Ma verdrink toe rivier haar motor meesleur

Die ma se motor wat deur die rivier meegesleur was (Foto: Verskaf)

ʼn 37-jarige ma het Maandag verdrink toe haar motor deur ʼn oorstroomde rivier digby die Vuvha-nedersetting in Limpopo meegesleur is.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die vrou het vroegoggend (tussen 06:00 en 07:00) haar kind langs die Tshedza-pad afgelaai sodat die kind openbare vervoer kan kry om skool toe te gaan. Op pad terug na haar huis in die Vuvha-nedersetting,het sy oor ʼn laagwaterbrug gery. Die brug strek oor die Mudzinga-rivier wat toe klaarblyklik aan die afkom was.

“Sy het blykbaar die brug probeer oorsteek, maar haar voertuig is deur die water meegesleur,” vertel Mojapelo.

Werkers wat ʼn entjie weg op ʼn vragmotor wat sand vervoer gestaan het, het gesien wat gebeur en dadelik die polisie in kennis gestel.

“Lede van die polisie se soek- en reddingspan is na die toneel ontbied. By hul aankoms op die toneel was die vrou se motor teen boomstamme aan die oewer van die rivier vasgespoel.

“Die vrou se liggaam is ongeveer 3 km van die motor gevind.”

Die polisie in Vhulaudzi, digby Thohoyandou, het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

Die polisie doen ʼn beroep op gemeenskappe om versigtig te wees wanneer hulle laagwaterbrûe wil oorsteek, veral wanneer riviere na swaar reënbuie sterk loop en die walle oorstroom.

“Wanneer die laagwaterbrûe met water bedek is, is dit byna onmoontlik om die diepte van die water te skat.”

Maroela Media het vroeër berig swaar reën het Sondagaand in Limpopo begin val en veroorsaak dat talle paaie en laagwaterbrûe oorstroom het. Teen Maandagoggend was talle paaie in die provinsie oorstroom en onbegaanbaar vir motoriste. Stormweer het veral verwoesting in die Musina-omgewing gesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

modiglianigirl ·

Dit is afgryslik. My hart gaan uit na die familie en haar kindertjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.