Ma vergiftig glo kinders, haarself

Die kinders, waarvan een ’n baba, was reeds dood met polisie se aankoms op die toneel. (Argieffoto: pixabay)

’n 31-jarige ma van Harrismith het Donderdag glo haar twee jong kinders vergiftig. Die ma, wie se naam nie bekendgemaak is nie, het glo self ook van die gif gedrink, maar die voorval oorleef.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 05:50 ’n oproep ontvang dat twee kinders by ’n huis in die informele nedersetting Tshiame C dood is.

“By die polisie se aankoms op die toneel het hulle op die liggame van die Dladla-sibbe, Rethabile (9) en Naledi (3 maande), afgekom.

“Die vrou, wat as die ma van die kinders geïdentifiseer is, het ’n ent verder op die vloer gelê.”

Volgens Mbambo het die vrou by ’n familielid se huis opgedaag met haar baba, wat glo toe al dood was, in haar arms.

“Dit blyk dat sy die kinders een na die ander tot by die familielid se huis gebring het waar sy glo gebieg het dat sy haar kinders en haarself gif ingegee het.”

Mbambo sê dat die vrou kort daarna ineengesak het.

“Sy is tans in ’n bedenklike toestand in die hospitaal.

“Die motief agter die moord en vermoedelike selfmoordpoging is onbekend en word tans deur die polisie ondersoek.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna ·

Siestog, dis desperate en so hartseer. Vroue van alle rasse wat alleen kinders moet grootmaak kry 90% van die tyd bitterlik swaar.. Mans verdwyn en vergeet dat daar kinders is wat moet eet en aantrek..
Die regering behoort baie harder op mans te wees wat nie hulle verpligtinge nakom teenoir hulle kinders nie.

Francois ·

Ek stem nie saam. Die howe moet ook strenger wees teen vroue wat hulle kinders los in n hut om heelnag te gaan kuier in shibines

Anoniem ·

Sal nogal graag wil weet wat was die Ma se beweegrede oor hierdie dade???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.