulp gesnel het toe hulle deur dieselfde groep mans in die huis aangehou en beroof is.

Jy kan Carin kontak by 072 262 4674 of ʼn e-pos stuur aan [email protected]. Besoek Support Jayvan Janse van Rensburg op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Kan net saam met die mamma bid.

vierkleur

Is dit moontlik dat Maroela die bank rekening inligting kan plaas om donasies aan die dame te maak om te help met die kostes?

Ek is seke ons kan hierdei vrou in die moeilikke tyd bystaan?
Soledariteit, kom aan ons help altyd met donasies vir hofsake ens, wil julle nie bietjie inspring en die dame help nie?

Roxane

Ai dis so hartseer – Ek gaan die bank besonderhede probeer kry en sal dit dan met julle deel – Bid is net die een deel, ons moet ander mense bewis maak van die situasie en finansieel probeer help….

Gesiggie

Al wat ek kan doen is om n Gebed aan jou op te dra: Here stuur asb Engele oor die vrou se pad, Here U is Almagtig en ons weet as ons vra.. sal U antwoord, elke liewe leser wat die berig lees, weet wat hierdie gesin moet deurmaak, en alreeds deur gemaak het, Here sy het alreeds haar man verloor, moet nie toelaat dat nog Hartseer haar tref… U is Almagtig , U IS DIE VADER BO ALLE VADERS….. HEER ONS BID IN U NAAM,,. BRING N WONDERWERK OOR CARIN EN JAYVAN SE LEWE… DANKIE JESUS EN AMEN… STERKTE… Lees meer »

Lucy

Hoe op dees aarde kan mediese fonds hierdie operasie sien as “kosmeties”… daar is mos paneel dokters by elke mediese fonds wat moet besluit of enige prosedure nodig is, kan hulle nie motiveer dat hierdie seun se been en sy lewe afhang van hierdie noodsaaklike prosedure nie? Dis geensins “kosmeties” nie…!!!