Ma vertel oor konflik met kleuter se moordenaar

Mortimer Saunders in die Wes-Kaapse hooggeregshof (28 Mei 2018). Foto: Henk Kruger/ANA

WAARSKUWING: Die berig bevat uiters grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Die saak teen Mortimer Saunders, wat erken het dat hy die 3-jarige Courtney Pieters vermoor het, is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel nadat die vermoorde kleuter se ma tydens haar getuienis in trane uitgebars en uit die hof verskoon moes word.

Saunders het vroeër Maandag erken dat hy Courtney vermoor het en het gesê hy was “geïrriteerd” met die kind weens konflik tussen hom en haar ma, Juanita Pieters.

Juanita is Maandag na die getuiebank geroep om te getuig oor die gebeure ʼn jaar gelede toe haar dogter vermis geraak en haar liggaam later in ʼn vlak graf aangetref is. Sy het egter in trane uitgebars voor sy haar getuienis kon afhandel. Sy is later buite op die hof se trappe gevind waar sy uiters emosioneel en erg siek geraak het.

Die saak is daarna tot Dinsdag uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Saunders het in ʼn verklaring wat aan die hof voorgehou is erken hy het Courtney ʼn jaar gelede in Elsiesrivier vermoor. Hy het in die verklaring onder meer erken dat hy Courtney miergif ingegee het voordat hy haar verwurg het.

Juanita was nie in die hof toe Saunders se verklaring voorgelees is nie. Sy het later tydens haar getuienis gesê sy en Saunders het nooit van mekaar gehou nie.

“Die rede hiervoor was omdat hy gereeld probleme tussen my en my kêrel, Aaron [Fourie], veroorsaak het. Wanneer Aaron drink, raak hy baie ongeskik en wanneer hy dronk was, het Mortimer altyd vir hom goed vertel wat ek dalk gesê het. Dan het Aaron hom geglo en met my ongeskik geraak en met my baklei,” het Juanita gesê.

Sy het gesê sover haar kennis strek het Saunders en Fourie saam grootgeword en was hulle baie goeie vriende.

Mortimer Saunders in die Wes-Kaapse hooggeregshof (28 Mei 2018). Foto: Henk Kruger/ANA

Saunders het vroeër gesê hy het ʼn kamer gehuur in dieselfde huis as waar Courtney en haar ouers gewoon het. Volgens Saunders is Courtney op 4 Mei 2017 in die sorg van haar broer gelaat en was hy [Saunders] ook die betrokke dag by die huis.

Hy het gesê Courtney het na sy kamer toe gekom en hy het vir haar gesê om te loop. Sy het later weer teruggekom en omdat hy “geïrriteerd” was oor die konflik tussen hom en Juanita, het hy die kleuter miergif ingegee. Hy het gesê die kleuter het begin hoes en toe sy hoor hoe die bure na haar roep, het sy probeer skree.

Volgens Saunders het hy besef hy kon nie toelaat dat Courtney in haar toestand gevind word nie aangesien die miergif haar nie net siek gemaak het nie, maar sou doodmaak. Hy het paniekerig geraak en haar verwurg voor hy ʼn handdoek om haar gesig gebind het.

“Ek het daarna omtrent ʼn uur lank in my kamer gebly,” het Saunders in sy verklaring gesê. Hy het hierna vir Courtney met sy vingers gepenetreer. Hy ontken egter dat hy haar met sy geslagsdeel gepenetreer het.

Hy het later haar liggaam in Epping se industriële gebied gaan stort.

Saunders het onskuldig gepleit op die aanklag van verkragting hoewel hy skuld erken het op aanklag van moord. Hy het egter aangevoer die moord was nie met voorbedagte rade nie. Die staat het egter dié skulderkenning verwerp en gesê die moord is wel met voorbedagte rade gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francis ·

Jys n siek mens!!! ek hoop jy kry lewens lank en word swaar gestraf!!!

GM ·

Ek sal die broer ook aankla. Hoe het hy niks agtergekom nie? Hoe kan iemand so siek wees om vir ‘n kind gif in te gee? En dan nog als doen wat hy gedoen het met haar liggaampie. Gee hom vir die ma om uit te sorteer!

Ronelle ·

Wat gaan in iemand se kop aan om tot sulke uiterstes te gaan??? Hoe slaap jy saans en hoe lewe jy elke dag met jouself?

Onnie ·

Siek! Siek! Siek! So ou moet hulle oorgee aan “bundu justice”. Die tronk is ‘n gans te lekker plek vir ‘n siek monster soos hy. Laat sy eie gemeenskap met hom afreken. Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand. Hoe kry jy so iets reg??? Dis mos nie menslik nie.

Onnie ·

En ek glo nie jou flou verskoning dat sy jou geirriteer het nie. Jy het laaaaankal met die vuil gedagtes gesit. Hoekom anders het jy die arme kind se liggaampie seksueel misbruik?? Sies jou liegmond, praat ‘n slag die waarheid. As my mans genoeg was om jou “af” behoeftes op die lyk van ‘n 3 jarige te bevredig, dan moet my mans genoeg wees om die volle waarheid te praat. Nie nou flou verskonings soek om jou straf ligter te maak nie.

Nettie ·

Jammer dat ek dit reguit sê – maar ek dink daardie arme dogtertjie is ook maar beter af waar sy nou is (in die Hemel, by Jesus). En voor die ander kommentators my hier wil doodskiet: ek het baie simpatie met haar ma en die gesin se verlies en wens dat die regter hierdie siek, siek verskoning van ‘n man die langste tronkstraf moontlik sal oplê.

As ek egter so luister na wat die Ma getuig het, kan ek nie dink dat haar lewetjie een van liefde, lag, speel, oorvloed ens. was nie. ‘n Ma se “boyfriend” wat drink en dan as hy gedrink was, geluister het na die onwaarhede wat dié moordenaar kwytgeraak het en dan dan op die kind se ma uitgehaal het ……

Maar ….. aan die anderkant, dit is die daaglikse lewe van baie mense op die “flats” en in gebiede soos Elsies.

LB S ·

Dit is die probleem, die daaglikse lewe op die Kaapse Vlaktes. My hart gaan uit aan al die onskuldige kindertjies, en familie wat gebuk gaan deur hierdie geweld. Vir hulle is dit ‘n alledaagse verskynsel. Hoe verskriklik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.